Hendrika Jooste en Robyn Vogels
Kultuurskok beïnvloed almal, maar dit kan vir party mense erger wees as ander.
Een dag, in Port Melbourne, het ek vir Magda, ’n nuwe aankomeling van Durban ontmoet. Hulle was toe reeds vir agt weke in Australië, het ’n huis gekry, dit het goed gegaan met haar man se nuwe werk en die kinders was in die skool. Maar Magda het ’n oorweldigende gevoel van hartseer beleef. Nie lank nadat ons gaan sit het nie, het die trane in haar oë opgewel. Sy was feitlik ontroosbaar. Sy het hartseer, alleen en waardeloos gevoel en sy het haar vriende en familie asook alles wat vir haar normaal was, gemis. Die res van haar gesin was OK, maar sy het selfs skuldig gevoel omdat sy hartseer was. My woorde aan haar was: “Magda, dit is normaal,” terwyl ek my servet vir haar aangegee het en dankbaar was dat ons tafel aan die agterkant was sodat sy kon uiting gee aan haar emosies by my, wat feitlik ’n vreemdeling was. “Magda, dit word kultuurskok genoem en dit is normaal.”
Elke immigrant of toeris ervaar “kultuurskok” wanneer hulle hul bekende omgewing verlaat.
Kultuurskok is tot in 1960 beskou as ’n konsekwente negatiewe ervaring, amper soos ‘n siekte of ’n kwaal. Die Kanadese antropoloog Kalervo Oberg wat die begrip bekend gemaak het, het dit redelik eenvoudig beskryf as “angs as gevolg van die verlies van al jou bekende tekens en simbole van sosiale omgang”.
Wat is jou bekende tekens of aanwysings?
Dit kan enige van die duisende maniere wees waarmee ons onsself in alledaagse situasies in ons lewens orienteer sonder om bewustelik daaroor te dink, soos:
- bekende plekke: die pad wat jy ry na jou huis toe of na ’n vriend se huis toe, jou huisdokter en bakkery
- bekende gebare: handdrukke, liggaamstaal en maniertjies
- persoonlike waardes: jou waardes of persoonlikeidstipe word dalk nie in ’n ander land gerespekteer nie
Wanneer jy jou in ’n vreemde of nuwe kultuur bevind, word al jou onbewustelike of bekende verwysings verwyder. Jy is soos ’n vis buite die water. Dit maak nie saak hoe voorbereid of ontvanklik jy is nie, jy sal gevoelens van frustrasie en angs ervaar.
Kultuurskok is ’n baie individuele proses en hang af van intrapersoonlike faktore soos:
- ouderdom
- vorige reiservarings
- taalvaardighede
- vindingrykheid
- onafhanklikheid
- uithouvermoë
- gesondheid
- ’n ondersteuningsnetwerk
Oberg het ook verder gesê dat kultuurskok uit vier duidelike fases bestaan waartydens ’n mens se emosies op en af kan beweeg. Dit staan bekend as die “W-kurwe” of mallemeulerit van kultuurskok. Die fases is:
Wittebroodfase: jy sien elke dag se nuutgevonde ervarings deur ’n rooskleurige lens.
Onderhandelingsfase: wanneer jy besef en daarvan bewus word dat jy anders is in hierdie nuwe samelewing.
Aanpassingsfase: jy verkry ná die eerste jaar ’n meer gebalanseerde perspektief.
Aanvaardingsfase: soos wat een dag tot ’n volgende dag oorgaan, begin dit jou angs verlig. Jy begin daarin slaag om in twee verskillende kulture te funksioneer en begin voel dat jy iewers behoort.
Dit is onteenseglik waar dat hierdie belewenisse tot depressie kan lei. Daar is maniere om die uitwerking van kultuurskok te verminder as jy besef dat dit jy dit gaan deurgaan. Dus: geluk dat jy tot hier gelees het, nou moet jy jouself bemagtig deur voorbereid te wees. Hier is ’n paar dinge wat ek sou voorstel:
Doen soveel as moontlik navorsing oor die nuwe kultuur. Jy kan dit maklik doen deur daaroor na te lees, internetsoektogte, potgooie, deur na plaaslike radiostasies en die nuus te luister oor die internet. In Australië byvoorbeeld, hou hulle daarvan om vir hulleself te lag en TV-programme soos Have you been paying attention is ’n humoristiese manier om meer oor die land en sy mense te leer. Selfs ’n land soos Australië, wat in baie opsigte met Suid-Afrika ooreenstem, het ook kulturele nuanses.
Raak betrokke in gemeenskappe. Jy kan dit doen saam met medelandsgenote wat vir jou raad kan gee of plaaslike gemeenskappe of groepe wat dieselfde belangstellings as jy deel. As jy daarvan hou om te verf of met die honde te gaan stap, soek sulke groepe en hoor of jy by hulle kan inskakel. Behalwe hiervoor moet jy ook vrae vra – mense hou daarvan om oor hulself te praat en is gewoonlik gewillig om ’n nuweling te help verstaan hoe dinge werk.
Die belangrikste is om te vra vir hulp as dit nodig is. As jy byvoorbeeld oorsee gaan met ‘n werksgeleentheid, vra die menslikehulpbronnepersoneel of jy kan toegang kry tot ’n kulturele praatjie of inligting. Daar is baie transkulturele kenners op die gebied. Ons het met Patti McCarthy, die outeur van Cultural Chemistry hieroor gesels: “Die eerste 12 tot 18 maande kan ’n emosionele wipplank wees en ’n afrigter kan jou help met realistiese verwagtinge en goeie hanteringstrategieë. Die kennis en vaardighede wat jy by die huis as vanselfsprekend aanvaar het, is dikwels nie meer van toepassing nie dit kan jou selfvertroue ’n knou gee; wat daartoe kan lei dat jy sukkel om jou take te bemeester en jou verhoudings onder baie meer druk kan verkeer.”
Kultuurskok sal wel oorwaai, maar hoe vinnig dit gebeur sal egter afhang van jou vermoë om dit raak te sien en deur die fases daarvan te gaan. Moet nooit jouself met iemand anders vergelyk nie. Sommige mense pas makliker aan, terwyl ander meer tyd nodig het, maar die meeste mense kom wel deur die krisis. Die regte interkulturele opleiding en gevolglike interkulturele bekwaamheid help baie tydens die kultuurskokproses, maar dit is feitlik onvermydelik dat mense dit gaan beleef.
Daar is nie ’n towerformule wat jy kan gebruik om kultuurskok te voorkom nie, aangesien elke persoon in elke samelewing op ’n persoonlike vlak anders beïnvloed word deur hierdie kulturele verskille. As jy die tekens ken en kan erken hoe jy voel, het jy reeds die eerste tree geneem om jou kultuurskok te bestuur. As jy egter soos Magda nie weet dat daar so iets bestaan nie, gaan jy onvoorbereid wees daarop. Weet wat om te verwag: jy sal minder stres beleef en dit sal jou ’n beter uitkyk op alles gee.
Hendrika Jooste en Robyn Vogels is die skrywers van die Amazon-topverkoper Your DIY Move Guide to Australia. Hulle het ’n uitgawe gepubliseer wat spesifiek op Suid-Afrikaners gerig is, asook ’n uitgawe wat enigiemand kan lees. Die Suid-Afrikaanse boek word van Durban af via Amazon versprei.