Moenie vlieg sonder ’n vangnet nie …

29/06/2021
| Deur Alana Bailey
family-in-airport-royalty-free-image-1580838135

Deur Alana Bailey

Soos die wêreld teen wisselende tempo’s deur COVID-19-golwe beweeg, is grense soms weer meer, en ander kere minder oop. Dit kom voor asof immigrasiesyfers internasionaal weer styg. Soms is dit mense wat reeds in 2020 sou verhuis, maar deur die COVID-19-inperkings verhoed is. Ander kere is dit mense wat deur huidige omstandighede oortuig word om hulle heil elders te gaan soek. Die doel van hierdie artikel is nie om enige persoon se keuse te beoordeel of veroordeel nie, ook nie om oordrewe negatief te klink nie, maar bloot om ’n paar praktiese sake te noem waaraan mense wat immigrasie oorweeg, moet dink om ’n ingeligte keuse te maak.

1. Werkloosheid styg wêreldwyd 

Volgens die jongste statistiek wat ons kon opspoor, styg werkloosheid wêreldwyd. Die stygings lyk dalk nie dramaties nie, en die persentasies vir die meeste lande is baie laag in vergelyking met Suid-Afrika, maar selfs so ’n klein styging kan honderdduisende of selfs miljoene mense raak. Sien byvoorbeeld die werkloosheidspersentasies van enkele van die mees gewilde bestemmings vir Suid-Afrikaanse emigrante in 2019, in vergelyking met die jongste beskikbare syfers van vanjaar:

  2019 2021
Australië 5.3% 10.3% (Mei)
Nieu-Seeland 3.9% 4.7% (Maart)
Europese Unie 7.4% 8% (April)
VK 3.85% 4.7% (April)
VSA 3.68% 5.8% (April)
Kanada 5.7% 8.2% (Maart)

 

2. Laaste in, eerste uit

In baie lande en maatskappye geld die beginsel van laaste in, eerste uit, met ander woorde as jy die mees onlangse instelling is, is jy die eerste wat moet gaan as personeel besnoei word.

3. Lojaliteit lê dikwels by eie burgers eerste

Met werkloosheid wat styg, gaan enige Suid-Afrikaner wat onlangs geïmmigreer het, met die plaaslike gemeenskap se werkloses kompeteer. Veral as jy nog nie ’n plaaslike werksrekord het nie, gaan die keuse baie moeilik op jou val, tensy die werk so gespesialiseerd of so onaangenaam is, dat die land nie juis werkloses het wat met jou kan of wil kompeteer nie.

By die Amerikaanse Statue of Liberty word reëls uit die gedig The New Colossus van Emma Lazarus aangehaal wat lui “Give me your tired, your poor, Your huddled masses yearning to breathe free, The wretched refuse of your teeming shore.”

In die werklike lewe word immigrante selde in dieselfde romantiese lig beskou. Hulle word dikwels gesien as mededingers om skaars hulpbronne, of selfs as opportuniste. Moet dus nie verwag dat spesiale oorweging aan die nood van ’n Suid-Afrikaner of Suid-Afrikaanse gesin op vreemde bodem geskenk gaan word nie.

4. Maatskaplike hulp is nie noodwendig vir buitelandse burgers toeganklik nie

Hoewel baie lande uitstekende sorg vir hulle burgers en ander inwoners beskikbaar stel, soos mediese sorg of toelae in geval van werkloosheid, is dit nie outomaties vir almal beskikbaar nie. Soms word dit gekoppel aan jou status in die land (jou tipe verblyfpermit) of selfs aan hoe lank jy reeds daar woon.

5. Ander Suid-Afrikaners is nie ’n vangnet nie

Suid-Afrikaners in die buiteland sorg soms nogal op wonderlike wyse vir mekaar, maar dit is vrywillige hulpverlening wat nie gewaarborg kan word of onbeperk sal aanhou nie. Dit geld selfs wat jou eie vriende en familie in die buiteland aanbetref.

6. Ongelukke gebeur ongelukkig

Die ou spreekwoord lui dat daar geen waarborge in die lewe is buiten belasting en die dood nie. Ongelukke kan nie altyd voorspel word nie – iemand met die beste werksaanbod kan skielik val en sy rug breek, of ’n voortslepende siekte soos kanker kry, skielik om ’n egskeiding gedagvaar word, of uitvind die agent deur wie hy immigreer het, is ’n bedrieër.

7. Grense kan enige tyd weer sluit

Omdat COVID-19-regulasies in alle lande deurentyd aangepas word, kan grense weer sluit, wat beteken dat ’n mens in ’n ander land, of met jou terugkeer na Suid-Afrika, dalk vir ’n vasgestelde tyd in kwarantynfasiliteite aangehou mag word – dalk selfs op jou eie koste. As daar nie vir die gebeurlikheid voorsiening gemaak is nie, kan dit rampspoedig vir jou begroting wees.

Hoe nou gemaak?

Die antwoord is om te kyk watter vangnette bestaan.

Moet in die eerste plek nie brûe in Suid-Afrika verbrand voor jy vertrek nie. Hou jou verhouding met vriende, familie, kollegas en werkgewers goed.

Moet ook nie skuld agterlaat wat vervolging mag beteken as jy sou moes terugkeer nie. Vertrek met ’n skoon blaadjie.

Moenie polisse afkoop of eiendom verkoop voor jy doodseker is dat jy nie gaan terugkeer nie.

Vind uit watter versekering alles beskikbaar is, byvoorbeeld in geval van siekte vir mediese sorg en in geval van langdurige of permanente ongeskiktheid vir repatriasie of plaaslike sorg. As dit aan jou werksaanbod gekoppel is, vind uit wat sou gebeur as jy skielik afbetaal sou word.

Al is julle huwelik hoe gelukkig, maak seker watter beskerming een lewensmaat sal geniet as die ander een sou wegval, om watter rede ook al.

As jy deur ’n agent werk, maak seker daar is voldoende onafhanklike bewyse van die persoon of maatskappy se betroubaarheid.

Doen ook navorsing oor die bestemmingsland se arbeidswetgewing. Gesels vooraf met ander Suid-Afrikaners daar om te hoor hoe hulle dit ervaar – nie vriende en familie nie, maar mense wat onbetrokke is by jou en aan jou ’n eerlike mening sal gee. Net omdat ’n land in die sogenaamde Eerste Wêreld is, beteken nie noodwendig dat die wetgewing daar meer beskerming vir ’n werknemer as in Suid-Afrika sal bied nie.

Om te migreer is een van die mees ingrypende en duurste besluite in ’n individu of gesin se bestaan. Bogenoemde klink besmoontlik na ’n klomp moeite, maar mag dalk net die verskil tussen voorspoed en ’n ramp beteken.

Lees ook: Vlugtelingstatus nie ’n maklike skuiwergat nie

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels