Uit en tuis: ’n e-pos uit Finland

29/05/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit Finland

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het en weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigiemand wat hul belewenisse wil deel.

Hierdie week gesels ons met Carine Steyn, wat tans saam met haar gesin in Finland woon.

Waarom Finland?

Hallo Carine, dit is heerlik om met jou te gesels. Waarom het julle juis Finland gekies?

My man werk al 22 jaar vir ’n Finse maatskappy en hulle het vir ons die geleentheid gegee om ons hier te kom vestig.

Vertel ons van jou gesin

Ek en my man is al 18 jaar getroud en ons het drie kinders van onderskeidelik 16, 14 en 6 jaar oud. Die oudste volg tans ’n beroepsgerigte sjef- en spysenieringskursus, in plaas van matriek, aangesien die onderrig in Fins is. Hier kan kinders ná drie jaar by ’n universiteit aansluit in hul gekose rigting.

Ons middelkind is in graad 8 in ’n internasionale skool, en die jongste is in ’n Finse kleuterskool en begin in Augustus met graad R. Die skooljaar strek van Augustus tot Mei, met somervakansie daarna.

Die emigrasie-ervaring

Ons het deeglik navorsing gedoen voor ons die besluit geneem het. My man het reeds vir werk gereeld hierheen gereis en vriende gemaak, wat ons gehelp het om ’n realistiese beeld van die lewenskoste en lewenswyse te kry.

Die grootste aanpassing was die taal – baie Finne verstaan glad nie Engels nie. En natuurlik die weer: dit is nege maande van die jaar winter, met donker dae en net twee maande somer. In die winter kom die son eers 09:30 op en sak al teen 16:00, terwyl dit in die somer byna heeldag lig is.

Werklewe in Finland

My man werk aan die programmering van ondergrondse masjiene en boortoerusting wat vanself ondergrond loop en van ’n afstand af beheer kan word. Ek het ná ’n jaar wat ek die taal geleer het ’n sjefskursus voltooi om my Baccalaureusgraad te kry en werk nou in ’n restaurant wat middagetes bedien.

In Finland het elke werk waarde, ongeag die posisie. Die werk hiërargie is redelik plat, en hulle is baie erg op werksgelykheid en dat alle werkers ’n stem moet hê. Lidmaatskap van ’n unie is ook voordelig – hulle betaal selfs ’n salaris indien jy tydelik nie kan werk nie.

Onderwys en kinders se aanpassing

Die kinders het baie goed aangepas in Finland, waar die skole wêreldwyd as van die beste beskou word. Die onderwysstelsel fokus op leer deur speel en praktiese ervaring, met gereelde uitstappies en werkservaring vir graad 8- en 9-leerders. Vakke soos kuns, handwerk (insluitend hout- en naaldwerk vir almal) en huishoudkunde vorm deel van die kurrikulum. Ouers bly ingelig en in kontak met onderwysers via ’n selfoontoepassing wat huiswerk, afwesighede en kommunikasie vergemaklik.

Sosiale lewe en vriendskappe

Die mense in Finland kan aanvanklik terughoudend en nors voorkom, aangesien hulle baie waarde aan privaatheid heg en nie maklik gesels nie. Maar sodra hulle jou leer ken, is hulle lojaal en betroubaar. Ons is gelukkig om ’n groep Suid-Afrikaanse vriende naby ons te hê, asook goeie Finse vriende.

Wat mis julle van Suid-Afrika?

Die grootste gemis is om fisies kerk toe te gaan in Afrikaans, asook ons familie en vriende. Ek sou hulle graag almal hierheen wou bring. My gunstelingherinnering van Suid-Afrika is al die lekker kuiers saam met vriende en familie.

Afrikaans in die buiteland

Ons huistaal is steeds Afrikaans. Die jongste praat Engels tuis maar verstaan Afrikaans volkome, en gebruik Fins in die kleuterskool. Ons kyk steeds elke Sondag kerk in Afrikaans op ’n YouTube-kanaal en hou huisgodsdiens. Ons braai ook nog gereeld, selfs in die sneeu. Ons het baie van ons Afrikaanse resepteboeke saamgebring waaruit ons gereeld vetkoek, pannekoek, frikkadelle, ens. maak.

Lewenskoste en leefwyse

Die lewenskwaliteit is baie goed – belasting is hoog, maar dit word reg aangewend: gratis skole, universiteite en uitstekende staatsgesondheidsdienste. Ons leef veilig – geen heinings, geen tralies nie. Kinders beweeg selfstandig en veilig in die omgewing.

Lewenskoste is egter baie hoog. Vleis soos filet kos €25–€40 per kg, en brandstof ongeveer €1,80 per liter. Dit is onvergelykbaar met Suid-Afrikaanse pryse as jy dit in rand sou omskakel.

Ons het in ’n gemeubileerde woonstel gewoon toe ons pas aangekom het, daarna ’n huurwoonstel, en toe ’n huis gekoop – kleiner as wat ons in SA gehad het, maar met ’n ewe groot erf. Ons geniet die natuur met diere soos eekhorings, hase en selfs bokkies in die tuin.

Familieverhoudings

In byna vier jaar het ons Suid-Afrika twee keer besoek. My ma het ons vroeër vanjaar hier besoek. Ons gebruik WhatsApp-video-oproepe om gereeld kontak met ons ouers te hou.

Suid-Afrikaanse produkte en dienste

Ons koop soms Suid-Afrikaanse produkte soos Ouma-beskuit en ProNutro aanlyn vanuit Swede. Ons maak ook self biltong en vra besoekers uit Suid-Afrika om iets saam te bring. Dienste in Afrikaans is skaars – meestal moet ons met Engels of Fins klaarkom.

Interessante feite oor Finland

  • Finland het meer as 1 000 mere – 75% van die land is bedek met woude en water.
  • Dit het die hoogste koffieverbruik ter wêreld.
  • Daar is meer saunas as motors – oor die 3 miljoen!
  • Finland is vir die agtste keer as die gelukkigste land ter wêreld aangewys.
  • Daar is dele in Finland op in die noorde waar die son vir twee maande nooit ondergaan in die somer en nooit opkom in die winter nie.

Lesse geleer

Jy kry nie iets soos slegte weer nie, net sleg beplande kleredrag. Hier gaan die mense uit en gaan doen goed in die natuur, maak nie saak wat die weer is nie. Kinders speel buite, of dit nou sneeu, reën of die son skyn.

Slotgedagte

Hulle sê die gras is nie altyd groener aan die anderkant nie, en dis waar, elke land het maar sy eie probleme, maar ons is glad nie spyt ons het die groot stap geneem om uit Suid-Afrika te kom nie, veral vir ons kinders se toekoms se onthalwe.

Deel op

Nuutste artikels