Uit en tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Theo Truter wat in Haarlem, Nederland woon.
Hallo Theo, van waar in Suid-Afrika is julle en waarom het julle besluit om in Haarlem, Nederland te gaan woon?
Deneysville aanvanklik, daarna Benoni, Edenvale en Vanderbijlpark. Geldelike tekort en die toenemende geweld.
Julle woon sedert 2018 in Haarlem. Vertel ons hoe jy die emigrasieproses ervaar het. Was dit ’n groot aanpassing?
Ja! Aangesien my vrou in Nederland gebore is, was dit vir haar geen moeite nie, maar my Suid-Afrikaanse nasionaliteit was wel ’n struikelblok.
Selfs die immigrasiebeamptes het reguit gesê ek kan slegs 90 dae vertoef en ek moes dus na Suid-Afrika teruggekeer. Maar gelukkig het ons ’n instansie in Amsterdam gevind, bekend as Regshulp wat gratis hulp aanbied. My vrou het ’n afspraak gemaak en daar aangekom met al die dokumentasie wat sy kon vind. Die jong man daar het die korrekte aansoek uitgewys. Intussen het sy ook by die plaaslike munisipaliteit (bekend as die gemeente) uitgevind dat my volledige geboortesertifikaat en ons trousertifikaat meer as 90 dae oud was en dus nie aanvaarbaar was nie. Op ander gemeentes het ander Suid-Afrikaners nie daardie struikelblok teëgekom nie.
Ek het intussen nuwe sertifikate in Suid-Afrika bekom en dit per vriendelike Suid-Afrikaners na Schiphol lughawe gestuur, waar my vrou dit by die persoon kon kry.
Daarmee het sy die aansoek weereens by die munisipaliteit ingedien (ná ’n lang wagperiode vir ’n afspraak), gevolg deur nog ’n lang wagperiode vir ’n afspraak by IND – Binnelandse Sake om die dokumente in te dien.
Na ’n paar weke is sy per brief in kennis gestel dat die aansoek suksesvol was en moes sy die fooi betaal. Daarna het ek ’n afspraak by die Nederlandse ambassade in Pretoria aangevra en weereens weke gewag daarvoor. Op die gegewe dag was die nodige MVV- (Machtiging tot voorlopig verblijf) sertifikaat in my paspoort geplak. Daarna kon ek dadelik ’n vliegkaartjie koop en drie dae later het ek op Schiphol aangekom. Daar is ’n baie belangrike vereiste nl. dat daar bewys gelewer moet word dat mens in oor genoeg verblyfsfondse beskik, sowel as ’n vaste adres!
Praat julle nog Afrikaans en wat beteken jou Afrikaanse wortels vir jou?
Ja, ons praat steeds Afrikaans, maar tuis praat ons Engels met mekaar en partykeer ook Hollands! Ek behou steeds van my Afrikaanse wortels omdat ek nog familie en vriende in Suid-Afrika het. Ek lees en skryf Nederlands en vorder fluks met die aanleer van die taal hier. Daar is heelwat verskille, wat verbasend vir my is!
Enige lesse wat julle geleer het?
Heelwat, maar die belangrikste les is dat die mense hier baie reguit is, wat ons as onbeskof beskou. Sodra jy daaraan gewoond raak, vind jy uit dis maar net hoe hulle is!
Hoe verskil die leefwyse en lewenskoste van dié in Suid-Afrika?
Jou eerste besoek aan die supermarkte is baie verwarrend. Meeste voedsel is in klein formaat verpak wat beteken dat jy elke paar dae inkopies moet doen.
Lewenskoste is hoog, veral omdat die wisselkoers van die Suid-Afrikaanse rand na die euro bykans twee tot een is. Woninghuur is peperduur, indien jy iets paslik kan opspoor! Dis belangrik om aanvanklik ’n gemeubeleerde woonplek te kry.
Vergeet daarvan om al jou meubels na Nederland te verskeep. Dit is moeilik om groter meubels en ’n groot yskas, vrieskas, wasmasjien by die baie nou trappe op te tel; dit is feitlik nie doenbaar nie! Al jou kragproppe pas net nie hier nie, dus moet jy dit vervang met die ronde tweepenprop van hier. Ons het stadig tweedehandse huisware bekom en was ook gelukkig om daarvan verniet te kry. Die mense hier koop nuwe goed en gooi die ou goed dikwels weg.
Indien jy gelukkig is, sal hulle die goed op “Gratis af te halen” op Facebook plaas, of dit op straat sit om vroeg deur die reinigingsdiens opgetel te word. Regoor Nederland vind jy sogenaamde kringloopwinkels wat tweedehandse huisraad in voorraad het. Die voorraad is aan hulle geskenk, dikwels uit boedels of deur ou mense wat verhuis na ’n tehuis.
Is daar enige Suid-Afrikaanse ondernemings (winkels, restaurante, dienste) naby wat julle graag ondersteun?
Regoor Nederland is daar ondernemings met Suid-Afrikaanse eienaars. Hier in Haarlem byvoorbeeld is daar Tuis-kombuis wat Suid-Afrikaanse produkte in voorraad het, bv. biltong, boerewors, melktert, Castle-bier, koeksisters ens.
Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Nederland. Kom julle soms bymekaar?
Nie ons nie, maar Suid-Afrikaanse groepe is oral in Europa gevestig en ek sien heelwat uitnodigings op Facebook vir ’n samekoms en braai.(Nederlanders nes die Engelse, ken nie die woord braai nie – slegs barbeque
Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika? Wat is die een ding wat jy wens jy in jou tas kon pak toe jy geëmigreer het?
Die natuur met gebergtes en die wild. Onthou Nederland is baie plat, want dit was meestal herwin van die riviere en die Noordsee. Hulle baklei aanhoudend teen die water.
LEES OOK: ’n e-pos uit Cornwall in Engeland
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook ’n Uit en tuis-rubriek vir ons skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
Deel op
Nuutste artikels