Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigiemand wat hul belewenisse wil deel.
Hierdie week gesels ons met Adri van Eck, wat in Tavira, Algarve, in Portugal woon.
Wat het jou laat besluit om Suid-Afrika te verlaat – en hoekom juis Portugal?
Dit was net ek, my Scottie-hond en drie tasse wat Portugal toe is. My besluit was gegrond op die feit dat my kind en kleinkinders in Nederland woon – nou is ek baie nader aan hulle. Ek probeer elke drie maande daar gaan kuier.
Hoekom het jy spesifiek Tavira gekies bo ander dele van Portugal?
Ek het aanvanklik in Lissabon geland, noord van Lissabon, in ’n pragtige gerestoureerde wynkelder waar ek geïsoleer het vir ʼn paar weke – dit was tydens die pandemie.
Daarna het ek suidwaarts getrek en ’n ruk in Sagres gebly, die westelikste punt van Portugal. Vervolgens het ek in Vilamoura gewoon, ’n lieflike dorp met ’n pragtige hawe. Later het ek in verskeie plekke in Tavira gebly en uiteindelik ’n klein woonstel hier gekoop. Daar was nie ’n spesifieke rede waarom ek in Tavira beland het nie – dit het net so uitgewerk.
Vertel ons meer van jou gesin.
My dogter is agt jaar gelede oorlede, en dit het my heeltemal uitgeput. Ek het besluit om as onderwyser af te tree en my toekoms saam met my seun en kleindogters te bou.
Hoe het jy die emigrasie aangepak? Was dit moeilik om die proses te begin?
Die proses was nie noodwendig moeilik nie, maar wel uitgerek, frustrerend en vol administratiewe hindernisse. Daar was baie oproepe, papierwerk, ryery – en dan natuurlik die prosedures rondom my hond: uitgerekte toetse by die veearts, wat baie papierwerk insluit. Ek het alles self gedoen sonder ’n agent, maar het later besef ek het nie regtig geld gespaar nie.
Watter emosies het jy ervaar in die tyd voor vertrek?
My emosies was meer gefokus op die hoop om emigrasiegoedkeuring te kry, eerder as op wat ek agterlaat. Dis eers later dat die werklikheid begin insink het.
Wat was die grootste uitdaging toe jy pas aangekom het?
My grootste bekommernis was my hond: is sy veilig, is sy oorgeplaas op die regte vlug, hoe voel sy? Ek moes haar groot hok en drie tasse op ’n trollie balanseer – dit was uitputtend. En dan die taal – ná vier jaar sukkel ek steeds daarmee.
Waarvan hou jy die meeste aan Tavira – is dit die natuurskoon, gemeenskapsgevoel of iets anders?
Tavira is ’n lieflike, mooi dorp. Dit is ’n baie gewilde aftreedorp ook. Mense van oor die wêreld bly hier, veral Amerikaners en Engelse. Die Gilãorivier loop deur die dorp. Tavira lê langs die see, maar jy moet oor die Ria Formosa gaan om by die strand uit te kom. Die Ria Formosa is meer soos ’n meer as ’n rivier en strek oor baie kilometers. Ons gebruik bote om oor te roei na die strand toe; een strand het selfs ’n mooi klein treintjie waarop jy kan ry tot by die strand, of jy kan ongeveer 2 km stap tot daar. Tavira is baie stil in die winter. Die Portugese winkeleienaars sal sommer hulle winkels toemaak gedurende die wintertyd. Somertyd bars dit gewoonlik uit die nate. Dit is vakansiegangers, feeste, karnavalle, markte, ens. Die weer is natuurlik baie warm en vogtig, baie soos die Suidkus in Suid-Afrika oor Desembermaand! Tavira is ongeveer 40 km vanaf die Spaanse grens.
Julle het ʼn Afrikaanse vriendekring wat uit 32 mense bestaan en een maal per maand saam kuier. Vertel ons meer?
Dis ’n interessante storie! Drie jaar gelede het ek op ’n aanlyn groep gevra of daar dalk iemand is wat Afrikaans praat. Ek het toe ’n dierbare vrou en haar man ontmoet.
In Januarie 2025 verkoop ek van my huisraad. ’n Afrikaner koop my matras, en ’n week later koop ’n ander Afrikaner my eetkamertafel. (Ek het my eie goed uit Nederland laat kom, wat ek saam met my seun se krat gestuur het.) In die winkelsentrum hoor ’n gesin ons praat Afrikaans, by die Portugese taalaandklasse sit ’n Afrikaner langs ons. Ek het toe ’n WhatsApp-groep begin en elkeen het weer vriende bygevoeg. Vandag is ons ’n groep van 32 mense wat een keer per maand saam kuier – of dit nou braai in die berge is of saam koffie drink in die winkelsentrum.
Hoe lyk die alledaagse lewe daar? Wat doen jy op ’n tipiese Saterdag?
Dit het ’n “vakansiegevoel” omdat ’n mens op die sypaadjies koffie drink en met ’n boot moet vaar na die see of met die trein ry na die dorp. Daar is ook baie stalletjies met klere en allerlei fieterjasietjies wat te koop is op die strate. Daar is soms nie eens ’n kassier in sig nie. Hier word niks gevat wat nie joune is nie. Mense wag ook nie vir die Boeing om oor te vlieg nie. Dit is ’n algemene ding om ’n bier reeds vroegoggend op die tafeltjie te sien. Mense kuier dikwels eers van 11-uur in die aand tot die vroeë oggendure.
Hoe vergelyk die lewenskoste en verblyfopsies in Portugal met dié van Suid-Afrika?
Vir iemand wat in rand verdien het, is dit duur. Huurpryse styg drasties in die somer – jy sal niks onder €800 per week kry nie. In die winter daal dit weer met tot €300. In die platteland is dit goedkoper, maar daar is weer ander uitdagings. Water en elektrisiteit is goedkoop – ek betaal minder as €20 per maand, en treinritte is goedkoop. Ek het gratis mediese sorg, al is dit ’n frustrerende proses.
Is daar iets wat jy wens jy vroeër geweet het oor die emigrasieproses?
Ek het ’n paar items in my seun se krat gelaai. Dit was onnodig; ek moes niks oorgebring het nie.
Watter kulturele verskille het jou verras of uitgedaag?
Ek het aangepas by die stadige pas van die Portugese. Hier is niemand haastig nie, want blykbaar is môre (en volgende week) nog ’n dag. Treine en mense is byna altyd laat – ’n Portugees is altyd laat, altyd! Ek het al drie keer my selfoon verloor – elke keer het iemand dit terugbesorg.
Die meeste Portugese in die Algarve kan Engels praat, maar baie minder mense in die noorde van Portugal kan Engels praat. En soos in baie lande is immigrante nie altyd welkom nie.
Wat is jou gunstelinggereg wat jy geëet het in Portugal? Hoe verskil die kossoorte van dié in Suid-Afrika?
Die pastel de nata – ’n melktertjie – is heerlik! Maar Suid-Afrikaanse kos bly vir my die lekkerste. Hamburgers hier is net ’n vleiskoekie en skyfies. Vis word met kop en stert bedien, en vleis word in stukke gekap – dikwels met beentjies in. Speserye is skaars in vergelyking met Suid-Afrika.
Praat julle nog Afrikaans met mekaar? Watter Suid-Afrikaanse tradisies leer jy vir jou kleinkinders? Van watse Afrikaanse hulpmiddels maak julle gebruik?
Ek en my seun en my vriende praat met mekaar Afrikaans. Ek het vreeslik baie Afrikaanse storieboeke vir my kleinkinders gekoop, nog voor hulle geboorte, en dit ook in hulle krat gepak. My kleinkinders praat drie tale, maar ongelukkig nie Afrikaans nie, want Ouma sien hulle té min.
Wat sal jy jou emigrasiehoofstuk in jou lewe noem?
“Ek dink tog ek is ’n baie brawe vrou”.
Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?
Moet nooit emigrasie romantiseer nie. Om jou land, taal en mense agter te laat, is een van die moeilikste (bitterste) dinge wat jy ooit sal doen. Ek sal vir ewig smag, hunker en verlang na my land. Dit was bitter moeilik in die begin, maar nou is ek gevestig – en gaan jaarliks kuier vir my familie en vriende in Suid-Afrika. Volgende jaar kan ek selfs aansoek doen om burgerskap!
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.