Waar begin ek as ek weer na Suid-Afrika wil terugkeer?

10/09/2024
| Deur Alana Bailey
Waar begin ek as ek weer na Suid-Afrika wil terugkeer?

In 2003 is die Kom huis toe-veldtog deur Solidariteit en die Maatskappy vir Immigrasie (MVI) geloods om Suid-Afrikaners wat na Suid-Afrika wil terugkeer met advies by te staan. In 2005 het die MVI saamgesmelt met die organisasie wat sedert 2006 as AfriForum bekendstaan.

Die Kom huis toe-veldtog het nog nooit ophou bestaan nie en ons gee steeds waar moontlik advies aan mense wat remigreer. Intussen het AfriForum Wêreldwyd se funksies al meer uitgebrei en hou ons langs dié weg kontak met mense wat tydelik of permanent in die buiteland woon, asook met mense wat van voorneme is om terug te keer.

AfriForum Wêreldwyd het onlangs weer die vraag ontvang wat iemand moet doen wat wil remigreer. Die kort antwoord is dat die proses presies net soos die emigrasieproses aangepak moet word.

Stap een is om jou status en die status van almal wat gaan saamkom, te bepaal. Is almal Suid-Afrikaanse burgers? Die verlies van burgerskap is helaas moontlik. Daar was in 2023 ’n hofuitspraak oor sommige gevalle waar die verlies ongrondwetlik was, maar die gevolge van die uitspraak is nog nie in die praktyk duidelik nie. Dit is beter om seker te maak as jy twyfel. Kinders wat in die buiteland gebore is, moet in Suid-Afrika geregistreer word; buitelandse eggenote sal permitte benodig om wettig in Suid-Afrika te kan bly; en buitelandse huwelike moet ook in Suid-Afrika geregistreer word.

Stap twee is inkomste. Werk is skaars in Suid-Afrika, soos die hoë werkloosheidsyfer bewys. Nuwe ondernemings sukkel ook om winsgewend te raak. As jy ’n buitelandse pensioen gaan verdien, maak seker of dit in Suid-Afrika uitbetaal sal word en wat die belastingimplikasies sal wees. Dit geld ook vir enige ander inkomste wat jy uit die buiteland gaan ontvang – niemand wil dubbel belas word nie.

Stap drie is gesondheid. Wetgewing vereis dat mense wat vir onderbroke tye mediese versekering in die land gehad het, ekstra gelde betaal. Maak seker of jy die koste sal kan dra. Indien jy enige chroniese siektetoestande het, is dit ook noodsaaklik om seker te maak watter versekeringsvereistes sal geld en watter behandeling plaaslik beskikbaar is.

Stap vier is besittings. Vind ’n betroubare agent vir die vervoer en doeaneklaring van jou goedere. Vervoermiddele is meer ingewikkeld as huisraad. Daar moet eers met die betrokke owerheid geskakel word om vas te stel of die motor, vliegtuig of ander vervoermiddel in Suid-Afrika gebruik mag word. Hierdie prosesse kan duur en tydrowend wees – stel ook vas watter pryse geld. Soms is dit goedkoper om ’n nuwe yskas te koop as om dit te laat herbedraad in Suid-Afrika, of ’n nuwe motor eerder as om die invoerproses te deurloop.

Stap vyf is ander geldsake. Jou status sal bepaal of jy maklik weer ’n bankrekening sal kan open. Skakel met die finansiële instelling van jou keuse oor opsies om frustrasie te voorkom.

Stap ses is opvoedkundige sake. Kwalifikasies wat in die buiteland behaal is, moet plaaslik geëvalueer word. Professionele registrasies wat in sommige beroepe geld, moet eers aktief wees voordat jy mag begin werk. Die vlak waarop kinders moet begin skoolgaan, moet bepaal word en onthou dat openbare laer- en hoërskole se inskrywings vir ’n volgende jaar meestal reeds teen die derde kwartaal van die huidige jaar sal sluit. Dit alles beteken dat betyds voorberei moet word en deeglike navorsing gedoen moet word om teleurstelling te voorkom.

Stap sewe is troetel- en ander diere. Die soort dier en die land waarvandaan jy kom, sal die vereistes bepaal. Vind uit watter dokumentasie nodig is en wat die koste sal bedra indien kwarantyn byvoorbeeld vereis word.

Stap agt is emosies. Lees gerus ons artikel oor terugkeer, Terugkeer na Suid-Afrika: Uitdagings en wenke vir reïntegrasie, en hou in gedagte dat die omstandighede en mense wat jy agtergelaat het op die oog af dieselfde mag lyk maar tog verander het. Net so het jy ook verander – jy het ander omstandighede en ervarings beleef wat jou laat groei het en jy gaan mense en plekke agterlaat wat jy gaan mis, al is jy hóé bly om terug te wees. Op Teams of WhatsApp gaan mense nie al hulle sorge met jou deel nie, of gaan jy nie noodwendig sien hoeveel ouer mense geword het nie. Dit kan ’n skok wees as jy terugkeer en besef die gesondheid van die mense wat jy liefhet het dalk erg agteruitgegaan het. Mense sal waarskynlik ook jou keuse om destyds te emigreer of om nou te remigreer bevraagteken, al is dit jou privaatsake. Dit alles kan van die terugkeer ’n emosionele wipwarit maak. Berei dus voor op alle moontlike scenario’s.

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels