Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.
Vandeesweek gesels ons met Heidi Oosthuizen, wat in Nieu-Seeland woon.
Hallo, Heidi! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik en waarom het julle besluit om in Nieu-Seeland te gaan woon?
Ek en my gesin het maar in ’n paar plekke in Suid-Afrika gebly. Grotendeels is ek en my man van Pretoria en Johannesburg af. Ons het in 2012 Noord-Kaap toe getrek en in die mynbedryf begin werk. Ons is van ’n klein woongebied, Wandrag, na Hotazel en daarna Kathu toe. Daarna is ons weer terug Johannesburg toe en uiteindelik het ons in Delmas opgeëindig. Ons het vanaf Delmas na Nieu-Seeland geëmigreer.
Hoe het jy die emigrasieproses na Nieu-Seeland ervaar?
Die moeilikste was om almal te groet. Ons het besluit om nie enige van ons meubels oor te stuur nie. Ons kon dit ook nie regtig bekostig nie. Ons het omtrent als wat ons besit het verkoop, en ’n paar sentimentele meubelstukke en persoonlike besittings waarvan ons nie ontslae wou raak nie, by my ma gestoor. Ons het skuld gemaak om die vlugkaartjies te koop, die eerste huur en deposito te betaal, en die nodigste goedjies te koop. Dit was seker die maklikste … Die groet was die ergste. Ek is ’n enigste kind en ons twee seuns het baie tyd by my ma deurgebring. Hulle was basies haar lewe. Ek het gevoel ek ruk ’n stuk van my ma se hart uit, ek voel steeds so. Maar ons het gevoel dat die trek Nieu-Seeland toe die regte ding is om te doen, en hoe langer ons wag, hoe moeiliker dit sou wees om dit te doen. Alles het basies in plek geval en dit was vir my en my man maar net meer bevestiging dat ons die regte ding doen deur te trek.
Vertel ons meer van jou gesin.
Ons is ’n gesin van vier. Ek en my man Henry en ons twee seuns, Francois en Xander. Ons het in September 2018 na Nieu-Seeland gekom. Eers Henry en daarna ek en die seuns. Ons was gelukkig om reeds vriende en familie in Nieu-Seeland te hê en kon ons eerste Kersfees met bekende geliefdes deurbring.
Jy het genoem dat jy twee seuns het. Hoe oud is hulle en hoe het hulle in die nuwe land aangepas?
Ek was senuweeagtig oor hoe die seuns sou aanpas in die skool, veral ook omdat ons in September oorgekom het, en die seuns nie hulle skooljaar in Suid-Afrika sou klaarmaak nie.
Francois was 9 jaar oud toe ons hierheen getrek het (hy is nou 15) en het dadelik aangepas. Op die eerste dag van skool het ek ’n oproep van die skool af gekry, hulle het my vertel dat Francois reeds maats gemaak het en dat hy heel gemaklik is in die klas, dit was ’n ongelooflike verrassing en so gerusstellend … Dis wat mens wil hoor.
Francois is nou in sy element hier in Nieu-Seeland, hy is nog steeds goeie vriende met ’n paar van die maats wat hy op sy eerste dag van skool gemaak het. Hy is ’n mense-mens en het tyd vir almal.
Xander was 7 jaar oud (hy is nou 13) en hy het in die begin gesukkel. Hy was in Suid-Afrika in graad 1, in ’n Afrikaanse skool en het nie regtig baie blootstelling aan Engels gehad nie … Hier gekom, is hy in ’n Engelse land, sy registeronderwyser het ’n Ierse aksent, en skielik moet hy lees en skryf in Engels en hy kon skaars verstaan wat die onderwyser vir hom sê. Hy is geskuif na ’n ander klas en hy het by die nuwe onderwyser gefloreer. Sy het soveel moeite gedoen met Xander en hy het gemaklik geraak in die skool … Hy het vandag ’n Kiwi-aksent wanneer hy Engels praat en wil nie hê ons moet vir hom boodskappe in Afrikaans stuur nie, want hy verstaan nie altyd al die woorde nie. Hy sou nie nou terugtrek Suid-Afrika toe as hy die kans gegun was om dit te doen nie.
Hoe verskil die skoolstelsel in Nieu-Seeland van dié in Suid-Afrika?
Die skoolstelsel verskil redelik baie. Ons hoor gereeld wat ons Suid-Afrikaanse vriende se kinders in die Suid-Afrikaanse skole doen, en dis beslis nie dieselfde nie. Nie so baie huiswerk of eksamens nie. In die seuns se skool word daar meestal in groepe gewerk. Die skoolreëls is meer ontspanne – vreemde haarstyle, juwele en grimering word toegelaat. Al die skole hier is nie noodwendig dieselfde nie … Maar dit is hoe dit hier by ons skool is.
Vertel ons watse werk julle doen en hoe die werkskultuur in land verskil van dié in Suid-Afrika.
Henry is ’n projekbestuurder by ’n industriële sandspuit en bedekking- (“sandblasting and coating”) maatskappy. Hy het dadelik aangepas. Hy hou van die Kiwi-werkskultuur, dit pas by sy persoonlikheid.
Ek doen administrasie vir ’n maatskappy wat merendeels uit immigrante bestaan, onder andere is daar nog ’n Suid-Afrikaner en ’n Namibiër wat saam met my werk.
In my opinie is dit ’n mens se persoonlikheid wat maak of jy aanpas by die werkskultuur of nie. ’n Mens kan ook nie elke maatskappy oor dieselfde kam skeer nie. Daar is ’n groot mate van vertroue in jou kollegas, vertroue dat jy jou werk gaan doen, vertroue dat ’n mens nie aggressie hoef te gebruik om probleme uit te sorteer nie. Ek wil nie graag veralgemeen nie, my agtergrond is nie ’n ander persoon se agtergrond nie. Ek kan wel sê dat ek moes leer om te kalmeer, om te dink voordat ek iets sê of doen. My “go-to”-reaksie om probleme uit te sorteer was meestal met konflik. Dit het ’n tydjie gevat vir my om rustiger te raak en meer gemaklik in my eie vel te voel.
Dit kan uitdagend wees om in ’n nuwe land aan te pas. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland? Wat was vir jou die grootste aanpassing?
In Suid-Afrika het so baie gesinne ’n huishulp en ’n tuinwerker. Hier is dit nie so nie. Hier doen ’n mens maar meestal als self. Ons was in hierdie opsig baie bederf in Suid-Afrika. ’n Mens wil graag heeldag-aldag ’n perfekte huis hê, met perfek gestrykte klere in jou kas en ’n goed versorgde tuin. Dit is baie werk, maar ons kom daar!
Buiten die oppervlakkige wat ek hierbo genoem het, sou ek sê dit was vir my die gevoel van buitestander wees – jy klink anders, dink anders en trek ook nogal anders aan. Ek is gewoond aan sê wat ek dink en voel en ek moes leer om terug te hou en mense en situasies anders te benader. Weereens, dit sal wissel van persoon tot persoon. Ek moes baie aan myself werk … Die hele proses van emigreer het al my onsekerhede oor myself laat uitkom. Dít was vir my die moeilikste.
Is daar enige eg Suid-Afrikaanse winkels naby waar jy trooskos soos biltong kan koop? Indien wel, wat is die naam van die winkels?
Ons is bevoorreg om twee winkels in ons stad te hê, Boerewors NZ en Big Five Biltong and Braai. Ek het vir amper twee jaar by Boerewors NZ gewerk, en ek het daar weer my voete gevind en soos ’n mens begin voel. Dit was vir my ongelooflik lekker om mede-Suid-Afrikaners te kon bedien met bederwe van die huis af, en om die Kiwi’s te leer van biltong en braai! Om mense se genot te ervaar as hulle iets in die winkel gesien het wat hulle jare laas gesien het, was ontsettend vervullend. Om almal se stories te hoor, hoekom hulle hier is, hoe hulle aanpas. Sommiges het ook teruggekeer na Suid-Afrika, ’n mens voel hulle pyn en hartseer en kan jou net indink wat hulle moes deurgaan om tot daardie besluit te kom.
Is daar enige professionele diensverskaffers (byvoorbeeld dokters, prokureurs en tandartse) waar jy woon wat jou in Afrikaans kan help?
Hier is talle Suid-Afrikaanse dokters, veeartse, tandartse, terapeute ens. Daar gaan nie ’n dag verby wat jy nie ’n Suid-Afrikaner êrens raakloop nie, in enige professie. Ek voel nie dat ons in Afrikaans gehelp moét word deur meeste van die bogenoemde nie, maar dit help om ’n Suid-Afrikaanse terapeut te hê wat jou kan help aanpas en dinge verwerk.
Wat beteken jou Afrikanererfenis vir jou? Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?
Afrikaner wees beteken vir my gesinstyd, die Afrikaanse taal, braai (nie BBQ nie) en kuier om die vuur. Ek luister baie gereeld nog Suid-Afrikaanse musiek en soms ook Suid-Afrikaanse radio wanneer ek in die kombuis doenig is.
Praat julle nog Afrikaans met mekaar? Watter Suid-Afrikaanse tradisies leer julle vir jul kinders? Van watter Afrikaanse hulpmiddels maak julle gebruik?
Ons praat nog Afrikaans in die huis. Dit was vir my belangrik. Ek dink dit is so ’n ongelooflike “superpower” om ander tale te kan verstaan en praat, hoekom nou ons moedertaal laat afsterf? Henry leer die seuns braai en ons probeer vir hulle goeie outydse Suid-Afrikaanse maniere en respek vir die medemens aanleer …
Hoe vorm of behou jou kinders ’n verhouding met hul grootouers? Hoe gereeld sien julle as familie mekaar?
Die kommunikasie tussen die seuns en hulle oupas en oumas is nie so goed soos wat ons dit sou wou hê nie, maar ons besef nou eers dat ons dalk meer moes doen aan die begin om hulle verhouding sterk te hou. Ons gaan in Maart volgende jaar vir die eerste keer as gesin terug Suid-Afrika toe vir ’n vakansie. Dit sal die eerste keer in ses en ’n half jaar wees wat ons ons familie sien. Henry se suster en haar gesin het omtrent op dieselfde tyd as ons geëmigreer, na Amerika. Ons sal hulle ook in Maart sien. Ons tel die dae af!
Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Nieu-Seeland. Kom julle soms bymekaar?
Die meeste van ons vriende is Suid-Afrikaners. Ons sien mekaar gereeld vir ’n braai of ’n koffie, net soos wat ’n mens maar in Suid-Afrika sou doen. Ek en Henry het aan die begin gedink ons gaan nie probeer om net Suid-Afrikaanse vriende te probeer maak nie. Ons wou inpas in Nieu-Seeland en nie probeer vasklou aan Suid-Afrika nie. Ons kon nie regtig maklik Nieu-Seelandse vriende maak nie, en het agtergekom dat ons Suid-Afrikaners tog maar na mekaar toe graviteer … Dit is lekker om Suid-Afrikaanse vriende te hê.
Wat is die een ding wat jy wens jy in jou tas kon pak toe jy geëmigreer het?
Ek sou my ma in my tas pak.
Bestuur van motors en bestuurslisensies – hoe verskil dit van Suid-Afrika? Besit julle jul eie motor of maak julle gebruik van alternatiewe vervoer?
Daar is maar basiese verskille, maar ons bestuur darem aan dieselfde kant van die pad! Mense op die pad is baie meer geduldig as in Suid-Afrika. Dit het ’n tydjie gevat om daaraan gewoond te raak, maar dit is lekker om nie padwoede te beleef nie.
Wat doen jy vir ontspanning in Nieu-Seeland?
Ek is ’n huismens of ’n “kom ons klim in die kar en gaan verken”-mens. Ons bly baie naby aan die strand, ons sal af en toe gaan stap of net op die strand gaan sit. Henry hou van duik en visvang en op sy boot uitgaan. Die seuns geniet hulle vriende of die Playstation!
Enige lesse wat julle geleer het?
Daar is nie net een regte manier van iets doen nie. ’n Mens moet bereid wees om van voor af te begin. Kommunikasie is baie belangrik, ons moes mekaar op opnuut leer ken. ’n Mens kan nie aan die verlede vasklou nie, ons het ’n besluit geneem om hierheen te kom, ons moet aanpas by dit wat anders is en die goue middeweg vind.
Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?
Ons is gelukkig in Nieu-Seeland, die lewe het ons hierheen gebring vir ’n rede. Emigrasie is nie maklik nie, dit maak mens se oë oop vir dít wat ’n mens nog altyd as vanselfsprekend aanvaar het en wys uit hoe maklik en onregverdig ’n mens oordeel.
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Texas, Amerika
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
Deel op
Nuutste artikels