Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.
Hierdie week gesels ons met Glicinda du Plessis, wat in Nederland woon.
Hallo Glicinda! Dit is heerlik om met jou te gesels. Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik, en hoekom het julle besluit om juis na Nederland te emigreer?
Ek en my man is oorspronklik van Pretoria. Ons het vir drie jaar in Johannesburg gebly, en toe in middel-2024 Nederland toe geëmigreer. Die grootste redes vir ons besluit was vir veiligheid, asook ’n beter toekoms vir ons en ons kinders eendag.
Hoe het jy die emigrasieproses ervaar? Was daar iets wat jou verras het of wat moeiliker was as wat jy verwag het?
Die papierwerk was ’n groot kopseer. Wat my wel verras het, was die manier hoe Nederland se gemeentes (soortgelyk aan Suid-Afrika se Departement van Binnelandse Sake – elke dorpie het sy eie gemeente) dinge doen: Alles is in orde, almal is ongelooflik vriendelik, professioneel en behulpsaam. ’n Ander groot plus: Jou afspraaktyd is jou afspraaktyd; dit is nie ’n hele daguitstappie vir een papier nie. Dit was wel ’n kopseer om die papierwerk in Suid-Afrika in orde te kry, maar dit was kinderspeletjies aan hierdie kant!
Hoe het julle julself gevestig in die gemeenskap? Was dit maklik om jul voete te vind en nuwe vriende te maak?
Aan die begin was dit moeilik. ’n Mens voel maar eers heel verdwaald totdat jy jou voete vind en vriende maak. Maar mettertyd het ons al hoe gemakliker begin raak en vriende gemaak. Nou voel dit of ons al jare lank hier bly. Die verskeie Facebook-groepe vir Suid-Afrikaners in Nederland het ook baie gehelp!
Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Nederland. Het julle al ’n netwerk of sosiale kring opgebou daar? Kom julle soms bymekaar?
Ek het in Desember 2024 by IR Olav’s Globetrotters begin werk, ’n Nederlandse maatskappy wat Suid-Afrikaners help om Nederland toe te kom, veral vir IT-, finansiële en ingenieursposte. Die meeste mense by die maatskappy is Suid-Afrikaners, en só het ons ook baie vinniger vriende begin maak. Ons hou nou gereeld ’n lekker braai!
Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika? Dalk iets kleins wat ander dalk nie sou verwag nie?
Beslis ons familie en vriende, maar ook biltong, Aromat, bruinuiesop en – as jy my man sou vra – Chicken Licken-sous!
Hier is natuurlik ’n hele paar winkels waar mens allerhande Suid-Afrikaanse dinge kan kry, maar die groter toegang tot sulke en die prys wat dit in Suid-Afrika kos, is natuurlik geriefliker.
Wat van die Nederland se leefstyl of kultuur het jou verras of beïndruk?
Die Nederlanders is baie reguit en direkte mense. Hulle draai nie doekies om nie. Maar hulle is almal aangename mense. Ons vind onsself gereeld in onbeplande gesprekke en almal is ekstra vriendelik as hulle hoor ons kom van Suid-Afrika af. Soms raak die gesprekke ook heel interessant as die “Nederkaans” begin vloei.
Die fietskultuur is iets om aan gewoond te raak. Ek dink hulle kan ’n buitelander van ’n myl af eien (dis óns wat sweet, ongelooflik stadig trap en so nou en dan rus waar daar koelte is). Maar dit voel tog so vry en maklik om oral te kan ry.
Dit is ook besonders om te sien hoe skoon, veilig en doeltreffend die land is – ook openbare vervoer!
Wat doen jy en jou gesin vir ontspanning daar? Is daar iets unieks aan Nederland wat julle geniet?
Ons gaan gereeld oor naweke na verskillende dorpies om Nederland te verken en die geskiedenis van die land te leer ken. Andersins kuier ons saam met vriende of gaan sommer net vir ’n tydjie strand toe.
Watter lesse het julle as gesin oor julself, aanpassing, of julle nuwe omgewing geleer sedert julle verhuis het?
Emigrasie is nie maklik nie. Dit gaan jou toets op wyse wat jy nooit gedink het moontlik is nie. Jy moet geduldig wees, kan aanpas en die proses vertrou. Dis natuurlik ook baie belangrik om as gesin mekaar te vertrou en te ondersteun.
Praat julle nog Afrikaans by die huis? Hoe belangrik is dit vir jou om die taal en kultuur te behou?
Ek en my man praat slegs Afrikaans by die huis. By my werk praat ons ook heelwat Afrikaans omdat die meerderheid van ons Suid-Afrikaners is. Dit is vir ons baie belangrik om ons taal en kultuur te behou. Ons sal dit ook graag eendag aan ons kinders wil oordra.
Is daar Suid-Afrikaanse winkels of produkte naby julle beskikbaar, of moet julle kreatief raak om produkte van die huis te kry? Het julle al professionele diensverskaffers gevind wat Afrikaans kan praat, soos dokters, prokureurs of selfs onderwysers?
Hier is ’n hele klomp Suid-Afrikaanse winkels. Die naaste aan ons is Die spens in Amersfoort. Ek bak ook self melktert en peppermint crisp-tert. Dit is wel gevaarlik om na hierdie Suid-Afrikaanse winkels toe te gaan, want jy gaan eintlik net vir een ding en dan kom jy met ’n boks vol goed daar uitgestap!
Ons het nog nie Afrikaanse professionele diensverskaffers teëgekom nie, maar ons neem albei Nederlandse lesse, so dit is darem nie te veel van ’n probleem om oor die weg te kom nie!
As jy aan hierdie emigrasiehoofstuk in jou lewe ’n titel sou gee, wat sou dit wees, en waarom?
“Losbreek en landing – van Pretoria tot die gragte”
Ek dink dit is ‘n goeie titel, want dit beskryf die vryheid en onsekerheid van migrasie: Jy los ongelooflik baie agter, maar land ook weer, nuut en anders.
Wat sou jy sê is die grootste verandering in jouself sedert jy geëmigreer het?
Mens word gedwing om uit jou gemaksones te klim, en dit leer jou ook om meer in jouself te glo en vertrou. Ek het ook geleer om dinge stadiger en doelbewusser te benader – die lewe hier is baie minder gejaagd, en daardie rustigheid het my perspektief verander oor wat werklik belangrik is.
Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?
Ek wil net vir ander sê wat dalk nog wonder of emigrasie vir hulle is: Dit is moontlik, al voel dit soms onmoontlik. Dit is ’n wipwaentjierit vol emosies, aanpassing en groei, maar ook vol nuwe geleenthede en avonture. En as jy die kans het om te gaan, gryp dit met albei hande aan!
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Suid-Korea – AfriForum Wêreldwyd






























