Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Antonette Loxton, wat saam met haar gesin in Invercargill, Nieu-Seeland, woon.
Hallo Antonette – dit is heerlik om met jou te gesels!
Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik, en hoekom het julle besluit om na Invercargill te emigreer?
Ons is Oos-Randers deur en deur en het jare lank in Brakpan gebly. Ja, ek weet – daar is soveel om oor Brakpan te sê – maar ek het daar grootgeword en die dorpie bly na aan my hart.
Soos soveel ander het ons besluit om te emigreer vir veiligheid en ’n beter toekoms vir ons dogter. Invercargill is heel onder aan die suidpunt van die Suid-Eiland, en mense vra dikwels hoekom juis hier. Die antwoord is eenvoudig: dit is waar my man ’n werksaanbod gekry het. Vir ons is dit ’n pragtige dorpie met vriendelike mense wat ons baie aan ons ou Brakpan herinner.

Vertel ons meer van jou gesin.
Ek en my man, Clinton Loxton, is al 17 jaar saam en 15 jaar getroud. Ons het ook in Brakpan ontmoet en daar getrou. Ons het saam ’n pragtige 15-jarige dogter, Mihandri, en sy is regtig die rede waarom ons hier is.
Ons het ook ’n katjie hier by die SPCA aangeneem vir Mihandri – haar naam is Mellow. My man het twee kinders wat nog in Suid-Afrika is, Caylee en Keagen, en ons hoop om hulle ook eendag oor te bring wanneer die tyd reg is.
Watter werk doen julle, en hoe verskil die werkkultuur?
My man is ’n gekwalifiseerde ketelmaker, en ek is ’n administratiewe bestuurder. My dogter is in haar laaste jaar van skool.
Daar is beslis ’n groot kultuurverskil. Ons is grootgemaak om hard te werk, terwyl die werkkultuur hier baie meer ontspanne is. Vir my man werk dit goed – daar is heelwat Suid-Afrikaners by sy maatskappy, en hy geniet dit baie.
Vir my is dit nog ’n aanpassing. Ek werk vinnig en kry my werk klaar, soms té vinnig – dan moet jy iets soek om te doen! In Suid-Afrika was daar konstante druk om jou werk te behou. Hier is daar minder haas. Die druk wat ons daar ervaar het, is hier amper heeltemal afwesig. Môre is nog ’n dag.
Hoe verskil die leefwyse en lewenskoste?
Die leefwyse is baie rustiger as in Suid-Afrika en herinner my aan die 1980’s toe ek grootgeword het. Jy sien kinders wat fiets ry, in parke speel, en mense wat selfs laat in die aand met hul honde stap.
Die lewenskoste aan hierdie kant van die Suid-Eiland is redelik. Behuising is nie so duur soos in die Noord-Eiland nie. Kruideniersware het duurder geword, maar dit is wêreldwyd so. Skole vra nie skoolgeld nie – slegs donasies. Om eerlik te wees, het ons meer hier in drie jaar opgebou as wat ons in ons hele tydperk in Suid-Afrika gehad het.
Was dit moeilik om aan te pas en nuwe vriende te maak?
Die grootste aanpassing was die weer – kouer, winderig en winters wat nat en bitter koud is. ’n Mens leer egter om aan te pas en trek maar ekstra lae klere aan.
Ons was gelukkig om familie hier te hê wat ons aan ander Suid-Afrikaners voorgestel het. Ek en my man is albei mense-mense en het maklik aangepas. Ons het goeie Suid-Afrikaanse én Kiwi-vriende gemaak.

Wat was die vreemdste om aan gewoond te raak?
Beslis die veiligheid. Om nie heeltyd oor jou skouer te kyk nie. Om my kind toe te laat om alleen park toe te loop. Skole het nie heinings nie, want dit is nie nodig nie.
Ons het nie diefwering voor vensters nie, en deure en hekke kan oopstaan. Niemand vat jou goed of kom by jou huis in nie. Om daaraan gewoond te raak, was ’n groot aanpassing.
Ek mis wel soms ons Suid-Afrikaanse kultuur, want hoewel daar Suid-Afrikaners is, is die meerderheid mense hier Nieu-Seelanders.
Wat doen julle vir ontspanning?
Ons bly naby die see en gaan gereeld strandhengel. My man hou daarvan om in die bos te stap en te jag. Daar is ook ’n onderdakswembad en glybaan wat baie gewild is.
Ons stap gereeld in Queens Park, of ry net rond en verken die mooi plekke in en om Invercargill.
Watter lesse het julle as gesin geleer?
Ons leef nader aan mekaar as gesin. Jy het net mekaar, en dit bring julle nader. My dogter het aanvanklik gesukkel om by die skool aan te pas, aangesien alles rekenaargebaseerd is en dissipline anders werk, maar sy het mooi aangepas en is nou gemaklik. Dit is ook haar laaste skooljaar.
Wat beteken jou Afrikaanse wortels vir jou?
Ek sê gereeld my voete bly koud hier – seker omdat hulle nie meer op warm Suid-Afrikaanse grond loop nie. Jou voete is tog jou vestiging op aarde.
My Afrikaanse wortels is my geloof, my taal en my kultuur. Dis Christenskap, familie, kosreuke op ’n Sondag, braai om ’n vuur, vriendelikheid en deursettingsvermoë. Dis ons mense, ons gees, ons manier van leef. Ek sê dit met trots: ek is Afrikaans.
Kry julle Suid-Afrikaanse produkte of dienste?
Ons is gelukkig om ’n Suid-Afrikaanse winkel, The Bok Shop, hier in Invercargill te hê. Voorheen moes ons alles aanlyn bestel teen ’n hoë koste.
Wat diensverskaffers betref, is ek nie bewus van Suid-Afrikaanse dokters of prokureurs hier nie, maar daar is wel Suid-Afrikaanse onderwysers.
Is daar iets wat jy wens jy vroeër geweet het?
Moenie bang wees as die geleentheid om te emigreer oor jou pad kom nie. Dit is vreesaanjaend, maar as jy op God vertrou, sal dinge uitwerk.
Ons het eers hier besef wat dit beteken om regtig te leef – in ’n land waar dinge werk en misdaad minimaal is. Die enigste verlange wat ek onderskat het, was dié na my ma, familie en vriende.
Ons werk doelbewus om ons kultuur lewendig te hou: ons maak ons eie biltong en boerewors, praat oral Afrikaans, braai gereeld en beplan selfs ons tweede sokkie hier in Invercargill.
Ons is trotse Afrikaners – waar ons ook al is.
Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
Lees ook: Van Magalies tot die Grampians: ’n Nuwe begin in Australië


























