Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Quinton van der Berg, wat tans in Nieu-Seeland woon.
Hallo Quinton, dit is heerlik om met jou te gesels! Van waar in Suid-Afrika is jy oorspronklik?
Baie dankie vir die geleentheid. Ek is oorspronklik van die Vaaldriehoek, maar voordat ons geëmigreer het, het ek vir sewe jaar in die Kaap gebly. Dis ook daar waar ek my vroutjie ontmoet het – sy is van die pragtige Swartland, van Malmesbury.
Vertel ons meer van jou gesin.
Ek en my vroutjie het mekaar in 2019 ontmoet en in 2021 begin vas uitgaan. Ons wou graag trou en ’n gesin begin, maar het gevoel ons wil dit nie in Suid-Afrika doen nie, om verskeie persoonlike en politieke redes. Ons het toe begin kyk na opsies oorsee.
Ek was gelukkig om redelik vinnig werk te kry. Ons is in September 2023 getroud en kort daarna het ek na Nieu-Seeland vertrek. My visum is baie vinnig goedgekeur en my nuwe maatskappy wou hê ek moes so gou moontlik begin. Chantelle het dus agtergebly om die huis op te pak en alles wat ons oor die jare opgebou het te verkoop. Sy het dit ongelooflik goed hanteer terwyl ek reeds hier begin werk het. Ongeveer drie maande later kon sy ook aansluit.
Ons het onsself gevestig in New Plymouth, ’n kusdorpie aan die weskus van die Noord-eiland in die Taranaki-streek. Ons dogtertjie, Mila, is op 30 Desember 2025 hier in Nieu-Seeland gebore.
Sedert ons verhuis het, het ons selfs nader aan mekaar gegroei. In ’n nuwe land moet jy regtig op mekaar staatmaak, en dit het ons band versterk. Ons sien onsself as ’n span wat saam droom, saam werk en saam bou aan ’n toekoms – veral vir ons dogtertjie.

Vertel ons watse werk julle doen en hoe die werkskultuur in Nieu-Seeland verskil van dié in Suid-Afrika.
Ek werk as ’n industriële radiografis en Chantelle werk as administrasiebeampte by ’n dansskool vir kinders.
Hier in Nieu-Seeland hoor ’n mens baie van die idee van ’n “work-life balance”. Daar is nie dieselfde gejaag as wat ons soms in Suid-Afrika ervaar nie. Mense werk hard, maar daar is ’n duidelike balans tussen werk en persoonlike lewe. Ons het ook opgemerk dat mense by die werk redelik privaat is – dit vat soms ’n rukkie voordat kollegas jou nooi om ook buite werk sosiaal saam te kuier.
Was dit moeilik om daar aan te pas of het julle maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?
Ons het redelik vinnig aangepas en ook heelwat nuwe vriende gemaak. Party dae was natuurlik moeiliker as ander, maar oor die algemeen het ons goed ingeskakel.
Ons het vinnig deel geword van ’n plaaslike kerk, en Chantelle het in die eerste paar maande – voordat sy begin werk het – baie vrywilligerswerk by die Kankervereniging gedoen. Dit het haar gehelp om wonderlike mense te ontmoet en vinniger deel van die gemeenskap te word.

Hoe verskil die leefwyse en lewenskoste van dié in Suid-Afrika?
Die leefwyse hier is baie meer plat op die aarde. Mense gee nie regtig om watter kar jy ry of watter klere jy dra nie.
Die lewenskoste is egter nogal hoog. Huise en huur is duur – ’n normale twee- of drieslaapkamerhuis kan maklik tot ongeveer R6 500 per week kos. Kruideniersware is met baie produkte redelik soortgelyk aan Suid-Afrikaanse pryse, met hier en daar ’n verskil.
Wat was vir julle die vreemdste om aan gewoond te raak?
Die eerlikheid en vertroue tussen mense het ons nogal verras. In Suid-Afrika is ons gewoond daaraan dat jy nie sommer alles kan laat rondlê of almal kan vertrou nie. Hier ervaar ons dat die meeste mense baie eerlik en opreg is.
Jou woord tel ook baie – dikwels meer as dokumentasie of bewysstrokies. Die algemene wetsgehoorsaamheid van mense was ook vir ons opvallend. Die meeste mense volg eenvoudig die reëls.
Hoe verskil die kossoorte in Nieu-Seeland van dié in Suid-Afrika?
Daar is ’n groot verskil, veral met tradisionele kos. Nieu-Seeland het ongelooflike vleispasteie, en hulle skaapvleis is fantasties.
Hulle het ook ’n bekende tradisionele Maori-kookmetode genaamd hangi. Kos word saam met warm klippe in ’n gat in die grond geplaas, toegemaak en stadig met stoom gaargemaak. Die eerste keer kan dit nogal vreemd proe as jy dit nie ken nie.
Kry julle kans om te reis?
Ek reis nogal baie vir werk, regoor die Noord- en Suid-eiland. Chantelle het voor sy begin werk het en voor Mila se geboorte ’n paar keer saam met my gereis. Ons het ook vriende en kennisse regoor die land, so ons gaan gereeld oor langnaweke kuier.
Watter lesse het julle as gesin geleer sedert julle verhuis het?
Die grootste les is dat aanpassing tyd neem. Elke mens pas teen sy eie tempo aan, en dit vra geduld met mekaar.
Ons het ook geleer om meer oopkop te wees vir nuwe ervarings en geleenthede. Aanvanklik voel ’n nuwe omgewing soms ongemaklik of onseker, maar deur mekaar te ondersteun en goed te kommunikeer, het ons as gesin sterker en meer veerkragtig geword.
Hierdie ervaring het ons as paartjie nader aan mekaar gebring en ons geleer dat ons saam enige uitdaging kan hanteer.
Wat beteken jou Afrikaner-erfenis vir jou?
My Afrikaner-erfenis gee vir my ’n sterk gevoel van identiteit en verbondenheid. Dit herinner my aan my taal, my waardes en die belangrikheid van geloof en familie.
Ons probeer ons tradisies lewendig hou deur Afrikaans by die huis te praat, Afrikaanse televisie te kyk en ons dogtertjie, Mila, van kleins af bewus te maak van ons geskiedenis en kultuur.
Ons vier steeds geleenthede soos Braaidag, Paasfees en Kersfees op die bekende Suid-Afrikaanse manier, en ons hou vas aan kos, gebruike en tradisies wat ons aan die huis herinner.
Ons voorvaders het immers sowat 370 jaar gelede na die suidpunt van Afrika gereis om ’n nuwe lewe te begin – ’n begin waaraan baie van ons vandag ons herkoms en tradisies te danke het.
Is daar Suid-Afrikaanse produkte of Afrikaanssprekendes naby julle?
Ons is gelukkig – daar is ’n Suid-Afrikaanse winkel in ons dorp. Ons maak ook ons eie biltong en droëwors.
Baie supermarkte het internasionale rakke waar Suid-Afrikaanse produkte soms beskikbaar is, soos Ouma-beskuit, blatjang en tamatiesous.
Daar is ook heelwat Afrikaanssprekendes hier. Ons dokter wat ons gehelp het tydens Mila se geboorte is ’n Suid-Afrikaner. Dit gebeur ook gereeld dat jy met iemand Engels praat en dan hoor jy skielik die bekende aksent – en voor jy weet, praat julle sommer Afrikaans.
Wat sou julle jul emigrasiehoofstuk noem?
“’n Onverdiende geskenk”
Ons voel ongelooflik bevoorreg om hier te wees en hierdie ervaring te kan beleef. Vir ons is een van die grootste geskenke dat ons ons dogtertjie kan grootmaak in ’n omgewing waar kinders nog vrylik kan fiets ry en speel, sonder hoë heinings, alarmstelsels en slotte oral.
Wat is die grootste verandering in jouself sedert julle geëmigreer het?
Ek het beslis meer aanpasbaar geword. Emigrasie het my uit my gemaksone geneem en my geleer om nuwe situasies met groter selfvertroue te hanteer.
Ek het ook ’n groter waardering ontwikkel vir eenvoudige dinge soos veiligheid, stabiliteit en tyd saam met my gesin. Dinge wat vroeër vanselfsprekend gevoel het, beteken nou baie meer.
Emigrasie het my nie net fisies na ’n nuwe land geneem nie – dit het my ook innerlik gevorm.
Is daar raad wat julle vir ander het wat dieselfde pad oorweeg?
Een ding wat ons wens ons vooraf beter besef het, is hoe emosioneel die proses kan wees. ’n Mens berei finansieel en prakties voor, maar die afskeid, verlange en identiteitskuif is iets waarvoor niemand jou heeltemal kan voorberei nie.
Ons raad is om realisties maar hoopvol te wees. Doen deeglike navorsing, beplan goed en maak seker julle is as gesin op dieselfde bladsy. Emigrasie los nie alle probleme op nie – dit bring ook nuwe uitdagings.
Gee jouself tyd om aan te pas, bou ’n nuwe ondersteuningsnetwerk en bly verbind aan jou waardes en identiteit. Wanneer jou motivering duidelik is, help dit om deur die moeiliker dae te kom.
Vir ons was dit uiteindelik ’n groot stap – maar een wat ons as man en vrou sterker gemaak het.
Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
Deel op
Nuutste artikels






































