Mbalula-dossier: AfriForum vra VSA om nie SA te straf nie, maar eerder vir Mbalula

25/03/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Mbalula-dossier: AfriForum vra VSA om nie SA te straf nie, maar eerder vir Mbalula

Klankgreep: Kallie Kriel (Afrikaans)
Klankgreep: Gerrie Nel (Afrikaans)
Klankgreep: Ernst van Zyl (Afrikaans)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag tydens ’n mediakonferensie ’n omvattende verslag bekendgestel wat verskeie bewerings van bedrog, geldwassery en korrupsie teen Fikile Mbalula, die sekretaris-generaal van die ANC, uiteensit. Die verslag getiteld die Mbalula-dossier sit ook uiteen hoe Mbalula Suid-Afrika op ’n roekelose wyse blootstel aan die VSA se strafmaatreëls deur onder meer sy tartende en beledigende uitsprake teen Westerse lande; steunwerwing vir die miskenning van eiendomsreg deur onteiening sonder vergoeding; en skakeling met Hamas.

Ernst van Zyl (hoof van openbare betrekkinge by AfriForum), Kallie Kriel (uitvoerende hoof van AfriForum) en advokaat Gerrie Nel (hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid) tydens die mediakonferensie.

AfriForum gaan die verslag as basis gebruik om die VSA te probeer oortuig om nie Suid-Afrika en die land se mense te straf vir Mbalula se roekelose optrede nie, maar om eerder ingevolge die VSA se Magnitsky-wet teen Mbalula op te tree. Dié wet maak individuele sanksies moontlik teen individue wat beweerde korrupsie en menseregteskendings pleeg.

Die afdeling van die Mbalula-dossier wat bewerings van korrupsie teen Mbalula uiteensit, is opgestel deur advokaat Gerrie Nel en sy ondersoekspan by AfriForum se privaatvervolgingseenheid. Dit sal ook as basis dien vir AfriForum se pogings om die Suid-Afrikaanse Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te oortuig om Mbalula te vervolg op aanklagte van bedrog, geldwassery en korrupsie. Nel het tydens die mediakonferensie bekendgemaak dat hy pas ’n skrywe aan advokaat Andy Mothibi, die pasaangestelde Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, gerig het, om namens AfriForum se privaatvervolgingseenheid te versoek dat die NVG die vervolging van Mbalula opnuut oorweeg.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, doen AfriForum en die Solidariteit Beweging alles moontlik om, in die belang van die land se mense, Amerikaanse strafmaatreëls teen Suid-Afrika af te weer. Kriel wys daarop dat Mbalula se beledigende uitsprake – soos dat Brent Bozell, Amerika se nuutaangestelde ambassadeur in Suid-Afrika, “dronk” en ’n “rassis” is – AfriForum se pogings om die verhouding met die VSA te help normaliseer, ernstig belemmer.

Kriel voer aan dat Mbalula se roekelose en radikale optrede, wat bloot daarop gemik is om steun vir die sukkelende ANC en homself as die volgende ANC-president te probeer werf, met die toekoms van die land en sy mense dobbel. Volgens Kriel sal Mbalula se pogings om sy eie en die ANC se belange ter wille van korttermyn- politieke doelwitte te bevorder, misluk. Dit sal egter ongelukkig wel daarin slaag om internasionale strafmaatreëls vir die land op die hals te haal wat sal lei tot groeiende werkloosheid en armoede. “Mbalula gee nie om dat sy roekelose optrede gewone mense in die land benadeel nie, aangesien hyself op ’n selfsugtige wyse sal voortgaan om in luuksheid te leef en peperduur ontwerpersklere te dra,” voeg Kriel by.

Volgens Nel was die NVG tot dusver huiwerig om Mbalula weens sy politieke posisie te vervolg, ten spyte daarvan dat daar ’n sterk prima facie-saak bestaan dat korrupsie, bedrog en geldwassery gepleeg is in die betaling van ’n Dubaise vakansie wat hy en sy gesin in Desember 2016 gehou het.

“Niemand mag teen vervolging verskans wees bloot omdat hulle ’n senior posisie beklee nie. Daarom sal AfriForum voortgaan om privaat vervolging teen Mbalula te oorweeg sou die NVG besluit om hom nie te vervolg nie,” voeg Nel by.

Nel het ook aangedui dat vordering intussen gemaak is om Mbalula privaat te vervolg op ’n aanklag van crimen injuria vir die openbare stellings wat hy gemaak het waarin Jaco Pieterse, eertydse skoolhoof van ’n skool in Matatiele, as ’n kinderverkragter uitgemaak is. Die dossier is reeds verkry.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels