Uit en tuis: ’n e-pos uit Swede

31/03/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit Swede

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Louise en Ruhan de Kock wat in Swede woon.

Hallo Louise en Ruhan, dit is heerlik om met julle te gesels!

Ruhan het grootgeword in die Paarl en ek in Knysna. Ons het gewerk in Somerset-Wes. Ons wou graag bietjie die wêreld gaan verken en het besluit om in 2012 vir twee jaar Saoedi-Arabië toe te gaan. Dit het toe vier jaar geword en toe het ons besluit om in Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate te gaan bly waar ons drie jaar gewoon en gewerk het. In die sewe jaar het ons heelwat Europese, VK en Asiatiese lande besoek. Na sewe jaar in die Midde Ooste het ons besluit om Thailand toe te verhuis om nader aan die Verre Ooste te wees om daar die wêreld te verken. Dit was in 2019 en toe in 2020 kom Covid. Ons wou net vir vier jaar in Asië gewoon het en dan Europa toe gaan om permanent daar te woon. Met al die Covid-beperkings het ons na twee jaar besluit om Europa toe te verhuis en dis waar ons toe in Swede opgeëindig het. Julie 2026 sal ons vyf jaar in Swede woon. Ons woon in ’n klein dorpie (Veddige) so 80 km suid van Gothenburg en werk in ’n dorp (Kungsbacka) so 40 km suid van Gothenburg. Die landskap is ongelooflik mooi met baie woude en mere wat ons gaan verken met ons fietse of net ’n lekker stap deur die woud, selfs in die winter met sneeu.

Ons is albei onderwysers. Ek gee LO vir Graad 1–9 en Louise gee vir graad 1–3 Wiskunde en Wetenskap. Ons gee ons lesse in Engels met so bietjie Sweeds tussenin. Ruhan se instruksies op die bord is in Engels en Sweeds. Swede praat almal Engels, so as jy in ’n winkel is, word jy maklik in Engels gehelp. Ons skool bestaan uit 80% Sweedse leerders en die res kom van ander Europese lande, Asië, Afrika en die Midde Ooste. Al die onderwysers en leerders kry elke dag ’n buffetete vir middagete wat ons saam met al die leerders sit en eet. Die Sweedse werkkultuur verskil heelwat van Suid-Afrika. As jy teetyd of middagete het, moet jy dit gebruik om te rus en nie werk te doen nie. Die werksure is ook heelwat minder as Suid-Afrikaanse onderwysers s’n, geen naskoolse of naweeksport of -vergaderings nie. Hier is geen klokke om die einde van ’n les aan te dui nie, almal volg die horlosie in die klaskamers.

Kos en die algemene lewenskoste is duurder as in Suid-Afrika as jy dit na rand omskakel, maar salarisse is ook hoër hier. Mediese sorg in Swede is meestal gratis of baie bekostigbaar, maar dit kan soms moeilik wees om ’n afspraak te kry, veral vir kleiner siektes soos griep. Vir meer ernstige mediese sorg en spesialisdokters werk die stelsel baie goed, veral wanneer jy ’n verwysing het. Dit is ’n wet in Swede dat almal ’n pensioen deur hul werk moet ontvang. Petrol- en elektrisiteitspryse fluktueer daagliks en kan selfs tot drie keer per dag verander. Elektriese voertuie is baie algemeen hier, en daar is oral laaipunte beskikbaar. Openbare vervoer is baie goed, alhoewel dit minder gereeld raak hoe verder jy buite die stede beweeg. Taxi’s is baie duur, maar daar is genoeg busse en treine beskikbaar.

Die Sweedse kultuur is baie anders as in Suid-Afrika, mense is nie so oop en vriendelik nie. Daar is heelwat video’s op sosiale media waar Sweedse mense daarmee spot. Die persoon sal agter ’n bos induik as sy buurman verbykom sodat hy nie met hom hoef te gesels nie. Party Sweedse mense voel ook ongemaklik om Engels te praat, want hulle voel hul Engels is nie goed genoeg nie, dan praat ons almal maar “Swinglish” (Sweeds gemeng met Engels) en ons almal verstaan mekaar. Maar gelukkig is nie alle Sweedse mense so nie. Ons was al heelwat genooi om deel te wees van Sweedse feesvieringe. Dit is byvoorbeeld al ’n jaarlikse instelling dat ons deur Sweedse vriende net voor Kersfees genooi word om ’n “pepparkakshus”(gemmerbroodhuisie) te versier. En dit is gewoonlik ’n groot vrolike geleentheid. Kersfees in Swede is iets besonders: huise is versier met die mooiste ligte, sterre hang in elke venster en die hele omgewing word omskep in ’n sprokiesagtige winterwêreld.

Die koue en donkerte in die winter was ’n groot aanpassing maar ons is nou al gewoond daaraan en kruip nie in die huis weg as dit winter is nie. In Sweeds is hier ’n sêding “Det finns inget dåligt väder, bara dåliga kläder” – wat beteken jy kry nie slegte weer nie net slegte kleredrag.

Van ons eerste jaar af gaan ons elke Junie/Julie Suid-Afrika toe vir so drie tot vier weke om by die familie te wees.

Sedert ons oorsee verhuis het, het ons baie waardevolle lesse geleer oor onsself, aanpassing en respek vir ander kulture. Ons eerste groot les het begin toe ons na Saoedi-Arabië verhuis het, en daarna nog in twee ander lande, voordat ons ons uiteindelik in Swede gevestig het. Een van die belangrikste dinge wat ons geleer het, is dat jy ’n land se wette, gebruike en mense moet respekteer en aanvaar. In Saoedi-Arabië moes Louise byvoorbeeld ’n abaya dra, al is ons nie Moslems nie. Dit het ons geleer dat aanpassing nie beteken jy verloor jouself nie, maar dat jy respek wys vir die plek waar jy woon. Ons het ook besef dat dit nie help om na ’n ander land te trek en dan te probeer om ’n klein stukkie Suid-Afrika binne daardie land te skep nie. ’n Mens moet met ’n oop gemoed gaan en bereid wees om die nuwe kultuur te leer ken. Dit beteken om feeste by te woon, nuwe tradisies te leer en mense regtig te probeer verstaan. Natuurlik behou ons steeds baie van wie ons is – ons mis nie ’n rugbywedstryd nie en Ruhan maak sy eie biltong en wors. Maar ons geniet dit ook om ons kultuur met ander te deel. ’n Voorbeeld hiervan is toe ons vir ’n Sweedse vriendin biltong gegee het en sy mal was daaroor en nou maak sy haar eie biltong. Hierdie ervarings het ons geleer dat ware aanpassing ’n balans is tussen om jouself te bly, en om met respek, nuuskierigheid en ’n oop hart deel te word van jou nuwe omgewing

Ons bestel gewoonlik vanaf Die Spens in Nederland ’n paar produkte oor Kerstyd. Ek maak boerewors, biltong en droëwors vir ons en vir as vriende oorkom. Ons is byvoorbeeld mal oor Judy se ingelegde uie, en met verloop van tyd het ons die resep amper vervolmaak sodat ons nou ons eie uie inlê. Louise bak ook beskuit, al is die meel hier nie so fyn soos Snowflake-meel nie en taamlik grof. Tog het sy geleer om dit aan te pas en dit werk nou goed. Het julle al professionele diensverskaffers gevind wat Afrikaans kan praat – soos dokters, prokureurs of selfs onderwysers? Ons het nog nie diensverskaffers gevind wat Afrikaans praat nie maar heelwat wat al in Suid-Afrika op vakansie was en almal sê hulle sal teruggaan. Ons het al Suid-Afrikaanse kinders in ons skole gehad wat Afrikaans praat, maar die meerderheid kinders is Engels omdat baie van hulle in die buiteland gebore is.

Van Suid-Afrika na Swe­den: behou jou wortels, omhels die nuwe, en wees trots op beide.

Ruhan: Ons het baie geleer van ander kulture in die 14 jaar wat ons uit Suid-Afrika is. Louise: Die grootste verandering in myself sedert ek geëmigreer het, is ’n rustige innerlike vrede. In Swede bring die buitelewe (selfs in die winter), waardering van stilte, en die samelewing se gelyke behandeling van almal, ’n gevoel van aanvaarding en balans wat ek nog nooit so sterk ervaar het nie.

Raad vir ander wat oorweeg om Suid-Afrika te verlaat – doen baie huiswerk voor julle ’n besluit neem. Leer meer oor die land, hul wette, hul kultuur en hoe dit is om daar te woon en te werk. Moenie Suid-Afrika gaan soek in ’n ander land nie – mense vergelyk hul nuwe tuiste met Suid-Afrika, wil nie meng met mense in hul nuwe land nie maar wil ʼn “klein Suid-Afrika” stig in hul nuwe land. Wees bereid om uit jou gemaksone te beweeg, want dis al hoe jy gaan aanpas.

Deel jou storie met ons

Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.

Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels