Om jou land te verlaat is nie altyd ’n droom nie, soms is dit ’n noodsaaklikheid. Partykeer trek jy nie omdat jy wil nie, maar omdat jy moet. Hierdie is Tanja se verhaal: ’n storie van roeping, verlies, oorlewing en ’n verlange wat nie met tyd verdwyn nie.
My naam is Tanja – ’n baie Afrikaanse spelling, en moeilik vir mense hier in die Verenigde Arabiese Emirate om te lees en uit te spreek.
Ek het drie jaar gelede na die VAE verhuis, en ek huil nog oor Suid-Afrika asof ek net gister getrek het.
“As iemand my vra wat ek vir ’n lewe doen, antwoord ek steeds: Ek is ’n maatskaplike werker in Suid-Afrika.” In my hart en siel is ek steeds ’n maatskaplike werker. In Suid-Afrika was dit vir my betekenisvol – vir my én vir die mense en kinders wie se lewens ek elke dag kon raak. Ek was ’n stem vir kinders wat nie self kon praat nie.
Maar vandag kry maatskaplike werkers in Suid-Afrika soms net ’n salaris wanneer die departement besluit om dit te betaal en selfs dan is dit min. Dit is eenvoudig nie genoeg vir ’nalleenmens om van te leef nie. Daarom moes ek trek.
Toe gaan daar ’n deur oop wat ek steeds as genade sien: ’n werk by ’n skool in Abu Dhabi as ’n “special needs”-onderwyseres. Dit is goed. Dit voel soms of ek ’n verskil maak, maar nie op dieselfde manier as toe ek ’n stem vir kinders was nie. Tog is ek dankbaar: ek is veilig, ek kon my eie motor koop en selfs petrol bekostig.
Maar die alleenheid … dit is iets waarvoor niemand jou kan voorberei nie. Ek is nie getroud nie en het nie kinders nie – ek is alleen. Die mense hier kom uit verskillende kulture en tale. Hulle verstaan nie wat jy bedoel met “die robot is rooi” of wat ’n “braaibroodjie” is nie.
Dan probeer jy jouself motiveer met die gedagte: “Jy kan darem nou pensioen opbou.” Jy is veilig. Jy is finansieel meer stabiel.
Maar jy is ver.
Ver van jou mense.
Ver van jou taal.
Ver van jou kultuur.
Ek verlang na jou, Suid-Afrika.
Tanja se storie herinner ons daaraan dat emigrasie nie altyd oor avontuur gaan nie – soms gaan dit oor oorlewing. Dit gaan oor waardigheid, veiligheid en die hoop op stabiliteit. Maar dit neem nooit die verlange weg nie.
Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Swede



















