Malema-vonnis bevestig dat politici nie bo wet verhewe is nie – AfriForum

16/04/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Malema-vonnis bevestig dat politici nie bo wet verhewe is nie – AfriForum

Ondanks Julius Malema, leier van die EFF, en sy regspan se pogings om versagtende omstandighede in die Oos-Londense Landdroshof te betoog, het vandag se vonnisoplegging aan AfriForum bevestig dat niemand, ongeag hul status of politieke posisie, bo die reg verhewe is nie.

Video: Jacques Broodryk (Afrikaans)

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)

Malema is vandag tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. AfriForum beskou die vonnis as ’n belangrike stap om openbare vertroue in die strafregstelsel te herstel. Malema se aansoek om teen die vonnis te appelleer sowel as borg is egter aan hom toegestaan.

Landdros Twanette Olivier

Die vonnis volg ná Malema in September verlede jaar ingevolge die Wet op die Beheer van Vuurwapens skuldig bevind is op vyf aanklagte, insluitend die afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude of openbare gebied sonder genoegsame rede, die onwettige besit van ’n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.

AfriForum se volgehoue druk om Malema te laat vervolg – nadat hy in 2018 verskeie skote in die publiek afgevuur het met ’n vuurwapen – is ’n bewys van wat moontlik is wanneer die burgerlike samelewing weier dat ernstige kriminele gedrag geïgnoreer of verskoon word.

“Die roekelose afvuur van ’n vuurwapen in ’n besige openbare ruimte het ’n werklike en onaanvaarbare risiko vir menselewens ingehou. Dit is verblydend om te sien dat hierdie soort gedrag onder geen omstandighede genormaliseer of geregverdig word nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Wanneer die wet konsekwent en sonder vrees of voorkeur toegepas word, word openbare vertroue in die regstelsel versterk. AfriForum sal voortgaan om die oppergesag van die reg te handhaaf en gelyke aanspreeklikheid vir almal te verseker,” voeg Broodryk by.

Julius Malema

AfriForum het ’n beslissende rol gespeel om te verseker dat hierdie saak voor die hof gebring is. Sonder die organisasie se ingryping en volgehoue druk, sou die saak moontlik nooit in die eerste plek tot verhoor gekom het nie.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, was Malema se optrede vir te lank ongestraf gelaat. “Dit was noodsaaklik dat die hof ’n duidelike boodskap stuur dat niemand bo die reg verhewe is nie. Hoewel dit agt jaar geneem het vir geregtigheid om te seëvier, toon vandag se uitkoms dat volharding saak maak.”

Llewellynn Hemmens en Jacques Broodryk

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels