Daar is sekere geure wat jou onmiddellik huis toe neem – al is “huis” duisende kilometer ver. Vir baie van ons mense wat oorsee woon, is dit juis kos wat herinneringe wakker maak, stories vertel en hulle laat tuis voel. In hierdie uitgawe van ‟Onderneming in die kollig” stel ons ’n onderneming bekend wat presies dít doen: Met elke happie word ’n stukkie herinnering aan Suid-Afrika weer lewendig.
Hierdie week neem ons jou na die Tsjeggiese Republiek waar Saffa Maso klante die geleentheid bied om Suid-Afrikaanse geregte te geniet.
Lees meer oor Saffa Maso
Saffa Maso het begin as ’n aanlyn winkel met tuisgemaakte biltong. ‘n Nuwe hoofstuk in die suksesverhaal het aangebreek toe dit uitgebrei het na ‘n klein bistro.
Die bistro word beskryf as ‘n ‟tuiste ver van die huis” – ‘n plek nie net vir Suid-Afrikaners nie, maar ook vir ander Afrika-gemeenskappe, Tsjegge en uitgewekenes van ander lande.
Daar is sitplek vir ongeveer 25 mense. Benewens goeie kos en drankies is daar ook regstreekse sport op TV – nie net rugby nie, maar ook sokker of krieket.
Wat kookkuns betref, poog die bistro om ‘n alternatief vir tipiese kroegkos en burgers te bied.

Ondernemings soos Saffa Maso wys hoe ons mense hul kultuur, vaardighede en entrepreneursgees saamneem, waar hulle ook al wortelskiet. Dit is juis hierdie stories van aanpas, bou en bydra wat die Wêreldgids so waardevol maak – ’n plek waar Suid-Afrikaanse ondernemings mekaar vind en ondersteun, ongeag landsgrense.
Het jy ook ’n onderneming oorsee, of ken jy een wat verdien om raakgesien te word?
Registreer dit op AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids en word deel van ’n groeiende netwerk wat gehalte, diens en identiteit wêreldwyd sigbaar hou.
Kontak ons by wereldwyd@afriforum.co.za – ons hoor graag jou storie!
Lees ook: Onderneming in die kollig: Lani Law



















