Deur Alana Bailey
In 2025 is die honderdste jaar van Afrikaans as amptelike taal landswyd gevier. Die verrigtinge het vele vorme aangeneem, van die Solidariteit Beweging se instellings wat van Pretoria tot by die Taalmonument met nege reuse letters wat “Afrikaans” spel, getoer het, tot skole en aftreeoorde se inwoners wat hulle gunsteling Afrikaanse spreekwoorde uitgebeeld het. Dan was daar ook die Afrikaans 100-reëlingskomitee se makieties en nog meer funksies en byeenkomste. Hulde is gebring aan mense wat ’n bydrae tot die taal gelewer het en die veelkleurige Afrikaans 100-kenteken is oral opgemerk.

Op 8 Mei 2026 is dit tyd vir die viering van Afrikaans 101. Ongelukkig lyk dit asof hierdie jaar bietjie stiller gaan verloop as 2025. Net omdat 101 nie so ’n ronde syfer as 100 is nie, beteken egter nie ons moet nou ons verwondering aan die taal prysgee nie. Die vlam van die vieringe en feestelikhede moet eintlik nog hoër brand, want ons taal se voortbestaan is ook die voortbestaan van ons mense. Afrikaans maak van ons wie ons is – dit is ons unieke voertuig vir ons denke, dade en emosies.
Al ervaar Afrikaans druk op vele terreine, beteken dit nie dat ons nie baie het om te vier nie. Om slegs ’n paar redes te noem (in geen besondere volgorde nie):
- Ons Afrikaanse skole is van die beste in die wêreld. Van die mees gerespekteerde internasionale universiteite probeer van ons leerders lok om by hulle te kom studeer en jong Afrikaanssprekendes presteer in internasionale kompetisies en loopbane.
- Die tersiêre instellings Sol-Tech en Akademia berei jongmense in Afrikaans op suksesvolle loopbane voor.
- Ons skrywers lewer uitnemende feite en fiksie op. Hulle boeke word vertaal, soms selfs verfilm. Dieselfde geld vir ons digters en ander uitvoerende kunstenaars.
- Mense kla dikwels oor Engelse woorde in Afrikaans, maar tientalle Afrikaanse woorde word ook in Engels opgeneem, byvoorbeeld “veld”, “stoep” en natuurlik “lekker”. In Maart vanjaar het die gesaghebbende Oxford Dictionary of English aangekondig dat nog meer Afrikaanse woorde vir opname goedgekeur is. Dit sluit “bosberaad”, “vrag”, “plakkie” en “bliksem” in!
- Die jongste ontwikkelinge op alle terreine word net so vinnig in Afrikaans vertaal, as wat dit geskied. Luister byvoorbeeld na onderhoude in die Afrikaanse media met dr. Ben Moodie oor die eksperimentele operasie wat hy onlangs uitgevoer het wat moontlik ’n deurbraak vir demensielyers kan wees. Elke prosedure word in perfekte Afrikaans deur hom verduidelik – ’n pluimpie vir dr. Moodie se taalgebruik, maar ook vir die taal wat oor die woordeskat beskik om dit vir hom moontlik te maak. Dieselfde kan op soveel ander terreine genoem word – as jy wil kan jou selfoon of rekenaar selfs in Afrikaans met jou kommunikeer.
- Ons mense is uitnemende entrepreneurs en lojale kliënte. Besighede met pittige Afrikaanse name duik oral op en soos wat onder meer Virseker bewys, wen hulle besigheid deur onbeskaamd Afrikaans te wees.
- Ons media is flink met die jongste nuus, vermaak en ondersoekende joernalistiek. Dit sluit Maroela Media, Netwerk 24 en die jongste toevoeging, Die Papier in.
- Vir nuuskieriges, navorsers, skooltaakslagoffers en ander is daar drie uitnemende oorkoepelende bronne – WEET, die Afrikaanse Wikipedia en Afrikaans.com. Tussen hulle kry hulle webtuistes miljoene trefslae per jaar en sorg hulle dat inligting oor haas enige onderwerp letterlik in Afrikaans op ons vingerpunte beskikbaar is.
As spasie onbeperk was, was die lys veel langer, maar ek is seker elke leser kan aan nog voorbeelde dink. Tog word die vraag steeds gehoor, “Wat kan ek doen om Afrikaans te red?”
Die antwoord is moenie wag vir iemand om iets te doen, namens jou iets te doen of jou te betaal om iets te doen nie. Doen dit net!
Stem met jou voete of jou verdienste – koop Afrikaanse produkte, woon Afrikaanse opvoerings by, neem Afrikaanse boeke by die biblioteek uit, stel jou selfoon se verstektaal op Afrikaans, stuur jou kinders na ’n Afrikaanse skool, moedig mense aan om hulle produkte of dienste in Afrikaans te adverteer, komplimenteer mense met hulle gebruik van Afrikaans (in plaas daarvan om net te kla as hulle nie Afrikaans gebruik nie) en waar ’n telefoonantwoorddiens of OTM vir jou ’n taalkeuse gee, kies Afrikaans.
Te veel mense (myself inkluis) is haastig en kies die maklike opsie om gou Engelse te kies of te praat. Ons vergeet elke keuse word in hierdie eeu van oorywerige tegnologie iewers getel en dan word die somtotale van ons keuses gebruik om verdere ontwikkeling in die taal te motiveer of af te keur.
Dit is nie net die groot instellings soos AfriForum, Solidariteit, die FAK, ATR, ATKV, of watter ander organisasie waaraan jy nog kan dink wat ons taal gaan red nie. Dit gaan gewone sprekers wees, ja selfs die kleinste ratjies wat die groot masjien glad sal laat voortbeweeg.
Vier Afrikaans 101 sommer nou dadelik hard en duidelik, en moedig ook jou vriende en familie aan om dieselfde te doen!
Deel op
"*" indicates required fields
Nuutste artikels



















