Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Annelie Naudé, wat in Boden, Swede woon.
Hallo Annelie, dit is baie lekker om met jou te gesels!
Van waar in Suid-Afrika is julle en waarom het julle besluit om in Swede te gaan woon?
Ons is van Wellington in die Wes-Kaap. My man het ’n geleentheid gekry om as prosesingenieur vir Stegra (voorheen H2 Green Steel) te werk. Die maatskappy bou tans die eerste “groen” staalaanleg in die noorde van Swede. Ek het ook by dieselfde maatskappy werk gekry as finansiële beheerder. Toe ons albei werk kry, het ons besluit om die avontuur aan te pak.
Vertel ons meer van jou gesin.
Ons het twee dogtertjies van vier en ses jaar oud. Die jongste was net 18 maande oud toe ons Swede toe geëmigreer het. Hulle is in ’n Sweedse voorskool en het ná vier maande al Sweeds begin praat.
Vertel ons ’n bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag? Is die lewe rustiger daar en het jy meer tyd om te ontspan of te reis?
Soos enige rol in finansies het ons tye in die maand wat rustiger of besiger is. Ek laai die kinders soggens net voor agt by die skool af en tel hulle weer op wanneer ek klaar gewerk het, gewoonlik tussen 16:30 en 17:00. My werksure is redelik aanpasbaar, so as daar iets by die skool is, werk ek daaromheen.
Die lewe en pas hier is beslis rustiger. Swede is baie gesinsvriendelik en jy kry baie verlofdae om tyd saam met jou kinders deur te bring. Daar is selfs spesiale verlof wanneer jou kind siek is. Dit help baie, veral omdat ons nie familie naby het om te help nie.
Het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?
Die afgelope twee jaar het daar heelwat Suid-Afrikaners hierheen verhuis, so ons het ons eie gemeenskap gevorm wat gereeld saam braai. Die meeste is effens ouer as ons en het basies “instaan-oumas en -oupas” vir ons kinders geword.
Ek het ook goeie vriende met my kollegas geraak. Die munisipaliteit doen baie moeite om nuwe inwoners welkom te laat voel en daar is gereeld gemeenskapsaktiwiteite waar ’n mens ander mense ontmoet. Omdat die projek so groot is en mense van reg oor die wêreld lok, is daar ’n sterk fokus daarop om almal deel van die gemeenskap te laat voel.
Ek leer tans Sweeds deur SFI (Swedish for Immigrants). Een keer per week het ons ná werk drie ure lank klas. My kollegas probeer my ook help en hoewel dit stadig gaan, kan ek al heelwat verstaan wanneer mense met my praat.
Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak? Wat was die grootste aanpassing?
Die weer was beslis die grootste aanpassing. Ons is nie gewoond aan koue en sneeu nie. In Desember kry ons dalk net twee tot drie uur sonlig per dag, terwyl die son in die somer byna heeldag skyn. Dan raak dit moeilik om saans af te skakel as die son nog hoog sit. My man het een Vrydagaand 22:00 gaan fietsry!
Amper sewe maande van die jaar is winter, so jy moet leer om reg aan te trek, anders bly jy net binnenshuis. Ons geniet egter die sneeu baie en het vanjaar begin ski. Dit is harde werk, maar die kinders doen dit sommer maklik.
Watter interessanthede het jy ontdek van die land waar jy woon wat jy nie voorheen geweet het nie?
- Daar is net een drankwinkel in die dorp en dit behoort aan die staat.
- Wanneer mense ’n huis verkoop, vat hulle al die lampe saam, maar die witgoed bly agter. Dit was vreemd om vir elke vertrek ligte te moet koop!
- Jong kinders stap alleen skool toe of ry self bus.
- Die groen van die noorderlig is nie altyd met die blote oog sigbaar nie. Soms sien jy dit net op ’n foto, hoewel daar baie kere is wat jy dit wel duidelik kan sien.
- Sweedse mense eet grootliks dieselfde kos vir Paasfees, “Midsummer” en Kersfees.

Watter lesse het julle as gesin geleer sedert julle verhuis het?
Ons het geleer dat dinge anders kan wees, maar dat die basiese beginsels dieselfde bly. Ons het as gesin nader aan mekaar gegroei, want ons is ver van familie en moet saam plan maak. Kinders is ongelooflik aanpasbaar en leer vinnig. Ek wens soms ek kon soos hulle nuwe tale absorbeer!
Wat beteken jou Afrikaanse wortels vir jou?
Ek sal altyd ’n Suid-Afrikaner in my hart bly. Ons praat steeds Afrikaans met die kinders en maak die kos waarmee ons grootgeword het. Ons het ook by ’n kerk aangesluit en probeer die kinders leer wat dit beteken om deel van ’n geloofsgemeenskap te wees.
Wat is jou gunstelingherinnering van Suid-Afrika?
Die Wes-Kaap se berge en die Weskus se strand. Ook daardie Saterdag-uitstappies na ’n wynplaas waar die kinders op die gras speel terwyl die ouers pizza eet.
Is daar Suid-Afrikaanse winkels of produkte naby julle beskikbaar, of moet julle kreatief raak?
Ongelukkig is daar nie Suid-Afrikaanse diensverskaffers naby ons nie. Daar is wel ’n plek in Stockholm waar mens Suid-Afrikaanse produkte kan koop, maar ons het nog nie daar bestel nie. Gewoonlik vra ons maar ander Suid-Afrikaners om iets saam te bring as iemand gaan kuier.
Ons het al self wors en biltong gemaak in die vriendekring, wat baie help vir die verlange. ’n Vriendin het onlangs koeksisters gemaak en ek bak nou en dan beskuit vir die huis.
Wat sal jy jou emigrasiehoofstuk noem?
“Maak ’n verskil.”
Om die bekende vir iets onbekend te verruil, is nie maklik nie. Nadat ons die werkaanbod aanvaar het, het ons die proses doelbewus probeer uitstel. Dit het gevoel asof ons die “Sweedse deur” probeer toemaak, maar elke keer het dinge net weer uitgewerk dat die deur oopbly. Ons het dit uiteindelik as ’n teken gesien dat dit die plek is waar ons nou moet wees – om nie net deur ons werk ’n verskil te maak nie, maar ook deur die mense wat oor ons pad kom.

Wat sou jy sê is die grootste verandering in jouself sedert julle geëmigreer het?
Ek het nooit gedink ek sou Suid-Afrika verlaat nie. In die begin was dit baie “survival mode”, maar daar kom ’n punt waar die nuwigheid verdwyn en jy besef: Hierdie is nou jou lewe.
Ons het ’n plek en omgewing gevind waar ons gelukkig is. Om vir ’n internasionale maatskappy saam met mense van verskillende kulture te werk, is nie altyd maklik nie, maar dit laat jou groei. Ek dink ek is vandag meer veerkragtig en minder bang vir verandering as voorheen.
Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
























