Deur Alana Bailey
Prof. Pieter Grobbelaar was ’n veelsydige mens wat beide ’n energieke skrywer van jeugverhale en publikasies vir volwassenes was, maar ook ’n toegewyde kultuurhistorikus en volkskundige.
Hy is op Kersdag 1930 in Bloemfontein gebore en het in 1947 aan die Sentraal Hoërskool aldaar gematrikuleer. Daarna het hy aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat ’n BA-graad en jare later ’n meestersgraad in Wysbegeerte behaal.
Aanvanklik het hy skoolgehou, maar toe, soos soveel hoofrolspelers op die Afrikaanse taaltoneel, sy loopbaan as joernalis voortgesit. Aanvanklik was hy by Die Burger in die Kaap werksaam en daarna by Die Volksblad in Bloemfontein. In 1956 is hy as omroeper-regisseur by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) aangestel, waar hy onder meer vir jeugprogramme soos By die boekrak en Skrywers van die toekoms verantwoordelik was. In 1961 het hy uitgewersredakteur by Tafelberg Uitgewers geword. Die volgende jaar het hy hom op die wyn- en vrugteplaas Uitkyk naby Franschhoek gevestig en ’n tyd lank voltyds geboer, totdat hy vanaf 1970 as dosent in Afrikaanse Kultuur- en Volkskunde aan die Universiteit van Stellenbosch aangestel is. Hier het hy in 1981 ’n doktorsgraad met ‘n proefskrif oor Die volksvertelling as kultuuruiting met besondere verwysing na Afrikaans verwerf. Hierna is hy in 1982 as departementshoof en vanaf 1984 professor in die Departement van Afrikaanse Kultuur aan dié universiteit aangestel.
Grobbelaar het uitnemende navorsingswerk oor Afrikaner-volkskunde onderneem en naas vele monografieë, ook onder meer artikels vir die Tydskrif vir Volkskunde en Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis gelewer. As uitkoms van sy soektog na ou Afrikaanse liedjies het hy saam met die sanger Randall Wicomb ’n radioprogram, Die volk as digter, aangebied om hierdie volksmusiek aan luisteraars bekend te stel. Dit het later ook gelei tot televisieprogramme. Sy werk in dié verband kan nie te hoog geag word nie – die mense van wie hy inligting verkry het, is lankal oorlede en sy rekords is dikwels die enigste bronne wat verseker dat van die vroegste volkskunsskeppings in Afrikaans behoue bly.
Aan die einde van 1995 het hy afgetree. Teen dié tyd was hy en sy vrou, Cornelia, in Wellington woonagtig. Hy en sy was skoolmaats wat op 28 Februarie 1953 getroud is. Hulle het vier kinders gehad. Sy is in Desember 2012 in hulle huis in Wellington oorlede en op Saterdag 19 Januarie 2013 het hy in ’n aftreeoord in Worcester gesterf. Hy word onthou as iemand wat soms soos ’n korrelkop kon voorkom, maar ’n sagte hart gehad het en studente, lesers, kykers en luisteraars met sy vertellings betower het en ’n heerlike sin vir humor gehad het.
Grobbelaar het ’n ryk kultuurhistoriese erfenis nagelaat. Dit sluit bekende kinderboeke oor Suid-Afrikaanse helde en volksverhale oor Wolf en Jakkals in, asook hervertellings van Europese sprokies. Daarbenewens was hy redakteur van kultuurhistoriese publikasies soos die standaardreeks, Die Afrikaner en sy kultuur. Daarbenewens het digbundels en bundels volksrympies, kortverhale vir volwassenes, jeugromans, bydraes vir verskeie ensiklopedieë en vele, vele meer uit sy pen gevloei.
Vir sy werk is hy onder meer bekroon met die C.P. Hoogenhout-prys (1968) vir Die mooiste Afrikaanse sprokies en in 1971 met die Tienie Holloway-medalje vir Trippe trappe trone en al sy kleuterboeke wat geskik is vir hardop voorlees. Ander toekennings sluit dié van die Genootskap vir Afrikaanse Volkskunde, ATKV, FAK, Federasie van Rapportryerskorpse, Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kultuurgeskiedenis en die Stellenbosse Woordfees in. Een van sy unieke prestasies is die Artes-toekenning wat hy in 1986 vir die beste radioprogram verwerf het met sy reeks programme oor Afrikaanse volksliedjies.
Jonathan Ball-uitgewers beskryf Grobbelaar as bobaas verteller wat beskou word as “die belangrikste skrywer van Suid-Afrikaanse volksverhale – wat hy met die grootste sorg en liefde versamel, opgeneem en neergeskryf het – uit ’n magdom van bronne wat nie net in Suid-Afrika nie, maar oral oor die wêreld geraadpleeg is”. In resensies beklemtoon kenners soos prof. Magdaleen Bester, Ferdi Greyling en Amanda Botha sy pragtige, maar lekkerlees Afrikaanse taalgebruik wat dit vir oud en jonk maklik maak om sy werke self te lees of voor te lees. Hierdie tydlose stories word gereeld heruitgegee en bied steeds leesgenot aan nuwe geslagte Afrikaanse lesers.
Deel op
"*" indicates required fields
Nuutste artikels



















