Natuurhoekie 82: Op vlerke: Mopani Ruskamp, ’n bosnagapie én ’n klein leeutjie

18/08/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Natuurhoekie 82: Op vlerke: Mopani Ruskamp, ’n bosnagapie én ’n klein leeutjie

Deur André Christof

Kom reis weer saam in die Nasionale Krugerwildtuin met André en Katie van Op vlerke. Hierdie keer besoek ons Mopani Ruskamp.

Hierdie kamp lê aan die oewer van die Pionierdam. Al die geboue in die kamp is van natuurlike materiale insluitend plaaslike growwe klip om saam te smelt met die rotsagtige landskap en die uitlope waarlangs dit gebou is.

Op pad na die noorde besluit ons een jaar om vlugtig daar ’n draai te gaan maak.

Ons beloer so van ’n afstand die ingangshek van klip onder ’n grasdak, die hekhuis aan die linkerkant met die naam Mopani op die muur gegraveer in ’n yslike groot houtbord van digte, duursame mopaniehout met sy ryk kleur en unieke grein. Die letters is mosterdkleurig en kursief, met die hoofletter M in die vorm van twee saamgestelde mopanieblare aan ’n gemeenskaplike steel, die blare liggroen.

Anderkant die hek ry ons verby stamlose aalwyne onder bome wat weerskante van die pad op ’n ry af staan. Ook sien ons daarvan onder bome by die ontvangslokaal en regs verby die vulstasie waar ’n mens afdraai na die piekniekarea vir dagbesoekers.

En die voëltjies geséls.

Tjié-tjié-tjié-tjié-trrr, tjié-tjié-tjié-tjié-trrr, roep een.

Trrr-tjree-tjrrrr, trrr-tjree-tjrrrr, trrr-tjree-tjrrrr, laat ’n kleinglansspreeu van hom hoor.

Maar nou trek drie kwêvoëls ons aandag – twee waar hulle bo in ’n boom ’n entjie van die vulstasie af op ’n tak sit en nou en dan hul kras nasale kwêêê, kwêêê geroep luidrugtig laat hoor. Hulle het ’n byna eenvormige asgrys verekleed met lang sterte en ’n yl, lang, agtertoegeboë kuif wat bykans vertikaal gelig kan word. Die sterk afgeboë snawels is swart en hul verekleed is donkergrys op die ken en keel, bleekgrys om die oë en op die pens, met hul borsverekleed effens olyfkleurig getint.

Die derde een is op ’n stuk gras aan die onderkant van ’n boom doenig. Hy staan onder die sproei van ’n sprinkelaar in ’n poeletjie water wat daar gevorm het. Nou laat sak hy sy voorlyf, dan wikkel hy sy vlerke, ’n mens sien net water spat. So tussendeur pof hy sy vere, elke nou en dan kom hy regop, dan laat sak hy weer sy voorlyf. Soms strek hy ’n vlerk bokant sy rug uit, groot oop. Hy leun so óór na die anderkant toe, na ’n wyle maak hy die vlerk toe, wikkel beide vlerke, daarna kom die ander een aan die beurt. Later maak hy sy vlerke na weerskante toe oop met sy voorlyf laag oor die grond gesak. Na ’n tyd skud hy sy lyf weer dat die water so spat, dan vlieg hy terug na die boom waar hy aan die onderkant op ’n tak gaan sit om nou sy vere te versorg.

Die kamp beskik ook oor ’n verskeidenheid boswilgbome, vaalboom- en struikmopanies. Ons maak ’n draai by die piekniekarea met braaigeriewe vir dagbesoekers, gaan teen ’n afdraande af en beloer die kenmerkende groot knoetserige ou kremetartboom in die hartjie van die kamp met sy ronde afgeplatte kroon waarin uilneste bo in die massiewe stam gesien kan word.

So ’n ent verder hou ons op die parkeerarea aan die voorkant van die grasdak-restaurant- en winkelkompleks stil. Dit kyk oor die Pionierdam uit. Ons gaan maak eers ’n draai in die winkel en bekyk die aandenkings. Veral die opgestopte speelgoeddiertjies trek, soos altyd as ons daar is, die aandag.

By die huis het ons so ’n speelgoedleeu met ’n woeste dos donkerbruin maanhare en sulke gelerige oë wat Kate op ’n keer daar gekoop het, asook ’n bosnagapie wat effe groter is. Laasgenoemde het ’n lang, dik stert, wat ’n mens om sy lyf soos ’n kombers kan draai en groot ronde oë. In die natuur is hierdie bosnagapie die een wat sulke luidrugtige háá, háá, háá, háá, háá-krete in die nag skreeu. Dan het ons ook ’n klein speelgoedleeutjie, met so ’n donkerbruin kwas aan die punt van sy stert, wat eintlik ’n sleutelhouer is, om die driemanskap te voltooi. Ek het ook so ’n enetjie as sleutelhouer vir my kar.

Later die dag beweeg ons deur die uitgang na ’n houtdek waar mense by tafels sit en iets te ete vanaf die kafeteria nuttig. Ons loop links daarvan oor ’n platform tussen klippilare onder ’n grasdak deur na die uitsigpunt wat ’n ent van die kamp se omheining af oor die dam uitkyk.

Op pad daarheen beloer ons die klipperige veld met natuurlike plantegroei wat onderkant die platform skuins teen die kop af loop – die mopanies groei struikagtig hier. Regs daarvan, aan die onderkant van die houtdek, is hier en daar ’n rots, ’n bankie vir twee en trappe wat van die kafeteria se kant af daarheen loop.

Ons gewaar ’n pantserakkedis wat op warmkleurige klippe in die son sit en bak. Die akkedis het ’n betreklik klein afgeplatte kop en plat lyf. Sy bene is kort en sy agterkant is donkerbruin tot swart. Sy skubbe is plaatagtig met kolletjies geel gevlek, wat ’n gespikkelde dwarspatroon skep. Sy keel is vuilwit en sy pens ligbruin.

By die uitsigpunt kyk ons oor die plantegroei uit. Dis net water waar jy kyk, tot doer links om die draai, spieëlglad, met inhamme afgeëts teen ’n see van herfskleurige mopanies in die agtergrond.

Trrrrrrr, trrrrrrr, trrrrrrr, laat ’n kuifkophoutkapper links van ons in die mopanies van hom hoor. Dit is ’n mannetjie wat so hard en trillende roep. Dié kleurvolle voëltjie het ’n dik bleekgeel snawel met ’n donker punt. Sy helderkleurige vere en klein, ruie swart kuifie is onmiskenbaar.

Ons besluit om voor ons die pad vat, eers ’n draai aan die anderkant van die kompleks te gaan maak en te sien wat daar te besigtig is. Ons loop terug na die houtdek en gaan weer verby die mense wat by die tafeltjies sit en verversings van die kafeteria nuttig.

’n Entjie verder loop ons links van die restaurant wat oor die dam uitkyk verby, volg ’n houtvoetpaadjie skuins af na waar ’n dameskroeg voor yslike ronderug rotse op ’n vlak onderkant die restaurant geleë is, en bekyk ’n trop waterbokke wat aan die oorkant al langs die water af aangestap kom.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels