Boerebande in verre lande 5: ’n Boeregedenkteken in die hart van Portugal

02/05/2025
| Deur Alana Bailey
Boerebande in verre lande 5

Deur Alana Bailey

Te midde van die gewoel van Lissabon, hoofstad van Portugal, is ’n klein groen oase wat tans as die Engelse of Britse begraafplaas (Cemitério Inglês – sien www.britishcemeterylisbon.com) bekendstaan. Aanvanklik was dit as Britse en Nederlandse begraafplaas bekend. Dit is ongeveer driehonderd jaar oud en vir twee eeue hiervan was dit die enigste Protestantse begraafplaas in die stad. Tans word dit in trust gehou deur die St. George-kerk, wat in 1889 aldaar gebou is en steeds die Britse gemeenskap in Lissabon dien. Omdat die kerk soveel later eers opgerig is, sal ek na die terrein as ’n begraafplaas verwys, en nie ’n kerkhof nie.

Naby die ingang in die middel van ’n mosbegroeide voetpaadjie tussen skaduryke bome, staan ’n monument vir gestorwe Boeregeïnterneerdes in Portugal – die stil getuie van ’n stukkie geskiedenis waarvan min Afrikaners en Portugese vandag weet.

Tydens die Anglo-Boereoorlog het ’n groep Boere besluit om die Mosambiekse grens oor te steek. Enkele gewondes het ook daar beland. Die Portugese owerhede was simpatiek teenoor hulle, maar moes diplomatieke bande met Brittanje respekteer. Die groep is dus deur die Portugese geïnterneer. Hulle het uit ongeveer 1 019 mans en vrouens bestaan, insluitend 154 kinders jonger as 16 jaar. Hulle het selfs buitelanders wat sterk met die Boere geassosieer het, ingesluit.

Omdat daar nie voldoende behuising vir die groep in Lourenço Marques (die hedendaagse Maputo) was nie, het die Portugese owerhede besluit om die Boere na Portugal oor te plaas. Daar is hulle in kleiner groepe in verskeie dorpe, naamlik Abrantes, Alcobaça, Caldas da Rainha, Oeiras, Peniche en Tomar geïnterneer.

Hulle het heelwat vryheid gehad en onder meer sport beoefen, op uitstappies na besienswaardighede soos Batalha se klooster gegaan en hegte vriendskappe met die plaaslike bevolking gesluit. Na afloop van die oorlog in 1902 is die meeste van hulle gerepatrieer. In die tyd wat hulle in Portugal vertoef het, is verskeie kinders gebore, maar sestien lede van die groep is ook daar oorlede en begrawe.

Dit is interessant om te sien waar die gestorwenes gebore is – dit bied ’n beeld van die smeltkroes waaruit ons gemeenskap gebore is. Hulle was naamlik:

  • Willem Jacobus Botha (gebore in Somerset-Oos, Kaapkolonie).
  • Andries Schalk Willem Brits (gebore in Fauresmith, Vrystaat).
  • Stephanus Johannes Hendrik Coetzee (geboorteplek onbekend).
  • Nicolaas Johannes de Bruyn (gebore in Caldas da Rainha op 10 Oktober 1901 en daar oorlede op 5 Desember 1901).
  • Johannes Petrus du Plessis (gebore in Middelburg, Kaapkolonie).
  • Walter Hardinge (gebore in Chicago, VSA).
  • Johannes Christoffel Nel (gebore in die Kaapkolonie).
  • John Andrew Odman (gebore in Swede).
  • Babadogtertjie Pelser (ongedoop oorlede, gebore in Caldas da Rainha op 4 Junie 1901 en daar oorlede op 6 Junie 1901).
  • Matthys van As Pretorius (gebore in die Kaapkolonie).
  • Thomas Barend Beresford Richards (gebore in die Kaapkolonie).
  • Willem Abraham Trollip (gebore in Caldas da Rainha op 13 Junie 1902 en dieselfde dag daar oorlede).
  • Charel/Karl Jacob Vorster (gebore in Colesberg, Kaapkolonie).
  • Carl Walz (gebore in Duitsland).
  • Pieter Jurgens Wessels (gebore in die Transvaal).
  • Samuel Gerardus Zijp (gebore op 17 Junie 1902 in Caldas da Rainha en daar oorlede op 14 Julie 1902).

Die sterftesyfer wat persentasiegewys baie laag in vergelyking met dié van Boerekrygsgevangenes elders en diegene in plaaslike konsentrasiekampe is, bewys die medemenslikheid en deernis waarmee die Portugese hierdie groep behandel het.

Na 1910 het die Britse Departement van Kolonies besluit om gedenktekens op te rig vir Boerekrygsgevangenes en -geïnterneerdes wat in die vreemde gesterf het. Die regering van die Unie van Suid-Afrika het op 23 September 1910 ingestem om by verkryging van meer inligting, vir die koste daarvan in te staan. Omdat die oorlede geïnterneerdes op vyf verskillende plekke in Portugal begrawe is, moes besluit word wat die mees geskikte plek of plekke daarvoor sou wees. In 1912 is besluit om een sentrale monument in die Britse Begraafplaas in Lissabon op te rig.

Die ontwerp wat gekies is, is ’n gedenknaald wat met ’n kruis bekroon is. Dit is rofweg vyf meter hoog en gemaak van Portugese rooi marmer. Dit sou naby die graf van Johannes Christoffel Nel, wat op 22 Junie 1902 in Lissabon oorlede is, staan. Later is besluit om Nel onder die monument te herbegrawe.

Alle inskripsies is beide in Nederlands en Engels aangebring en oor die vier panele van die voetstuk versprei. Die hoofinskripsie lui:

DIT GEDENKTEKEN, TER GEDACHTENIS VAN BOEREN KRIJGS-GEVANGENEN
DIE OVERLEDEN ZIJN TIJDENS HUN GEVANGENSCHAP IN HET
BINNENLAND VAN PORTUGAL GEDURENDE DE JARE 1900 TOT 1903,
WERD OPGERICHT EN PLECHTIGLIK INGEWIJD IN HET JAAR ONZES HEREN 1913,
OP LAST VAN DE REGERING VAN DE UNIE VAN ZUID-AFRIKA,
ZIJNDE TE DIEN TIJDE VISCOUNT GLADSTONE G.C.M.G. ZIJN MAJESTEIT’S GOEVERNEUR-GENERAAL,
EN DE HOOGEDELACHTBARE HEER LOUIS BOTHA EERSTE MINISTER.

DE NAMEN DER BOVENGENOEMDE KRIJGSGEVANGENEN ZIJN HIER INGESCHREVEN.

Dit is nie heeltemal korrek nie, aangesien hulle geïnterneerdes was, nie krygsgevangenes nie, en eers in 1901 na Portugal gestuur is.

Die Britse gesant in Lissabon, sir Arthur Hardinge, en die Britse gesantskapskapelaan, dr. E. Lewis, het Bybeltekste gekies wat saam met die gestorwenes se name op die monument aangebring is. Hulle keuse het op Psalm 126 verse 4 en 5, asook Psalm 85 vers 2 en Psalm 51 vers 20 geval. Hardinge het gesê dat dié verse die smart en hoop van die Boere in ’n donker tyd in hulle geskiedenis uitdruk, asook dank teenoor die hemel vir die herstel van selfregering en vrede.

Die monument is op 28 April 1913 onthul. Hardinge het tydens die seremonie die hoop uitgespreek dat dit ’n simbool van rekonsiliasie tussen Afrikaans- en Engelssprekendes sou word. Met verwysing na die gestorwe geïnterneerdes, het hy gesê dat hulle lot meer tragies was as die van diegene wat tuis op slagvelde gesneuwel het, want:

… they were destined to taste to the bitter end, the solitude and the weariness of exile, and far from the familiar scenes of home, to find, one by one, their graves in this friendly but foreign land …

Vandag staan die monument steeds as herinnering aan hierdie fassinerende stukkie geskiedenis, maar selfs die opsigter van die begraafplaas dra nie kennis daarvan nie. By navraag het hy my vriendelik probeer help en na grafte van Britse soldate verwys. Bloot toevallig het ek op pad daarheen die teken herken van foto’s wat ek voor die tyd bestudeer het.

Om daar tyd te verwyl, is rustig en aangrypend. Soos Hardinge genoem het, is die beeld van iemand wat ver van huis en haard sterf, tragies. Omheen is vele praalgrafte, maar ook eenvoudige grafstene. Dit kom voor asof mense steeds daar begrawe word. Voëls baljaar in die vreedsame omgewing. Verderaan is die ligpienk kerkgebou tussen die bome sigbaar, waar die huidige kapelaan my ook vriendelik verwelkom het. Besoekers aan die begraafplaas is gewoonlik op soek na die graf van die beroemde Britse skrywer, Henry Fielding (1707-1754). Hopelik sal hierdie artikel meer mense aanspoor om die baken in ons geskiedenis te gaan opsoek.

Die verhaal van die geïnterneerdes is uiters volledig deur die historikus, prof. O.J.O. Ferreira, aangeteken in sy boek, Viva os Boers! Boeregeïnterneerdes in Portugal tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902. Belangstellendes kan dit gerus raadpleeg om meer oor hulle wel en weë te wete te kom.

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels