Deur Ilze Nieuwoudt
Op 22 Februarie 1707 het ’n jong man Hendrik Bibault dié legendariese woorde uitgeroep. Dit was net nadat dit bekend geword het dat inwoners van Stellenbosch se stryd teen die omstrede goewerneur W.A. van der Stel en verskeie hoë amptenare suksesvol was. Die goewerneur en sekere amptenare is hierna uit die Kaap verban.
Die joligheid het wyd uitgekring en Bibault en sy vriende het in ’n onderonsie met ’n plaaslike meulenaar betrokke geraak. Die landdros het ingegryp en die klomp met ’n rottang bygedam waarop Bibault dié woorde uitgeroep het. Hierdie verwysing na “Africaander” is uitsonderlik aangesien hy hiermee bedoel het dat hy in Afrika gebore is en nie ’n buitelander (soos talle Nederlanders of Franse aan die Kaap) was nie.
Die vestiging van Afrikaners as ’n groep met ’n eie identiteit het dus aan die Kaap begin posvat. Volgens die boek Die Afrikaanse kultuuralmanak dui “hierdie gevoel van andersoortigheid, van verbondenheid aan hierdie aarde as vaderland … op ’n ontwakende identiteitsbewussyn en sou later lei tot die ontstaan van ’n eie identiteit en nasionale bewussyn by die Afrikaner.”