Januarie 2026 se vloede: Wanneer die natuur beeldhou en dan weer breek …

27/05/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Met vergunning van Naledi Game Lodge

Deur André Christof

Sommige foto’s van André Christof en ander met vergunning van Naledi Game Lodge

’n Tyd gelede, in een van my skrywes, Die Olifantsriviervallei, die natuurlewe, kragtige prag, het ek die skoonheid van die vallei en die natuurlewe langs ’n sytak van die Olifantsrivier beskryf. Daar waar die magtige rivier uit die noorde in ’n digbebosde area deur ’n wildreservaat loop, rúík ’n mens die veld. Opmerklik is die massiewe bome, tipies van daardie langs die groot riviere, asook vroegoggend se mistigheid oor die water – só misterieus tussen die bome deur teen die hang, die blaredak, die voëllewe, die geluide, die diere.

Toe was die watervlak in die rivier baie laag. ’n Groot gedeelte van die rivierbedding kon gesien word. Diere was volop en het gereeld daar rondbeweeg.

Op ’n plek, regs van die rivier, was daar in ’n oop stuk veld ’n paar imposante gewone trosvybome met hulle ronde wye krone gesprei, die stamme massief en kort, wat laag in baie dik takke verdeel, die geelbruin stamme, party met sulke groot oorlangse riwwe aan die basis. Een gewone trosvy het so ’n ýslike dik stam met reuse stutwortels gehad. Diep riwwe, wat sy ouderdom wys, het al tekens van verwering getoon.

Die bas op sy jong takke was bedek met lang hare, groenerig geel, en skilferend in papieragtige stroke op ouer takke en stingels. Vye was in groot hoeveelhede in diggepakte trosse op die veelvertakte vrugdraende takkies. Aanvanklik is dié vye groenerig, maar word geel- tot donkerrooi wanneer hulle ryp is.

Jy kon dikwels sien hoe ’n kameelperd onder ’n gewone trosvy staan, sy nek na ’n dik tak bokant hom strek, sy kop lig en dan met sy lang blou tong die vruggies wat heeljaar beskikbaar is, nadertrek.

’n Ent in die rivier op het daar sommer ’n hele klomp van dié bome op ’n ry af al langs die water teen die skuinste van die wal gestaan, sekeres digby mekaar, die wortelstelsels duidelik sigbaar.

Aan die bokant op die wal was ’n apiesdoring met sy wye kroon sigbaar, herkenbaar aan sy stam en takke se geel-wit kurkagtige bas.

Laatmiddag het die son se strale soos sterretjies in die water geflikker en gevonkel. Dit het gaandeweg oor die lengte van die rivier onderkant ’n safari-kamp uitgesprei soos ’n see van fosfor.

In Januarie 2026 het vloede ’n spoor van verwoesting oor ’n groot gebied in die noorde van die Nasionale Krugerwildtuin en elders gelaat. Met riviere in vloed is ruskampe in die noorde getref. So ook is die Olifantsrivier en die natuur daarlangs nie gespaar nie.

Die oorsaak van die vloede was intense reënval wat middel-November 2025 begin het. Dit was ’n indikasie van die vroeë begin van ’n nat seisoen. Die watervlak het by die dag gestyg en die geruis van die water het daagliks in intensiteit toegeneem. Teen 7 Desember was die rivier kant en wal. Die wortelstelsels van daardie gewone trosvybome teen die regterkantse wal was beswaarlik sigbaar, maar die vrolike getjirp van die voëltjies bo die toenemende geruis van die water was steeds treffend.

Meer swaar reënval het die streek op 26 Desember getref. Op 28 Desember was die water rooi van die grond, maar steeds het ’n gewone tortelduif vroegoggend opgewek koek-koer-koek koek-koerr-koek koek-koer-koek in die verte geroep.

Van vroeg in Januarie het die swaar reënval verder toegeneem en was die watervlak al hoër en die rivier al breër. Die oggend van 11 Januarie het ’n bosveldvisvanger nog trrrp-tŕŕŕŕŕŕŕŕ, trrrp-tŕŕŕŕŕŕŕŕ, trrrp-tŕŕŕŕŕŕŕŕ gesels en’n hadida háá, háá, ha háá van hom laat hoor, terwyl die weer al donkerder geword en die reën intenser geval het.

Laat die middag kon ’n mens dik saamgepakte donkergrys wolke helder verlig sien – sekondes later het ’n oorverdowende donderslag gevolg, dan ’n gerammel wat wyd uitkring en wegsterf, met bykans onmiddellik ’n volgende weerligstraal!

Nie lank nie, toe was daar sommer ’n hele rits flitse, gevolg deur aaneenlopende gerammel. Helder ligte het aan die wolke gesit soos dit die aarde met donderslae in die heuwels kasty het.

Die mees ekstreme reënval het tussen 10 en 19 Januarie plaasgevind. Die oggend van 14 Januarie het water aan die onderste takke van die gewone trosvybome geraak en was die aanliggende veld oorstroom. Stortreën het daardie dag in die gebied uitgesak, wat die watervlak drasties laat styg het. Laat daardie middag het ontwortelde bome in die skemerte in die rivier af gekom. Die water, in die middel van die rivier se onstuimige stroomversnellings het takke, bome en plantegroei met ’n oorverdowende geruis meegesleur … ja, die son het toe ook vir daardie bome en plantegroei gesak.

Die aand kon ’n mens, met behulp van beligting vanwaar regstreeks gestroom is, beelde soos deur die videokamera vasgevang sien: ’n Gordyn van stortreën het op die water geval met daaragter miljoene hoogspattende druppels. Dit het soos hael geklink, met tussendeur die geluid van stompe wat bots en takke wat klap. Die kamera het volgende op die wal teen die kant gefokus waar die watervlak skrikwekkend vinnig aan die styg was. Binne ’n ommesientjie was die kabelleiding na die kamera toe onder die water en die volgende oomblik was die beeld weg – als pikdonker.

Die eerste beeldmateriaal wat weer van die rivier en die skade daar te siene was, was op 21 Maart, na die videokamera weer opgestel en die stromingsdiens hervat is.

En wat ’n verwoesting, gekarnuffel en verniel was dit nie! Met die eerste oogopslag was mens stomgeslaan, het jy gesukkel om als in te neem, nie geweet waar om eerste te kyk nie. Die kamera het, waar dit in die heuwelagtige gebied teen die baie steil helling bokant die linkerkantse wal opgestel was, grotendeels aan daardie kant in die rivier op gefokus.

Die watervlak het toe al baie gesak. ’n Hele ent weg was daar ’n paar sandbanke aan die linkerkant in die rivier te sien, eilande met gras op. ’n Seekoei het daar aan die groenigheid staan en wei. Verder al teen die kant af is die wal weggekalwe en rotse oopgespoel.

Die kamera het toe nog nie die regterkantse oewer volledig gewys nie, maar net so ’n stukkie om die draai, doer in die rivier op. Jy kon dus nie die skade wat daar regs in die rivier stroomaf aangerig is, sien nie, en ook nie of daardie massiewe gewone trosvybome nog daar staan nie.

Later het die hele prentjie meer duidelik geword toe beeldmateriaal stuk-stuk gewys is: Eers die linkerkantse oewer vanwaar die kamera teen die hang gemonteer is, daarna stelselmatig al teen die kant op tot waar die water met so ’n draai uit die noorde na links in die rivier af kom, dan weer daar, al teen die regterkant af, so ’n ent weg.

Terwyl ’n mens nou die skade wat aan die linkerkant aangerig is, probeer verwerk, wonder jy gedurig: Wat het van die massiewe gewone trosvybome op die regterkantse oewer geword, staan hulle nog? Is die grond daar nie net erg verspoel nie? Alle aanduidings van die wonde wat die water elders gelaat het, is dat daar niks is nie, als is platgevee.

In die heuwelagtige gebied teen die baie steil helling, lê ’n paar droë bome oor rotse gedrapeer, die stamme met hier en daar enkele dik takke wat die lug in troon, so grys-wit van kleur. Opdrifsels sit in die takke van ’n boom wat lank gelede omgeval het vasgevang van die grond af tot so ’n paar meter bo die grond. ’n Groot deel van die oewer is deur vloedwater weggespoel. ’n Klipperige paadjie wat al langs die kant in die rigting van die reservaat se boskamp loop, is nog meer skuinslopend na die water toe weggekalwe en nou moeiliker begaanbaar.

Diere maak gereeld gebruik van daardie paadjie wat van ’n hele ent weg uit die veld aan die bokant af kronkel, veral bobbejane. Nou en dan is daar ook ’n bosbok, leeus, ’n luiperd, olifante, seekoeie en per geleentheid, ystervarke in die nag.

Een van die boskamp se grasdakwooneenhede kan tussen die bome deur gesien word. Die vloedwater moes verseker ná die wal oorstroom is, tot bykans by die luukse eenhede gestyg het.

Al voor die wooneenhede verby was rye skanskorwe aangebring, van onder in die rivierbedding af teen die wal uit tot aan die bokant. Dit lê soos massiewe stelle trappe daar en moes as keerwal teen erosie dien, maar die wal is weggekalwe en die grootste gedeelte van die skanskorwe is deur die krag van die vloedwater meegesleur. Waar die strukture voor die tweede wooneenheid teen die wal uit weggespoel is, is nou net ’n netwerk van boomwortels te sien.

Verder, al teen die kant op, is aaneenlopende diep gapende wonde van rooi grond, soos die res van die skanskorwe meegesleur en die wal weggekalwe is, plantegroei en al. Onderkant die wal in die rivierbedding is rotse en ’n klipperigheid tot bo by die draai in die rivier te sien. Die natuur het nou van die land gesteel wat hy lank terug gegee het.

Opdrifsels is oral te sien – dit sit op plekke meters hoog in daardie bome en struike wat die aanslag oorleef het.

’n Ent weg staan ’n njalaboom, wat nie voorheen so opsigtelik was nie. Dit is massief meerstammig, met ’n wydspreiende, digte, ronderige kroon, alleenstaande op die nuutgevormde wal voor hom. Al langs die rivier af sien jy net rooi grond en dan natuurlik die wal weerskante met die diep gapende wonde.

Aan die regterkant van die rivier, stroomaf, lyk dit nét so erg. Om die draai is ’n klomp rotse wat bymekaar teen die kant lê, ontbloot – van klein tot massiewe ronderugrotse wat voorheen met grond bedek was. ’n Uitham met plantegroei op het oor die jare daar gevorm waar ’n yslik-grote gewone trosvyboom teen die wal uit  gestaan het. Daar was ook heelparty ander ’n ent teen die golwende oewer af.

Daardie uitham is nou, met rente, deur die vloedwater weggespoel, so ook ’n groot deel van die golwende oewer teen die kant af, op plekke met sulke happe in. Die natuur het nou ook daar van die land gesteel, wat hy lank terug gegee het.

’n Mens sien net rooi grond met letsels wat die vloed gelaat het, wat nou die nuutgevormde, yslike, bykans regaf wal geword het. En dan, daar waar die uitham weggespoel is, lê die stam en ander oorblyfsels van die enorme gewone trosvy wat eens daar gestaan het. Nou lê dit oor die ronderugrotse gedrapeer.

Van die enorme wortelstelsel het nog net stukke oorgebly, die patrone daarvan woes verstrengel, geknak, met geen grond of klipperigheid daarin vasgevang nie. In die agtergrond lê die res van die wortelstelsel afgebreek teen die baie skuins wal. Nou hoef ’n mens ook nie meer te wonder wat van daardie ander klomp gewone trosvybome geword het, waarvan daar, voor die vloede, sommer ’n hele ry al langs die water teen die skuinste van die wal gestaan het nie.

Op heelparty plekke is die wortelstelsels, stamme en takke van daardie groot bome nou in stukke teen die wal uit te sien.

’n Ent weg veld in, anderkant die plek waar die gewone trosvybome gestaan het, sien jy opdrifsels tot waar die water sy merk gelaat het. Ook daar het plantegroei nie van die natuur se krag ontsnap nie. Verder stroomaf het die vloed ’n breë sanderige strook gelaat. Op ’n plek loop dit terrasgewys op na die veld toe. Daar is die grond wit en sanderig, met welige plantegroei in die heuwelagtige gebied in die agtergrond.

En die water vloei na die tyd nou rustig in ’n westelike rigting, daar waar die asemrowendste weerkaatsende sonsondergange gesien kan word – die warm kleure dikwels in wolke vasgevang, die rande by tye goudgeel. Op wolklose dae is die water en hemelruim skakering lig- tot dieproos geverf, op mooiweersdae, laatmiddag, weerkaats die lug in die water, so ’n helder hemelblou.

Nota:

Gewone trosvybome kan enigiets tussen 50 en 150 jaar oud word. In Israel is daar een wat oor die duisend jaar oud is. Sy stam se omtrek is by die 14 meter.

Deel op

Nuutste artikels