’n Kind se geloof – onvoorwaardelik en eerlik. Vasgevang in die stilte van aanbidding.

30/10/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
’n Kind se geloof – onvoorwaardelik en eerlik. Vasgevang in die stilte van aanbidding.

Ané Sieberhagen skryf: Ek het vir my uitstalling, genaamd Van Afrika tot Amsterdam – Waar stories grense oorsteek en harte aanraak, by Afrikaans is Lekker 2025 in die Amsterdam Theater, ’n hele reeks foto’s en stories saamgestel.

Hierdie uitstalling het ontstaan uit my verlange om twee wêrelde – Suid-Afrika en Nederland – bymekaar te bring in een storie. Dis nie net foto’s nie; dis gevoel, klank en herinnering wat saamvloei.

Ek wou hê mense moes dit beleef, nie net sien nie. Elke besoeker het met oorfone na ’n lied geluister wat met ’n foto verbind is. Terwyl die musiek speel, kyk jy … jy voel … jy raak deel van die oomblik. Wanneer die laaste noot wegsterf, ontvang jy die storie agter die beeld – die emosie, die betekenis, die stem daaragter.

Lied: “Die Gelofte” – Juanita du Plessis, Ghapi, Jo Black, Demi Lee Moore, Bobby van Jaarsveld, Appel, Ruhan du Toit, Corlea, Riaan Benadé, en die Elarduspark Kinderkoor

Onthou jy nog?
Toe geloof eenvoudig was.
Toe ons hande vou voor ete en fluistergebede saggies opsê.

Ons het nie alles verstaan nie,
maar ons het geglo –
want dit was genoeg om net te wéés.

Die lewe vat ons ver:
na kouer grond, nuwe paaie, onbekende tale.
Waar min nog bid …
maar êrens diep binne bly daardie sagte ritme van huis,
die klop van geloof wat nie verdwyn nie.

Ek staan in ’n kerk.
Dis tjoepstil.
Heilig.

My dogter, vyf jaar oud, stap stadig vorentoe.
Sy kyk op – oë groot, hande oop –
en ek sien hoe sy Hom sien.
Sonder woorde, sonder vrees.
Net daardie suiwer wete van ’n kind wat weet: Hy’s hier.

Sy strek haar armpies uit,
soos Jesus aan die kruis,
soos iemand wat Hom lankal ken.
En vir ’n oomblik is dit net hulle twee:
sy, en Hy.

’n Sagte heiligheid vul die ruimte –
’n stil gesprek sonder klank,
asof Jesus self vir haar fluister:

“Ek sien jou, my kind.”

Wanneer die eerste note van “Die Gelofte” begin speel,
voel ek hoe geloof my weer kom vind.
Nie met woorde of redes nie,
maar met oorgawe.
Deur haar.
Deur hierdie oomblik.

Dis geloof …
soos ’n kind.

En miskien is dit juis dít,  die wonder van geloof wat bly leef, selfs tussen wêrelde – wat Ané se werk so besonders maak. In elke foto, in elke storie, lê daar ’n herinnering aan huis, aan eenvoud, aan die onuitspreeklike skoonheid van om te glo sonder om te verstaan.

Tussen die note van “Die Gelofte” en die fluister van ’n kind se gebed, vind ons iets wat grense oorsteek: ’n tuiskoms van die hart.

Want geloof, soos liefde, ken geen landsgrense nie – dit woon in die stilte waar ons weer leer om soos ’n kind te glo.

Deel jou ervaring met ons, ’n gedig, ’n storie, of net ’n paar woorde uit jou hart.

Stuur dit aan ons by wereldwyd@afriforum.co.za.

Deel op

Nuutste artikels