Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Shar-nica du Plessis wat in Auckland woon.
Hallo Shar-nica, dit is heerlik om met jou te gesels!
Van waar in Suid-Afrika is jy oorspronklik en hoekom het jy besluit om juis na Auckland te emigreer?
Ons is van Rustenburg en Pretoria af. Ons is oorspronklik Kerikeri toe in die ver noorde van Nieu-Seeland. Dit is waar my man werk gekry het. Ons het vir vyf jaar daar gebly en toe laas jaar besluit om Auckland toe te trek. Kerikeri is pragtig maar ons het gevoel daar is meer vir ons en ons kinders in Auckland. En ons was reg.

Hoe het julle julself gevestig in die gemeenskap, was dit maklik om voete te vind en nuwe vriende te maak?
Ek het dadelik betrokke geraak by my kinders se skool. Toe ons Auckland toe trek was my hart seer want ek het al my wonderlike vriende daar agtergelaat. Ek het toe weer betrokke geraak by die skool hier en my vriendin van Suid-Afrika bly naby ons. Ons het ook ingeskakel by die Doxa Deo-kerk.
Hoe verskil die skoolstelsel in Auckland van dié in Suid-Afrika?
Dit is baie ontspanne. My seun wat in die laerskool is, kry leesboeke vir huiswerk en dit is dit. Daar is ekstra werk wat ons kan doen as ons wil. My seun wat nou jaar sewe in die hoërskool is, kry huiswerk op ’n Dinsdag en het ְ’n week om dit klaar te kry. Hy is baie lief vir wiskunde en sy juffrou het nou al vir hom jaar agt se werk gegee om te doen. Die bystand wat die twee skole bied is fantasties. In die laerskool nooi hulle jou graag om te kom kyk hoe dinge gedoen word en daar word weekliks inligting gestuur oor waarmee hulle besig is. Elke einde van die week hou wat hulle noem ’n “hui” (saalopening) en ouers is welkom om deel te neem.
Is dit anders om inkopies te doen in Auckland in vergelyking met Suid-Afrika?
Definitief, ons kry weekliks ’n salaris so ons doen weekliks ons inkopies. Ek sal nie weet hoe om terug te gaan na maandelikse inkopies toe nie. Ek sal gereeld my inkopies aanlyn bestel en dan gaan tel ek dit op. Dit is maklik, vinnig en help my om nie impulsief daai sjokolade te koop nie!
Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika, dalk iets kleins wat ander dalk nie sou verwag nie?
Daar is darem ’n paar Suid-Afrikaanse winkels hier, so ons het toegang tot baie produkte waarvoor ons lief is. Die pryse is net vreeslik, so jy leer om reg te kom sonder dit. Wat ek wel mis (behalwe die pryse), is King Pie en lekker cheddarkaas. Ek verlang ook na my familie en goedkoop vleis; dit was sommer spontaan om te kan braai.
Wat doen jy en jou gesin as julle verlang na Suid-Afrika en julle mense?
Ons steek ’n vuurtjie aan en sit vir Appel, Bok van Blerk, Irene-Louise van Wyk en my seuns se gunsteling, Jo Black en Refentse, op die televisie.

Wat doen julle om die band tussen julle kinders en hul grootouers sterk te hou?
Ons maak graag video-oproepe. Die seuns het hul oumas en oupas se nommers so hulle kan enige tyd gesels. Ons vertel ook graag stories van toe ons kinders was of toe hulle (die seuns) babas was.
Wat het jou verras of beïndruk van Nieu-Seeland se leefstyl of kultuur?
Min mense stres hier, as dit nie nou kan gebeur nie, dan sal dit more of oor ’n week gebeur. Hulle sê hier “She’ll be right”. Wat ons verras het, is hoe maklik die mense mekaar hier vertrou.
Wat doen jy en jou gesin vir ontspanning daar – is daar iets uniek aan Auckland wat julle geniet?
Ons spandeer tyd by die huis of ons gaan stap bietjie deur die buurt. Ons stap graag op die strand met ons hond of ons gaan spandeer tyd by my perd Bonnie. Ons kuier ook graag saam met vriende.
Watter lesse het jy geleer sedert jy verhuis het, oor jouself, oor aanpassing, of oor jou nuwe omgewing?
Ek het geleer dat alles nie ’n gejaag hoef te wees nie, ek het ook geleer dat ek kan en mag vir hulp vra. Ek het ook geleer dat dit okei is om nie altyd okei te wees nie. Ek is bevoorreg om omring te wees met mense wat wil sien dat jy bo uitkom, wat saam met my ’n pad sal stap.
Praat julle nog Afrikaans by die huis? Hoe belangrik is dit vir jou om die taal en kultuur te behou?
Ons doen natuurlik! My oudste praat Afrikaans maar my jongste wou nie praat toe ons hier aangekom het nie. Hy het uiteindelik begin praat maar in Engels. Hy kan Afrikaans verstaan en hy kan dit nou praat (hy kry net skaam), al praat hy Engels is hy trots. Hy weet wie hy is en van waar af hy kom. Dit is vir ons belangrik om ons taal en kultuur te behou en ons sal altyd trots wees op Afrikaans. Die Kiwi’s is jaloers dat ons kan Afrikaans en Engels praat.
Is daar Suid-Afrikaanse winkels of produkte naby julle beskikbaar of moet julle kreatief raak om ’n smaak van die huis te kry?
Daar is so baie om ons! My man kan nie sonder sy Aromat en Worcestersous-braaimengsel gaan nie. Ek is weer gemaklik met sout en suurlemoen. My smaaksintuig is nie meer so intens nie.
Het julle al professionele diensverskaffers gevind wat Afrikaans kan praat soos dokters, prokureurs of selfs onderwysers?
Daar is ’n hele paar Suid-Afrikaanse onderwysers by al twee skole. Een van die ongevalledokters saam wie ek gewerk het, het met my Afrikaans gepraat. Ons “mense” is orals!
As jy aan hierdie emigrasiehoofstuk in jou lewe ’n titel sou gee, wat sou dit wees en hoekom?
Dans deur die lewe – musiek is my veilige plek, en volgens my man dans ek as ek gelukkig is oor iets, as ek my sin kry, as ek uitsien na iets of as ek lekker kos eet. As ek skoon maak dan dans ek en as ek hartseer is, sit ek lekker musiek op en dans die stres weg!

Wat sou jy sê is die grootste verandering in jouself sedert jy geëmigreer het?
Ek het ’n gevoel van selfvertroue en deursettingsvermoë wat ek nooit gehad het nie. Ek gee nie om, om uit te staan nie, ek is trots op wie ek is.
Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel, iets wat jy wens jy geweet het voor julle vertrek het of raad vir ander wat oorweeg om dieselfde pad te stap?
Leë blikke maak die meeste geraas. Maak stil die stemme wat jou kop deurmekaar maak, net jy sal weet wat vir jou en jou gesin sal werk. Glo in jouself! Voor jy die besluit maak, bid daaroor, die Here weet wat jy kan hanteer. Daar gaan dae wees wat dit donker voel maar laat Jesus die lig wees in daardie donker tye. Maak tyd vir mekaar en hou vas aan mekaar! Liefde oorwin absoluut alles!
Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
Lees ook: Uit en Tuis: Sonja Pestana Louro vertel van haar lewe in Frankryk
Deel op
"*" indicates required fields
Nuutste artikels





















