Uit en Tuis: Sonja Pestana Louro vertel van haar lewe in Frankryk

08/10/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en Tuis: Sonja Pestana Louro vertel van haar lewe in Frankryk

Toe Sonja Pestana Louro en haar gesin in 2019 na Madeira reis om ná 30 jaar weer familie te sien, het sy nooit kon dink daardie vakansie sou haar lewe onherroeplik verander nie. Hulle het daarna na Frankryk vertrek om haar swaer te besoek, en eenvoudig besluit om nie na Suid-Afrika terug te keer nie. Vandag woon hulle steeds in Frankryk.

Vir my was dit die ergste om weg van die huis en familie te wees. Ek het nooit die kans gehad om myself op die emigrasie proses voor te berei nie. Frankryk se kultuur is anders as wat dit in Suid-Afrika is. Mense is glad nie behulpsaam nie, veral as hulle hoor jy praat Engels. Die Franse is nie altyd vriendelike mense nie en het net nie alstyd daardie ubuntu-gevoel nie. Jy moet byvoorbeeld ’n afspraak maak om vir familie te kan gaan kuier, waar in Suid-Afrika jy net kan aanklop vir ‘n koppie koffie of ’n braai. Ek het vele dae daaroor gehuil; ek het self so ver gegaan om myself te laat deporteer, maar kon dit nie doen nie omdat my man ‘n Europese burger is (hy is Portugese burger). Die burokratiese beslommernis was enorm. Dit het twee jaar geneem vir die papierwerk om van Suid-Afrika af hier te kom. Behuising is peperduur en baie moeilik om te kry. Die geldeenheid was ook ’n baie groot probleem vir my. Ek het alles na rande omgeskakel en nie in euro’s gedink nie. Ek doen dit nog gereeld, maar nie meer so baie nie. Die veiligheid in die dorpie waar ons bly, is vir my baie belangrik. My kinders kan kom en gaan soos wat hulle wil en die openbare vervoer is baie betroubaar.

Ons het vyf kinders: Anoushka (24), Mikayla (22), Nathan (20), Amoré (19) en Chloë (16). Toe ons geëmigreer het, was drie nog op skool, en Mikayla moes haar matriekjaar hier begin. Die kinders het vinnig aangepas, veral omdat hulle die taal moes leer. Vandag praat hulle almal vlot Frans. Vir my, Anoushka en Mikayla was die aanpassing moeiliker. Mikayla is intussen terug Suid-Afrika toe, en Anoushka werk tans as Engelse onderwyseres in Thailand.

My man is ’n vurkhyserbestuurder en ek pas kinders op. Hier kan jy nie sommer werk doen sonder ’n diploma nie. Die regering help jou om die nodige opleiding te kry en jy mag elke ses maande ’n nuwe kursus aanpak. Ek neem tans Franse klasse op aanbeveling van die regering. Dit is ook interessant dat tieners hier verpligte werkervarings opdoen terwyl hulle nog op skool is. Dis iets wat nie in Suid-Afrika die norm is nie.

Vir my man en kinders was dit baie maklik. Ek sukkel nog steeds omdat ek ’n introvert is, daarom is dit soveel moeiliker vir my. Ek vermy alle winkels waar hulle nie Engels praat nie. As my kinders of man saam met my is, sal ek dit nog oorweeg. Gelukkig probeer die vroue in die bakkery my altyd help en hulle leer my die Franse name van produkte.

Ek mis die gevoel van “ek behoort hier”, my familie, ’n braai, pap en vleis, en net die samesyn van vriende en familie.

Frankryk is baie mooier as in die prentjies wat jy in die boeke en op poskaarte sien. Ek kan onthou toe ek die Eiffeltoring vir die eerste keer gesien het: Ek het nie kon dink die mense gaan so aan oor ’n stuk metaal nie. Boonop is daar so baie mense dat jy skaars kan loop. Jy moet ook baie versigtig wees. Sakkerollers is volop in Parys, veral by die Eiffeltoring en op die treine. Wat ek baie vreemd vind, is dat meeste van die plekke tussen 12:00 en 14:00 elke dag toe is vir middagete. In die somervakansie is van die plekke heeltemal gesluit.

Ons geniet die pragtige parke en hou graag pieknieks of gaan op staproetes. Baie museums is gratis en ons besoek dit gereeld. Ons is ook deel van ’n groot ekspatgroep en dit is altyd lekker om saam koffie te drink en te gesels.

Ja, ons praat nog Afrikaans, al kla my kinders dat hulle besig is om die taal te verleer. Ek is die enigste een met wie hulle Afrikaans kan praat. Hulle pa praat meestal Frans.

Ek weet hier is Suid-Afrikaanse restaurante, maar dit is te ver van my af. Hier is mense wat tuisgemaakte Suid-Afrikaanse produkte maak en verkoop. Ek bestel van Die Spens af as ek nou regtig die huis mis. Dit is baie goedkoop en word vinnig afgelewer.

Ek is meer teruggetrokke, maar ons lewe is soveel makliker hier as wat dit by die huis was. Dit was ook baie makliker vir ons om werk te kry as in Suid-Afrika.

Maak seker dat jy goed beplan. Moenie goed doen op die ingewing van die oomblik soos wat ons gedoen het nie. Maak seker al jou papierwerk is ook in orde. Hulle sê altyd dat die gras groener is aan die anderkant van die draad. Die gras is eintlik maar net groener waar jy dit water gee. Vir nou kies ek om my gras in Frans water te gee. Al is dit moeilik, sal ek hierdeur kom.

Deel jou storie met ons

Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.

Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels