Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Sonja Kempen, wat al 20 jaar saam met haar man in Auckland, Nieu-Seeland woon.
Hoekom het julle besluit om Nieu-Seeland toe te emigreer?
Dis ’n lang storie. Ons is, soos soveel ander, deur misdaad in Suid-Afrika geraak – vuurwapen teen die kop, kaping, en rooftogte by albei van ons se werksplekke.
My man wou emigreer, spesifiek na Australië. Maar toe droom hy ’n vliegtuig vlieg oor die fabriek waar hy gewerk het en val. Al wat hy kon sien is die vliegtuig se stert met die kangaroe daarop. Ek vir hom gesê dat ek glo God sê Australië is nie Sy plan vir ons nie.
Hy was nie beïndruk nie, totdat vriende van Nieu-Seeland se natuurskoon kom vertel het. Hy was dadelik verlief. Ek was egter glad nie aan boord nie – dit het tot groot spanning in ons huwelik gelei. Op ’n dag by die werk het ek ’n stem gehoor wat vra: “Wat is jy besig om te doen?” Ek antwoord: “Here, U het nie vir my gesê om te trek nie.” Die stem antwoord: “Ek het met jou man gepraat.” Daardie selfde oggend het ek hom gebel en gesê: “Ons trek Nieu-Seeland toe.” Hy was so geskok hy het amper van die pad af gery. Teen Oktober 2005 was hy saam met drie ander mans in Nieu-Seeland.
Vertel ons van julle gesin.
Dis net ek en my man. Ons het ’n volwasse seun wat weens moeilike omstandighede terug moes keer na Suid-Afrika.
Hoe het julle die immigrasieproses ervaar?
Hoewel ons op ’n woord van die Here gereageer het, was dit nie maklik nie. My man se werkspermit het agt maande geneem, en ons het geleer wat dit beteken om in geloof te leef. ’n Kiwi-selgroep het ons geestelik ondersteun. Die aanpassing op morele vlak was moeilik – losser sedes en oppervlakkiger verhoudings is algemeen. Ons het ook nie geweet dat ons seun nie sou kon werk voordat ons permanente verblyfstatus goedgekeur is nie.
Wat doen julle tans vir werk, en hoe verskil die werkskultuur?
My man het in Suid-Afrika as vervoervoorman gewerk, maar moes hier terugval op sy polisie-ervaring. Hy werk nou vir ’n drankverskaffer. Ek is ’n administrasiebestuurder by ’n sekuriteitsmaatskappy soortgelyk aan G4S of Fidelity.
Die werkskultuur verskil hemelsbreed. Bestuur is net ’n titel – almal werk self. Jy mag nie streng wees nie; jy moet empatie hê. Dit is moeilik om van personeel ontslae te raak, selfs al daag hulle vir ’n week nie op nie. Maar ons het nie werkboelies ervaar nie – inteendeel, my man sê hy word hier vir die eerste keer met respek behandel en nie elke tweede dag met sy werk gedreig nie.
Was dit moeilik om vriende te maak?
Baie moeilik – veral sonder kinders op skool. Op ons ouderdom het mense reeds hul vriendekringe. Suid-Afrikaners soek mekaar egter op en vorm sterk ondersteuningsnetwerke. “Friends become your family” is hier ’n werklikheid.
Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?
Die geestelike lewe – selgroepe, kerkbetrokkenheid en saam aanbid. Ons werkure maak dit moeilik. En natuurlik mis ons familie, veral tydens groot geleenthede soos troues en geboorte van kleinkinders.
Wat is jou gunstelingherinnering van Suid-Afrika?
Beslis die Krugerwildtuin en bosvakansies – en ons diep aanbiddingstye, soms deur die nag.
Praat julle nog Afrikaans?
Beslis. Ons het baie Afrikaanse vriende. As iemand met ’n Suid-Afrikaanse aksent bel, gesels ons sommer lekker. Daar is konserte, braaie, en selfs tradisiegeleenthede soos Global Sunday waar ons kos en kultuur deel. Ons het al selfs ’n volkspeledansie op die verhoog gedoen!
Hoe vergelyk die lewenskoste en verblyfopsies met dié in Suid-Afrika?
Auckland is duur – huur word weekliks betaal, wat baie vinniger optel as maandelikse kostes. Die meeste mense huur; min besit hul eie huise. Tog is daar baie gratis gemeenskapsgeleenthede wat deur die munisipaliteit gereël word.
Sien julle gereeld familie?
Ons was net een keer terug in Suid-Afrika, in 2017. Ons gesels elke Sondag met my pa oor WhatsApp.
Is daar Suid-Afrikaanse winkels of diensverskaffers in julle omgewing?
O ja, volop. Ons dokter is Suid-Afrikaans, en baie plaaslike besighede word deur Suid-Afrikaners besit.
Wat is vir jou uniek aan Nieu-Seeland?
Die natuurskoon is asemrowend – dis nie verniet dat mense dit “Godzone” noem nie. Die kultuur is baie inklusief en mense is oor die algemeen aanvaarbaar, al bring dit ook sy eie uitdagings.
Enige lesse wat jy wil deel?
Emigrasie is nie ’n maklike uitweg nie. Dit verg geloof, moed en groot opofferings. Sonder God sou ek dit nie kon doen nie.
’n Laaste gedagte?
Ondersteun diegene wat emigreer. Dis nie ’n ligte besluit nie – maar soms is dit nodig vir jou gesin se veiligheid en toekoms.
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.