Uit en tuis: ’n e-pos uit China

04/10/2022
| Deur AfriForum Wêreldwyd
1

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Francois Bodenstein wat saam met sy vrou in China woon. Hy deel hulle ervaring en avonture met ons.

Hallo Francois, van waar in Suid-Afrika is julle en waarom het julle besluit om in China te gaan woon?

Ek en my vrou was albei hoërskoolonderwysers in Pretoria. Ons het in 2018 getrou, ons eiendom in Pretoria uitverhuur en toe besluit om in die begin van 2019 in China skool te kom gee. Ons het die besluit geneem om China toe te kom omdat ons nog jonk was en nog nie kinders gehad het nie. Ons het beplan om net vir ’n jaar China toe te kom sodat ons van die lande in Asië gedurende skoolvakansies kan besoek terwyl ons ook geld spaar om ons eiendom vinniger af te betaal. Tot dusver was ons El Nido toe gewees in die Filippyne en ons het die 2019 Rugbywêreldbeker in Japan bygewoon.

Hoe gereeld sien julle familie mekaar?

Ons het gedurende ons eerste skoolvakansie in Julie 2019 teruggegaan Suid-Afrika toe om familie te besoek en toe weer aan die begin van 2020 met die Chinese Nuwejaar. Ons het beplan om net vir twee weke te gaan kuier, toe maak die grense toe as gevolg van die Covid-19-pandemie en ons moes vir tien maande in Suid-Afrika wag om terug te kom China toe. Gelukkig kon ons aanlyn werk en steeds ’n salaris verdien.

Sedert ons teruggekom het in November 2020 kon ons nie weer China verlaat nie. China se grense is vandag steeds toe vir toeriste. Dit is moontlik om uit China te gaan as jy ’n werkspermit het, maar dit is ’n groot bedrag geld wat ’n mens moet betaal vir jou vliegtuigkaartjie. Daar is net elke Woensdag een direkte vlug tussen Johannesburg en Shenzhen, en dan moet jy nog vir sewe dae in kwarantyn bly in ’n hotel wat hulle aan jou toewys. Ons beplan om hierdie Desember weer vir familie in Suid-Afrika te gaan kuier, ons hoop maar dat daar meer vlugte tussen Suid Afrika en China beskikbaar gaan wees en dat ons nie onder kwarantyn hoef te wees as ons terugkom nie.

Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees, wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland?

Dit is moeilik om in ’n vreemde land aan te pas en veral in ’n land soos China waar die meerderheid mense glad nie Engels kan praat of verstaan nie. Die kos is definitief die vreemdste om aan gewoond te raak. Die Chinese eet enige ding wat se rug na die son toe wys. Ons het in die eerste maand wat ons hier aangekom het net KFC en McDonald’s geëet want ons het glad nie geweet wat hulle eet nie. Ons het mettertyd darem geleer waar en hoe ’n mens Westerse kruideniersware kan koop en nou kan ons darem braai, en vetkoek en maalvleis en melktert maak.

Hier is ook Suid-Afrikaners wat Suid-Afrikaanse produkte invoer soos boerewors, biltong, blatjang, Olof Bergh-brandewyn en selfs Ouma-beskuit. Nog ’n ding wat baie vreemd was om aan gewoond te raak, was die hoeveelheid mense op straat wat na jou staar. Sommiges neem jou sommer af met hul fone, of jy nou daarvan hou of nie.

Julle verwag eersdaags julle eersteling – baie geluk! Hoe verskil die gesondheidsorg in China van dié in Suid-Afrika?

Baie dankie. Sover is ons baie tevrede met die hospitaal en dokters waarmee ons te doen het. My vrou gaan geboorte gee by ’n internasionale hospitaal waar daar met ons in Engels gekommunikeer word. Anders as Suid-Afrika is alle ondernemings in China verplig om vir hul werknemers mediese fonds uit te neem in geval daar iets met hulle gebeur. Die dag as jy China verlaat kan jy al die fondse onttrek wat jy nie gebruik het nie. 

Julle is ’n hele paar Suid-Afrikaners wat vir die stad se rugbyspan speel. Vertel ons meer.

Ons is ongeveer 13 spelers wat almal vir die Guangzhou Rams-rugbyspan speel. Ons speel teen spanne van regoor China soos Beijing, Shanghai en Shenzhen. Ons vroue en metgeselle het ook ’n baie hegte groep gevorm wat mekaar ondersteun in tye van nood. Ons kom gereeld bymekaar as daar Springbokwedstryde is, wanneer dit Kersfees en Paasfees is en as daar doekebraaie gereël word. Om deel te wees van ’n Suid-Afrikaanse gemeenskap maak die tyd hier in China baie makliker, veral as ’n mens so ver weg van die huis af is as daar verjaarsdae, Nuwejaar en Kersfees gevier word. In hierdie jaar het vyf van ons Suid Afrikaanse getroude paartjies ouers geword, toevallig almal seuntjies.

Hoe verskil die skoolsisteem in China van dié in Suid-Afrika?
China is ’n baie ambisieuse land wat baie mededingend is met Amerika. Hulle plaas onderrig heel bo aan hulle prioriteitslys omdat die land se jongmense hulle kan help om Amerika verby te steek. Die Chinese mense betaal duur om hulle kinders van so jonk as drie jaar oud in internasionale skole te sit om Engels te kan leer praat en te verstaan. Hulle laat hul kinders kurrikulums van Amerika, die Verenigde Koninkryk en Kanada volg sodat hulle ná skool oorsee kan gaan studeer. Daar is nie veel tyd vir buitemuurse aktiwiteite vir laer- en hoërskoolkinders nie, want die meeste van hulle gaan skool tot 22:00 saans en selfs ook gedurende naweke.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Wat ek die meeste mis van Suid-Afrika is natuurlik om tyd saam met ons familie en vriende deur te bring, maar ook om Afrikaanse musiekvertonings by te woon, om ’n naweek weg te gaan Bosveld toe en om ’n kampvuur te sit, Desembervakansies Kaap toe te gaan en plekke soos Stellenbosch, Franschhoek en Paternoster te besoek. 

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Baie Suid-Afrikaners wat China toe kom beplan om net vir ’n jaar of twee te kom, maar as jy weer jou oë uitvee is vier jaar verby. Die lewenstyl is baie gerieflik hier. Ons hoef nie ons deure te sluit of bang te wees om in die middel van die nag buite te stap nie. Almal is trots op hulle werk, so die dienslewering is baie goed. Die vervoerstelsels is van die beste in die wêreld. Hier is nie ’n ding soos beurtkrag nie. Onderwysers word baie goed behandel en betaal. Lewenskoste hier is bitter laag, ons kry dit reg om tussen 60 en 70 persent van ons salaris elke maand Suid-Afrika toe te stuur. Ek en my vrou het verlede jaar ’n eiendombeleggingsonderneming begin waar ons eiendomme rondom Pretoria, Johannesburg en die Wes-Kaap koop en dit dan uitverhuur. Ons plan is om in die volgende drie jaar vyf van die eiendomme af te betaal sodat ons onsself nie weer in ’n situasie soos 2020 bevind met die Covid-19-pandemie nie, dan het ons darem ’n passiewe inkomste om ons te onderhou en ons is nie afhanklik van ’n werk nie. 

As daar mense is wat meer wil uitvind oor hoe dit werk om na China toe te kom om skool te gee, kan hulle ons Facebook-blad, Prosper in China, like om meer inligting daaroor te kry. 

LEES OOK: Uit en tuis: ’n e-pos uit Engeland

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels