Om te lees met begrip is makliker gesê as gedaan. As jou aandag onverbeterd dwaal of die handboek voel vreemd onder jou vingers, of die geluide om jou is te veel of as die woorde vreemd lyk gaan dit ʼn behoorlike uitdaging wees.
ʼn Hele klompie jare terug was daar leesreekse wat op band beskikbaar was, dan kon die jong leser rustig op die mat lê en die woorde volg terwyl hulle die uitspraak en voorlesing kon hoor op die bandspeler. Intussen het ander soortgelyke inisiatiewe ook al kopuitgesteek maar met alles wat duurder geraak het, is dit moeilik om nog sulke items ook in jou trollie te gooi as dit nie brood, melk of groente is nie.
Weet.co.za is ʼn gratis e-naslaangids, onder die vaandel van Maroela Media. Daar is reeds 150 artikels opgeneem sodat lesers die teks kan volg terwyl hulle die opname hoor of om sommer net te luister. Dit is dus ʼn goeie oefening vir diegene wat leesuitdagings in die gesig staar. Al wat jy benodig is ʼn slimfoon of rekenaar, wat heel waarskynlik nou in jou hand is en internettoegang. Niemand word genoop om ʼn aansluitingsfooi of maandelikse bedrag te betaal vir gehalte luisterartikels nie.
Kinders wil almal graag leer lees, party begin vroeg en dié wat agterbly begin raak skaam oor hul struikelblok en begin om allerhande meganismes aan te leer om te verhoed dat hulle in ʼn situasie sal beland waar hulle dalk hardop gaan moet lees. ʼn Ouer, naskoolassistent, ouma of au pair kan wondere verrig, maar as die kind eers begin om mure te bou om die struikelblok, is dit baie moeilik om dit aan te spreek. Hardoplees is ʼn straf en om elke keer voorgesê te word is vernederend.
Om in die rustigheid van sy/haar kamer met oorfone op te luister na ʼn onderwerp wat hulle al in die klas behandel het en waarvan die kind moet kennis dra, is die aangewese antwoord. Geen druk om ʼn woord uit te spreek nie, die volume kan harder gemaak word en die stop-knoppie kan gedruk word en daar kan teruggegaan word na dele wat klaar gelees is.
Elke mens is op ʼn leesreis en Weet wil graag ‘n inklusiewe hand uitsteek om almal op hierdie wonderlike reis te neem, sodat almal die wonder van woorde en nuwe kennis kan proe.
Net soos die klein dogtertjie wat jare terug op die mat gelê het en deur boeke geblaai het en die teks gevolg het terwyl sy die storie op die bandopnemer luister, kan jou kind dieselfde doen deur net op Weet.co.za te gaan en die opsie Luister artikels te kies.
Deel op
Nuutste artikels