Bloedgrond-kunsuitstalling open in Newcastle, VK

14/08/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Bloedgrond-kunsuitstalling open in Newcastle, VK

Newcastle, VK, 8 Augustus 2025. Bloedgrond is ’n kragtige en emosieontlokkende kunsuitstalling deur die Suid-Afrikaanse kunstenaar Frank Pretorius en het op 8 Augustus 2025 by die Hatton-galery van die Newcastle Universiteit geopen. Dié uitstalling, wat tot 30 Augustus oop is, verken die diepe letsels van trauma oor geslagte heen wat deur die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) gelaat is.

Die uitstalling is ’n aangrypende huldeblyk aan die geeskragtigheid en lyding van die Boerevroue en -kinders, wat ondenkbare wreedaardighede tydens die oorlog verduur het. Die uitstalling bestaan uit ’n reeks olieverfskilderye wat geskep is as deel van Pretorius se meestersuitstalling. Die skilderye beeld op intense wyse die vernietiging en moed uit wat hierdie slagoffers beleef het.

Pretorius streef daarna om deur sy kuns die byblywende geskiedenis van die oorlog te beskou, veral die gewelddadige strategie wat die Britse koloniale magte ingespan het. Dié strategie het die vernietiging van plase, oeste en huise behels, asook die gedwonge internering van vroue en kinders in konsentrasiekampe. Sowat 28 000 Boervroue en ‑kinders het in dié kampe omgekom.

Pretorius skryf hieroor in sy kunstenaarsverklaring (hier vertaal):

Die Suid-Afrikaanse Oorlog, of die Boere-oorlog, wat tussen 1899 en 1902 gewoed het, het diep letsels van trauma oor geslagte heen op die mense gelaat en verhale van verlies en geeskragtigheid in die tekstuur van ons geskiedenis ingeweef. As kind is ek meegevoer deur hierdie verhale van hierdie konflik, wat in my familie oorvertel is. Hierdie verhale, intens en byblywend, het my heel eerste sketse besiel en hulself in my verbeelding ingeëts. Vir my meestersuitstalling het ek hierdie herinneringe laat herleef en dit in ’n reeks olieverfskilderye omskep. Hierdie versameling werke verken die tweeledigheid van vernietiging en bewaring, en bepeins dit wat ons kies om ná trauma voort te dra. Elke skildery is sowel ’n beskouing van die verlede as ’n huldeblyk aan die blywende gees van dié wat dit deurleef het.

Pretorius, wat van Suid-Afrika kom, is besiel deur die memoires van Emily Hobhouse, ’n Britse maatskaplike hervormer wat haar eie veiligheid in gevaar gestel het om die wreedaardige toestande in hierdie kampe aan die Britse publiek bloot te stel. Hobhouse se onvermoeibare veldtogte het die wreedaardighede belig wat in die naam van die Britse Ryk gepleeg is – ’n waarheid wat lank uit die openbare oog gehou is. Die kunswerke wat deel uitmaak van Bloedgrond dien as ’n ontnugterende herinnering van koloniale wreedaardigheid en van die morele vakuum wat groei wanneer oorloë weg van die openbare oog geveg word.

Deur sy uitstalling vereer Pretorius veral Hobhouse se nalatenskap en gee ’n stem aan die talle vroue en kinders wie se lyding deur die geskiedenis geïgnoreer, verontagsaam of vergeet is.

Pretorius gee erkenning aan die onpeilbare impak van dié trauma op die Afrikanergemeenskap. Hy verduidelik: “Die uitstalling is ’n huldeblyk aan die krag van dié vroue. Dit gaan oor die erkenning van die enormiteit van hul lyding en die omvang van hul verlies, maar dit erken ook die verrysing uit die as.”

Pretorius beplan om Bloedgrond later vanjaar Suid-Afrika toe te bring om sy mede-Suid-Afrikaners weer kans te gee om met hul seer verlede kennis te maak in ’n poging om te onthou wat verlore is, om te vier wat herstel is en om, uiteindelik, gesond te word.

Die uitstalling is van 8 Augustus by die Hatton-galery van die Newcastle Universiteit te sien, en ingang is gratis. Besoek die Hatton-galery se webtuiste or kontak die galery direk vir meer inligting.

Meer oor Frank Pretorius

Frank is in Suid-Afrika gebore en getoë, en sy kreatiewe vonk was vroeg al sigbaar, aangevuur deur die landskappe en verhale van sy vaderland. Hy het grafiese ontwerp gestudeer en ’n 20 jaar lange loopbaan in advertensiewese uitgekerf. Hy het dokumentêre films in Zambië, Botswana en Suid-Afrika gemaak, maar die kunstenaarsbloed het deurentyd geklop. Hy is tans ’n voltydse kunstenaar, en sy werke word in galerye dwarsoor die VK uitgestal en in privaat versamelings oor die wêreld heen gevind. Sy skilderye vermeng sy Suid-Afrikaanse wortels met ’n wêreldwye perspektief. Lees meer oor die kunstenaar: https://www.frankpretorius.co.uk/

As jy vrae het, kontak:

Sandra Pretorius | sandra@wordandsmyth.co.uk | +44 (0) 7713721107

Deel op

Nuutste artikels