Uit en tuis: ’n e-pos uit die buiteland

20/08/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit die buiteland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Vandeesweek gesels ons met Karike Martin (nee De Jager) wat in Australië woon en so pas Maleisië toe getrek het.

Ek het 2007 Australië toe geïmmigreer. My dogter was agt maande oud en ons wou vir haar ’n veiliger en beter toekoms gee. Ek het op daardie stadium vir BHP Billiton in die RSA gewerk en hulle het vir my visum betaal.

Perth is eintlik ’n mynboustad en ’n groot groep van die bevolking daar werk in die mynbedryf. Die meeste van hulle leef ’n fly in fly out-lewenstyl. Dit beteken dat jy enigiets van vier tot veertien dae in ’n mynkamp leef en dan vir jou aftyd terugvlieg Perth toe. Die mense in Perth is nie tipies inklusief nie, so hulle is nie altyd bereid om vriende buite hulle ou vriendekring te maak nie. Die strande is wonderlik, mense kamp graag en is bereid om langafstande te reis.

Melbourne is kosmopolities en het ’n bevolking wat van oral af kom. Die kos en dienslewering is baie goed en so ook die kultuurblootstelling. Daar is altyd ’n konsert of een of ander feesviering. Die weer is ongelukkig onvoorspelbaar en die winters is ysig.

Suid-Australië het wonderlike wynroetes en vriendelike mense.

Ek het in Noord-Queensland gebly, naby Airlie Beach, ’n pragtige tropiese wêreld met ontspanne mense. Die kuslyn is van die beste in die wêreld, maar jy kan nie swem nie want dis vol krokodille en giftige jellievisse.

Perth. Daar is baie Suid-Afrikaners en jy het ’n goeie kans om Afrikaans met iemand by die werk te kan praat. Hier is ook baie biltong en jy kan verskeie Suid-Afrikaanse produkte in die gewone kruideniersware winkels koop. Daar is ook verskeie Suid-Afrikaanse produkafsetpunte soos Cape to Cairo.

Ek het op 12 Junie Maleisië toe getrek vir werk. Ek het in Maart vir my finale onderhoud gekom en het van die mense en die landskap gehou. Ek werk vir ’n Brasiliaanse mynmaatskappy so ek werk saam met Brasiliërs en Maleisiërs. Daar is pragtige bestemmings naby soos Penang en Borneo. Dis die ideale afstand om meer tyd in Singapoer, Thailand, Filippyne en Viëtnam te spandeer want dis so naby. 

Gedurende my jare in Perth het ek gereeld Bali toe gevlieg want dit is net ’n fantastiese toeriste-eiland.

Ek werk al meer as 30 jaar in die mynbedryf en dien tans as ’n bedryfs- en instandhoudingsbestuurder, ook bekend as ingenieursbestuurder. Ek het my meestersgraad in Ingenieurswese in Australië voltooi.

Die aanpassing by die werkskultuur hier was aanvanklik ’n groot uitdaging – en selfs ná 18 jaar is daar steeds dae wat moeilik is. Suid-Afrikaners is geneig om direk en oplossingsgerig te kommunikeer. Australiërs, aan die ander kant, verkies ’n meer indirekte benadering en vermy dit dikwels om probleme of swak werk openlik aan te spreek. Waar ons gewoond is daaraan om iets uit te praat en aan te beweeg, kan daar hier dikwels met ’n ompad daaroor gepraat word sonder om by die punt uit te kom. As iemand nie met jou saamstem nie, sal hulle dit selde direk sê – jy word eerder agter jou rug ondermyn, wat hulle “white-anting” noem.

Gelukkig is dit nie by almal die geval nie. Jy leer met tyd om jou mense – jou “tribe” – te vind, en wanneer jy dit doen, maak dit die wêreldse verskil.

Oopgroefmyn in Wes-Australië

As jy dit eenkeer gedoen het weet jy wat om te verwag … die emosionele wipwaentjie wat voorlê. Jy weet dit gaan beter raak. Die frustrasies sal daar wees. Party dinge werk beter in jou nuwe land en sekere dinge werk nie so goed soos in jou vorige land nie. 

Probeer so gou as moontlik aktiwiteite doen wat jou gelukkig maak. Of dit nou gim, gholf of visvang is of selfs naaldwerk. Vind ’n klub waar die mense in jou nuwe land dieselfde stokperdjies het. Dit maak dit soveel makliker om in te skakel want jy leer gou dat mense van alle kulture sekere passies met jou in gemeen het. 

Moenie net vriende maak met mense van jou vorige land nie. As jou nuwe werkvriende jou uitnooi om iets anders te doen saam met hulle, sê JA! Probeer nuwe geregte en maak seker jy sien soveel moontlik van jou omgewing. My vriende in Australië was van oral oor in die wêreld. Hier in Maleisië het ek nou al ook rys en gedroogde ansjovis geëet vir ontbyt!

Ek was bevoorreg dat ek al my besittings kon oorbring van die RSA af en nou weer alles saamgebring het na Maleisië. My hele huis is ’n huldeblyk aan my Suid-Afrikaanse wortels. Al my vriende in Australië se monde het altyd oopgehang as hulle my meubels en kunswerke gesien het.

Ek bak melktert, beskuit, vetkoek en bobotie. Ek luister na Afrikaanse musiek. In Perth het ek af en toe na ’n sokkie toe gegaan en ook ’n Bok van Blerk- en Steve Hofmeyr-konsert.

Ek glo ons Suid-Afrikaanse vroue se grootste huldeblyk aan ons wortels is ons selfversorging. In Australië kon ek altyd ’n Suid-Afrikaanse vrou erken aan hoe sy haarself versorg. Ons het ’n ingeboude trots en selfrespek. Mens besef dit nie tot jy RSA verlaat nie.

Ek mis my familie, die Laeveld, die pragtige kleurvolle alles in RSA, my taal, Afrikaanse musiek, ons wonderlike kunstige skeppings soos meubels en ander kunswerke, Afrikanerkreatiwiteit, Kaapse wynland, Drakensberge.

My broer het kom kuier, in Mandurah, Wes-Australië

Probeer so gou as moontlik om jou huis in Australië af te betaal. Spaar meer elke maand. Koop so gou as moontlik beleggingshuise. Die huismark in Australië is ’n goudmyn!

Duik kop eerste in die onbekende! In 2007 was daar geen sosiale media nie, geen Facebook, WhatsApp en LinkedIn nie. Ek het letterlik geen idee gehad waarvoor ek in my ingelaat het nie! Maar wat ’n avontuur! Ek is nie spyt nie, ek glo jy moet altyd iets doen wat uit jou gemaksone is!

Ek dink emigrasie maak jou sterker en meer veerkragtig. Ons sal altyd Suid-Afrikaners bly waar ons ook al gaan. Ek dink en droom nog steeds in Afrikaans. Ek besit nog steeds ְ’n huis in die Laeveld. Daardie hoop dat dinge wonderbaarlik sal verander en ek sal kan aftree in my gunstelingplek …

Deel jou storie met ons

Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels