Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Milla Jooste wat in Dubai woon.
Hallo Milla, dit is heerlik om met jou te gesels! Van waar in Suid-Afrika is jy oorspronklik en hoekom het jy besluit om juis na Dubai te emigreer?
Ek is oorspronklik van Pretoria, die pragtige Jakarandastad. In 2024 was ek in my finale jaar as onderwysstudent by Tukkies. Ek het nog altyd geweet ek wil reis, maar dit was eers toe ek ’n vriendin ontmoet het wat na Nederland verhuis het om daar te werk, dat ek ernstig oor die moontlikheid begin dink het.
Nie lank daarna nie, het my pa my vertel van die Emirates-advertensies wat hy oral sien. Aanvanklik het ek gedink dit is nie vir my nie – ek kon my nie indink as lugwaardin nie. Maar die idee het gebly, en ek het uiteindelik besluit om net aansoek te doen. Ek het niks gehad om te verloor nie. Tot my verbasing is ek vinnig genooi vir ’n onderhoud, en voor ek behoorlik kon besef wat gebeur, het ek my goed ingepak en was ek op pad na Dubai. Omdat al Emirates se vlugte en die hoofkantoor hier gesetel is, was dit die logiese skuif.
Was dit moeilik om daar aan te pas of het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?
Ek was gelukkig om nie heeltemal alleen te arriveer nie. ’n Vriendin van laerskool, wat ook vir Emirates vlieg, was reeds hier, en deur my pa se vriend het ek ’n wonderlike gesin ontmoet wat my na die Afrikaanse kerk in Dubai genooi het. Daardie uitnodiging het alles verander. By die kerk het ek ’n groep jong Afrikaners ontmoet wat dadelik soos familie gevoel het.

As dit nie vir daardie gemeenskap was nie, sou ek baie alleen gevoel het. Die susterskap wat tydens die Emirates-opleiding ontstaan het, het natuurlik ook gehelp, maar daar is ’n onbeskryflike troos daarin om in jou eie taal te lag en stories te deel. Dit is iets wat jy eers regtig waardeer wanneer jy dit nie daagliks hoor nie.
Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak?
Ek onthou hoe oorweldigend die eerste paar maande was. Jy dink altyd die groot dinge gaan die moeilikste wees – soos die hitte en die ander kultuur – maar dit is eintlik die gewone dinge wat die grootste uitdaging is. Om uit te werk waar om inkopies te doen, watter taxi’s betroubaar is, en hoe om nuwe vriende te maak. Selfs iets klein soos die feit dat jy nie sommer kan bel op WhatsApp nie, maar eerder moet tik, was ’n aanpassing.
Mettertyd het ek besef hoe ongelooflik aanpasbaar ’n mens is. Vandag dink ek terug en besef ek het binne maande gewoond geraak aan dinge wat aanvanklik vreemd gevoel het.
Vertel ons ’n bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag?
As lugwaardin vir Emirates is daar nie iets soos ’n tipiese dag nie. Ons kry elke maand ons rooster, en dit is altyd ’n oomblik van groot opgewondenheid wanneer jy dit oopmaak en sien waarheen jy volgende gaan. Soms is dit moeilik, want jy moet jou lewe rondom vlugte en tydsones beplan – jou slaap, jou etes, selfs wat jy aantrek. Maar dit maak ook die werk ongelooflik interessant.
Ek het al plekke gesien waarvan ek net kon droom. Hierdie werk het my die geleentheid gegee om regtig wêreldwyd te reis, en dit is ’n voorreg waarvoor ek diep dankbaar is.
Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?
Ek mis Pretoria se strate, bedek met bome. In Oktober, my verjaarsdagmaand, is die jakarandas ongelooflik mooi. Dit is vir my iets kleins, maar dit laat my hart vinniger klop as ek dit sien – of tydens my reise, of wanneer ek tuis kom kuier. Dubai is ’n woestynstad, en die groen natuurskoon van Suid-Afrika is skaars hier. Dit laat jou besef hoe kosbaar selfs iets alledaags soos bome in jou straat is.
Wat doen jy as jy verlang na Suid-Afrika en jou mense?
Die Afrikaanse kerkgemeenskap speel ’n groot rol. Daar is niks soos om op ’n Saterdag saam te braai, rugby te kyk en in Afrikaans te kan gesels nie. Wanneer ek nie tyd het om daarheen te gaan nie, hou ek kontak deur gereelde selfoonoproepe met my vriende en familie. Ek luister Afrikaanse musiek en het selfs begin om my Bybel weer in Afrikaans te lees, al lees ek gewoonlik Engels. Dit het my nuwe waardering gegee vir my taal en vir die mense van my land.
Wat het jou verras of beïndruk van Dubai se leefstyl of kultuur?
Die stad kry eers regtig lewe wanneer die son ondergaan. Die strate, restaurante en winkels bly tot in die vroeë oggendure oop. Dis vir my heerlik dat ek saans kan gaan stap en steeds voel ek is in ’n lewendige, veilige omgewing. Veiligheid is iets wat ek hier baie waardeer – ek voel regtig beskerm, selfs as ek alleen beweeg.
Was Dubai se klimaat ’n groot aanpassing?
Beslis! Ek het altyd gedink ons Suid-Afrikaners verstaan hitte, maar die eerste keer toe ek in die somer hier uitstap, het ek gesweet van die kar tot by die voordeur. Van September af raak dit hanteerbaar en kan jy weer die buitelewe geniet, maar van Mei tot Augustus hou almal hul aktiwiteite binnenshuis. Dis ’n ander ritme van leef, en ek het moes leer om daarmee saam te beweeg.
Wat doen jy vir ontspanning?
Ek is nogal ’n groot “foodie”, en Dubai is ’n paradys vir iemand wat van kos hou. Omdat dit ’n stad is waar mense van reg oor die wêreld saamkom, kry jy restaurante van feitlik elke land denkbaar. Ek en my vriende probeer dikwels nuwe plekke uit, en dit is altyd ’n avontuur. Een van my gunstelingervarings was toe ons toevallig op ’n Iranse restaurant langs ’n rivier afgekom het. Die atmosfeer was so uitnodigend dat ons besluit het om te bly – en dit het een van die lekkerste maaltye geword wat ek nog gehad het.

Watter lesse het jy geleer sedert jy verhuis het?
Ek het besef dat kultuur baie dieper in ’n mens ingeweef is as wat jy ooit besef. Jy dink dis maar net taal of gewoontes, maar dit vorm deel van jou identiteit. Ek het ook geleer dat ware geluk van binne en van Bo kom – geen nuwe plek of mens kan dit waarborg nie.
Oor aanpassing het ek gesien dat sommige mense makliker en vinniger aanpas as ander. Maar dit begin altyd by jou eie wil om oop te wees vir verandering. En oor my omgewing het ek geleer dat nuuskierigheid ’n mens beloon – as jy vrae vra en oop is vir ander se kultuur, ontdek jy ongelooflik baie.
Is daar Suid-Afrikaanse winkels of produkte naby julle beskikbaar?
Tot my verbasing, ja. Daar is selfs ’n winkel, Lekker Hyperama, wat net Suid-Afrikaanse produkte verkoop. Die eerste keer toe ek daar instap en Oros sien, het ek sommer trane in my oë gehad. Dit is ongelooflik hoe ’n klein smaak van die huis jou hart kan aanraak.

Daar is ook ’n groot Afrikaanse onderwysgemeenskap hier, en binne Emirates self is daar baie Suid-Afrikaanse lugwaardinne en vlieëniers. Dit gee jou ’n gevoel van tuiskoms in ’n vreemde land.
As jy aan hierdie emigrasiehoofstuk ’n titel sou gee, wat sou dit wees en hoekom?
Ek sal dit “Herskryf” noem. Hierdie tyd het my die meeste geleer oor dankbaarheid. Ek sien alles wat eens vanselfsprekend was in ’n nuwe lig. Elke dag is ’n herinnering om dankie te sê – vir geleenthede, vir veiligheid, vir vriendskap en vir die kans om wêreldwyd te reis.
Is daar enigiets wat jy wens jy geweet het voor jy vertrek het, of raad vir ander wat dieselfde pad oorweeg?
Ek wens ek het geweet hoe vinnig ’n mens eintlik kan aanpas, en dat jy jouself meer moet vertrou. Emigrasie is nie net ’n geografiese skuif nie, dis ’n geestelike en emosionele herskryf van jou lewe. My raad aan ander: wees nuuskierig, bou jou gemeenskap, hou jou wortels vas in jou taal en jou geloof – en leef met dankbaarheid. Dan sal jy hierdie hoofstuk nie net oorleef nie, maar regtig geniet.
Milla se storie wys dat die lewe oorsee vol aanpassings is – van hittegolwe tot vreemde kos en nuwe mense – maar dat dit jou ook leer om jou identiteit, jou taal en jou geloof opnuut te waardeer. Emigrasie is ’n kans om jou eie hoofstuk te herskryf.
Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Japan
Deel op
"*" indicates required fields
Nuutste artikels























