Afrikaans is Lekker 2026 – Europa-toer: Vier Afrikaans oor grense heen

07/11/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Afrikaans is Lekker 2026

Afrikaans is Lekker het oor die jare heen ontwikkel tot ’n internasionale viering van Afrikaanse musiek en kultuur wat diep aanklank vind by Suid-Afrikaners reg oor die wêreld. Hierdie geliefde konsertreeks, wat jaarliks deur SA Events in samewerking met AfriForum Wêreldwyd aangebied word, bring Afrikaanse musiek, taal en gemeenskapsgees na diasporagemeenskappe wêreldwyd.

Met elke toer skep Afrikaans is Lekker ’n unieke ruimte waar mense wat hul wortels in Suid-Afrika het, weer kan saamkom om te kuier, te sing en hul erfenis te vier. Die projek is meer as net musiek – dit is ’n fees van verbondenheid en trots.

Die Afrikaans is Lekker 2026 Europa-toer vind in Mei 2026 plaas en beloof om ’n hoogtepunt vir Afrikaanse gemeenskappe in Europa en die Verenigde Koninkryk te wees. Drie van Suid-Afrika se grootste Afrikaanse kunstenaars – Liezel Pieters, Steve Hofmeyr en Snotkop – bring hul unieke klank, energie en karakter oor die oseaan na vyf groot stede:

  • 15 Mei 2026 – Dubai
  • 16 Mei 2026 – Amsterdam
  • 19 Mei 2026 – Edinburgh
  • 22 Mei 2026 – Newry, Noord-Ierland
  • 23 Mei 2026 – Manchester
  • 24 Mei 2026 – Londen

Kaartjies is beskikbaar op www.southafricanevents.com, of belangstellendes kan navrae rig aan events@southafricanevents.com.

Volgens Arno Nel, eienaar van SA Events en organiseerder van die Afrikaans is Lekker-konserte, gaan hierdie toere oor veel meer as net musiek.

“Dit is ’n bymekaarkoms vir ou vriende en gemeenskappe. Dis ’n plek om nuwe vriende te maak, lekker saam te kuier en jou taal en kultuur uit te leef. Om in jou nuwe land gelukkig te wees beteken nie dat jy jou mense en kultuur versaak nie. Hierdie optredes bring iets van ‘huis toe’ – dit maak die verlange sagter.”

Vir AfriForum Wêreldwyd, wat as hoofborg optree, speel die konsertreeks ’n belangrike rol om Afrikaners in die buiteland met hul taal, kultuur en erfenis verbind te hou.

“Afrikaans is die polsende hart van ons gemeenskap, ongeag waar jy woon,” verduidelik Sue-Ann de Wet, hoof van Diaspora by AfriForum. “Vir baie mense wat oorsee woon, bring hierdie konserte ’n gevoel van samehorigheid terug – dit herinner hulle daaraan dat hulle deel bly van iets groter. Musiek is die universele taal van identiteit en herinnering. Dit roep emosies op wat grense oorbrug en mense laat voel: ‘Ek is nog deel van my mense.’”

Sy voeg by dat hierdie geleenthede ’n belangrike rol speel om gemeenskappe te versterk: “Om ver van jou geboorteland te leef beteken dikwels dat jy ’n nuwe lewe bou, maar steeds ’n verlange dra na die bekende. Wanneer mense saam in Afrikaans sing, saam lag en saam kuier, word daardie verlange iets mooi – iets verbindend. Afrikaans is Lekker is daarom nie net vermaak nie; dit is ’n viering van gemeenskap, identiteit en trots. Dis hoe ons help om taal en kultuur lewendig te hou: deur dit te leef, oral waar ons is.”

Afrikaans is Lekker 2026 is meer as net ’n konsertreeks; dit is ’n viering van wie ons is. Kom beleef die energie, passie en samehorigheid van hierdie wêreldklasvertonings, en ervaar hoe Afrikaans reg oor die wêreld harte aanraak.

Deel op

Nuutste artikels