Lief vir Afrikaans

24/11/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Lief vir Afrikaans

Hoekom is ek lief vir Afrikaans?

Ek is lief vir Afrikaans, want op die maat van sy musiek kan ek dans saam met Tant Mossie se sakkie-sakkie boeredans en op ’n byeboerwa kan ek klim om saam met Tannie Langpad na Darling toe te ry, en Namakwaland se blommeprag te besigtig.

Ek is lief vir Afrikaans, want Oom Steve bring vir my ’n pampoen, en ’n trekker wat se bande lek na Petrus Steyn, en daar skryf hy vier briewe vir Jan Ellis, om groete te stuur aan Mannetjies Roux.

In Afrikaans, kan ek lag, liefhê, hartseer wees, my God vereer en hulde bring aan elkeen wat bygedra het tot die mooiste, soetste taal.

Afrikaans is my liefling net soos Oom Gé Korsten dit aan ons nagelaat het, daar waar hy en Tannie Min Shaw tussen die heide op Tafelberg gewandel het, en aan ons die ABC geleer het.

Die A en die B, en die grootte C, die D en die E en die snaakse F, ons almal het geleer, van ’n taal wat ons onsself in kan uitdruk en kan kommunikeer met juffrou en meneer.

In Afrikaans sing ek vir my beminde ’n lied oor Heidi en Peter, en die lappop op die ashoop, en hoor ek kinders van die wind op Blouberg se strand, terwyl Liza haar klavier streel in die stilte van die nag.

CJ Langenhoven en Antjie Krog los vir ons gedigte as erfgenaam in ons mooiste soetste taal, en uit die blou van onse hemel kyk hulle na ons, terwyl ons aanhou en voortbou op Afrikaans, ons moedertaal.

Bennie Boekwurm en Oom Gert van Tonder gaan kuier vir padda en vuurvlieg by die opsitkers, terwyl Oom Al Debbo sy sonbrilletjies opsit vir hasie se stert wat so kort is.

Afrikaans my taal, mense het vir hom met hulle bloed betaal. Ons dink aan D.F. du Toit (Oom Lokomotief) wat met die dood gedreig was omdat hy in Afrikaans waag skryf.

Ons salueer mense soos hy want sonder hom sou ek nie nou vandag hier kon staan en met julle die skatkis van Afrikaans, my liefste, soetste taal deel nie.

Geskryf deur: Wynand Kriedemann

Deel jou ervaring met ons, ’n gedig, ’n storie, of net ’n paar woorde uit jou hart.

Stuur dit aan ons by wereldwyd@afriforum.co.za.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels