Hallo Kersfees in Kanada

08/12/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Hallo Kersfees in Kanada

Kanada is ’n land van ongelooflike diversiteit, en dit reflekteer duidelik in die manier waarop mense Kersfees vier. Omdat daar mense van oor die hele wêreld hier woon, bring elke nasionaliteit sy eie unieke tradisies saam. Kersfees val ook in die middel van die winter, en die hele landskap lê dan onder ’n sagte sneeukombers – wat alles net nóg meer feestelik laat lyk.

In die eerste paar jaar voor Covid het die Suid-Afrikaners in Brandon op Kersdag bymekaargekom om saam te eet. Iemand het altyd die reëlings behartig om seker te maak dat daar ’n groot genoeg verskeidenheid disse was. Ons het heerlike tradisionele geregte gehad: skaapboud, gevulde hoender, pampoenpoffertjies, groenbone wat my herinner aan die VLU-dames s’n met ham en selfs Nik Naks in, romerige aartappels en natuurlik gebakte poedings met vla en roomys. Daar was ook altyd iemand wat die kalkoen gemaak het – ham en kalkoen is immers ’n Noord-Amerikaanse gunsteling tydens Kersfees.

Hierdie geleenthede is voorafgegaan deur ’n Kers-erediens, waarna almal saam kon aansit vir die feesmaal. Tydens Covid, en ook daarna, het die samekomste egter afgeskaal. Soos almal langer hier bly, het dit natuurlik meer na gesinsvierings begin skuif: Die kinders trou, kry hul eie kinders, en Kersdag word rustiger en meer intiem.

Kersfees in Kanada beteken liggies, hope liggies! Die meeste mense versier hul huise en voorerwe met indrukwekkende beligting wat tot ná 6 Januarie brand, wanneer die Oekraïense Kersfees gevier word. Dis regtig ’n belewenis: rendiere met liggies, groot Kersvaders, opblaasversierings, Kerstonele, en alles wat blink en skitter. Die Kanadese doen beslis moeite wanneer dit by Kersversierings kom, binne én buite.

Kersfees in die Jones-huishouding lyk baie anders as in ons dae in Suid-Afrika. Ek sorg dat die Kersboom reeds op 1 Desember, soms selfs middel November, opgeslaan en versier word om die gesin sommer vroeg in die Kersgees te dompel.

Ons is ’n gesin van drie, en sedert Covid vier ons ’n rustige, gesinsgeoriënteerde Kersdag. Ons nuwe tradisie is om paella te maak en bordspeletjies te speel. Trivial Pursuit is ’n gunsteling, en 30 Seconds (die Suid-Afrikaanse weergawe) is altyd ’n uitdaging hier – niemand anders kan saamspeel nie omdat dit suiwer Suid-Afrikaanse feite bevat! Dit hou ons algemene kennis darem skerp.

In Suid-Afrika het ons altyd by my swaer op die plaas saamgekuier, maar vandag leef ons tradisies eenvoudiger en nader aan die hart.

Ons gesin is wyd versprei: My broer woon in Nieu-Seeland, my man se broers is in Suid-Afrika, en sy suster in Skotland. Gelukkig maak WhatsApp dit maklik om kontak te hou, veral rondom Kersfees.

Deel jou Kersfees oor grense!

Ons hoor graag jou verhaal. Het jy ’n unieke tradisie, ’n kosbare herinnering of ’n nuwe manier waarop jy Kersfees in jou nuwe land vier? Vertel ons daarvan!
Deel jou foto’s, stuur jou storie of deel net ’n kort ervaring.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels