Ons storie: Alleen in Nieu-Seeland

09/02/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Ons storie: Alleen in Nieu-Seeland

Deur Cathy Lange

Hierdie is seker een van die rouste skrywes wat ek al ooit geskryf het, maar ek deel graag ons storie met julle.

Ons is nou drie jaar in Nieu-Seeland. En as ek môre kan teruggaan Suid-Afrika toe, doen ek dit sonder om twee keer te dink. Ek het nooit gedink dit sal so seer wees nie. My eerste drie maande hier het ek aanhoudend gehuil. Elke dag, die hele dag. Hoekom het ons dit gedoen? Ons mense, ons familie, ons seun – ons het hulle daar gelos. Vir wat, vir wie? Dit was elke dag die woorde in my kop.

Ek en my man is al 29 jaar saam, sewe jaar getroud, en ons het vyf pragtige kinders, van wie vier saam met ons hier is. En elke dag het ek gehuil oor die een wat nie hier is nie.

Tot eendag toe ek met ’n baie goeie vriendin oor my seer praat en sy vir my sê: “Hou op vasklou aan die een wat agtergebly het, en waardeer die vier wat saam met julle hier is.” Ek het na elkeen van hulle gegaan, hulle omhels en dankie gesê omdat hulle my lewe so verryk.

Daar gaan nie ’n dag om dat ek nie verlang nie – my sussies, ons seun, my mammie.

Maar dan kyk ek na ons kinders, en ek kry vrede in my hart. Want hulle is gelukkig, hulle is veilig, hulle is bly. En dan besef ek ons, as ouers, het die regte keuse gemaak.

Die lewe hier is eensaam. Ons ken só baie mense, maar ons is só bitter alleen. Net ek en my man. Ons werk baie hard. Ons werk albei vyf dae per week; my man werk sommige naweke, en wanneer ek na hom kyk, is dit met liefde en dankbaarheid, want hy doen dit alles vir ons.

Eendag sal ons kan ontspan en rustig raak, wanneer ons genoeg gewerk het om te oorleef, en dan sal ons besef dat ons alles tot hier self gedoen het, en met God se krag deur elke dag gekom het. Want sonder Jesus sou ons dit nooit gemaak het tot hier nie. Hy dra ons elke dag, Hy gee ons nuwe krag. Hy het my getroos as ek myself aan die slaap huil. God het ons gedra.

Vir elkeen wat hierdie verskriklike groot stap oorweeg: soek jou krag by Jesus. Sonder Hom sal dit nie moontlik wees nie. En hou vas aan Hom. So baie mense se huwelike hou nie; so baie mense wat hierheen kom, skei. Maar solank God die punt van jou driehoek is, sal Hy julle altyd bymekaar hou.

Ek mis Suid-Afrika. Ek mis my sussies, ons seun, my mammie, maar dit is ons huis. Ons is gelukkig, ons is veilig.

Eendag sal ons teruggaan na ons wortels.

Cathy

Het jy ook ’n storie van verlange, aanpassing of hoop ver van die huis?

Deel dit met AfriForum Wêreldwyd en word deel van ’n wêreldwye netwerk waar stories nie net vertel word nie, maar regtig gehoor en verstaan word. Deur jou ervaring te deel, help jy om ander te herinner dat hulle nie alleen is nie – en soms is dit presies die moed wat iemand anders nodig het.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels