Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Zané Neizel, wat in Alabama, VSA woon.
Hallo Zané, dit is heerlik om met jou te gesels! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik, en hoekom het julle besluit om na Finland en toe na die VSA te emigreer?
My man, Bryson, en ek het mekaar in Potchefstroom ontmoet. Daarna het ons na Steelpoort verhuis, waar ons ons lewe saam begin bou het, en later ook ’n tyd lank in Witbank gewoon voordat ons groot avontuur begin het.
Ons het aanvanklik na Finland verhuis nadat Bryson ’n werkgeleentheid daar gekry het. Ons kinders was toe onderskeidelik vyf en agt jaar oud, en ons het gevoel dit is die perfekte tyd om ’n avontuur aan te pak. Ná twee en ’n half jaar in Finland het nog ’n geleentheid hom in die VSA voorgedoen, en ons het besluit om weer die sprong te waag. Dit was ’n groot verandering, maar ook ’n ongelooflike ervaring. Finland en die VSA is albei besonderse lande om in te woon, en ons voel bevoorreg om albei te kon beleef.
Vertel ons meer van jou gesin.
Ons is ’n gesin van vier. Bryson is ’n prosesingenieur en ek is ’n onderwyseres. Ons het twee wonderlike dogters wat ons huis vol energie, lag en nuuskierigheid hou. As gesin geniet ons dit om saam dinge te doen – of dit nou is om met vriende te kuier, nuwe plekke te ontdek of net saam by die huis te ontspan.
Saam met ons het ook twee langhaar-worshonde die wêreld aangepak. Hulle het van Suid-Afrika na Finland en later na die VSA saam met ons verhuis en is beslis deel van elke avontuur. Vir my is ons gesin my grootste steun en anker – die plek waar ek balans en perspektief vind, ongeag waar ons woon.
Hoe het jy die emigrasieproses ervaar? Was dit ’n groot aanpassing?
Die besluit om Suid-Afrika te verlaat was nie maklik nie. Ons is baie geheg aan ons familie en ons land, en die afskeid was emosioneel. Ons het nie weggegaan omdat ons nie lief is vir Suid-Afrika nie, inteendeel. Ons het gegaan omdat ’n besondere werkgeleentheid op ons pad gekom het.
Finland was ’n ongelooflike ervaring, maar ook ’n groot aanpassing. Alles was nuut: die kultuur, die klimaat en selfs die taal. Die eerste tyd was uitdagend, maar ons het wonderlike mense ontmoet wat ons gehelp het om daar tuis te voel. Ons glo regtig dat God mense op ons pad geplaas het om ons te ondersteun.
Een van die grootste lesse was om met ’n oop gemoed te leef en die Finse manier van doen te omhels. Die Finne sê daar is nie iets soos slegte weer nie – net slegte klere. Die koue en sneeu het baie aanpassing geverg, maar dit het deel geword van die avontuur.
In Alabama was die aanpassing makliker. Die kultuur voel nader aan wat ons ken, en die gemeenskapsgevoel het ons baie aan Suid-Afrika herinner.
Het julle maklik nuwe vriende gemaak?
Ja, ons was baie bevoorreg. Dit vat altyd tyd om jou plek te vind, maar ons het gou ervaar hoe vriendelik mense kan wees. In Alabama is daar ’n sterk gemeenskapsgevoel en mense verwelkom jou met ope arms. “Southern hospitality” bestaan werklik: mense is gasvry, oop en bereid om te help.
Hoe verskil die skoolstelsel in Alabama van Suid-Afrika s’n?
As onderwyseres en ma het ek dit van twee kante beleef. Tegnologie speel ’n baie groot rol in Amerikaanse skole. Die bekende geel skoolbusse is ook werklik indrukwekkend en werk baie goed.
Nog iets wat opval, is die sterk patriotisme en skoolgees. Leerders neem deel aan die Pledge of Allegiance, en daar is ’n groot trots op hulle land. Anders as in Suid-Afrika dra leerders nie uniforms nie, en ek is baie beïndruk met die dissipline in die klaskamer.
Wat was die grootste aanpassing?
In Finland was dit die klimaat – die lang, donker winters en die koue. Die taal en kultuur het ook tyd geneem om te verstaan. Maar ons het vinnig geleer dat ’n glimlag in enige taal verstaan word.
In die VSA was dit dinge soos die grootte van alles – winkels, porsies en voertuie. Maar die gemeenskapsgevoel en lojaliteit is iets besonders.
Vir my persoonlik was dit om weer van voor af ’n tuiste te bou, nuwe mense, nuwe ritmes en weer ’n gevoel van behoort te ontwikkel.
Wat het jou verras van Alabama?
Die sterk gemeenskapsgevoel en die rol van kerke het my verras. Mense ondersteun mekaar en daar is ’n egte omgee vir mekaar. Dit herinner my baie aan Suid-Afrika.
Sport speel ook ’n groot rol, veral universiteitsvoetbal. Wedstryddae word groot gemeenskapsgeleenthede.
Die geskiedenis, kos, musiek en tradisies van die Suide gee die streek ’n unieke karakter.
Watter lesse het julle geleer?
Ons het geleer hoe aanpasbaar ’n mens kan wees en hoe belangrik mense en gemeenskap is. Wanneer jy ver van familie af woon, raak die mense wat jy ontmoet baie kosbaar.
Die grootste les is dat “tuiste” nie net ’n plek is nie, maar die mense met wie jy jou lewe deel.
Wat beteken jou Afrikanererfenis vir jou?
Dit beteken baie vir my. Dit is deel van wie ek is – my taal, kultuur en waardes. Ons praat Afrikaans by die huis en hou ons tradisies lewendig.
Kos speel ’n groot rol, en ’n braai of Suid-Afrikaanse geregte bring altyd ’n gevoel van tuiste. Ons geniet ook Suid-Afrikaanse wyn wanneer ons dit kan kry.
Hoe kry julle ’n “smaak van die huis”?
Suid-Afrikaanse produkte is nie altyd maklik om te kry nie, maar daar is aanlyn winkels en soms verrassings in plaaslike winkels. Ons het ook al ander Suid-Afrikaners ontmoet en dit bly altyd besonders om weer Afrikaans te hoor.
Wat sou jy julle emigrasiehoofstuk noem?
“’n Avontuur van geloof en nuwe beginne.” Dit was nie altyd maklik nie, maar beslis die moeite werd.
Hoe het jy persoonlik verander?
Ek is meer oop vir nuwe ervarings en verandering. Ek het ’n groter waardering vir my herkoms, en ek het ook die moed gekry om nuwe drome na te jaag – soos om my eerste boek te publiseer.
Ek het geleer om die proses te vertrou en geloof, familie en dankbaarheid sentraal te hou.
Laaste raad vir ander wat wil emigreer?
Emigrasie is ’n avontuur wat tyd, geduld en ’n oop hart vra. Daar sal uitdagings wees, maar ook ongelooflike nuwe ervarings.
Hou vas aan wie jy is, maar wees oop vir nuwe kulture. En staan as gesin sterk saam – dit maak die pad soveel makliker.
En miskien die belangrikste: vertrou die proses. Jy sal nooit alleen wees nie.

Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
Deel op
"*" indicates required fields
Nuutste artikels





























