Afrikaanse musiektoer skop dié naweek af in Dubai en Europa

13/05/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Afrikaanse musiektoer skop dié naweek af in Dubai en Europa

Deur Marthinus Koekemoer

Afrikaners in Dubai en vyf stede in Europa kan uitsien na heerlike Afrikaanse musiek wanneer Afrikaans is Lekker oor die volgende week of twee daar ’n draai gaan maak. AfriForum Wêreldwyd is ’n vennoot van dié konserte.

Wat is dan nou meer pret as ’n lekker kuier en Steve Hofmeyr wat musiek maak? Wel, wat van Hofmeyr, Liezel Pieters en Snotkop wat die verhoog deel? Dit is presies waarna Afrikaners in Dubai Vrydag (15 Mei) na kan uitsien. Daarna maak dié drie ook ’n draai in Amsterdam (16 Mei), Edinburgh (19 Mei), Newry (22 Mei), Manchester (23 Mei) en Londen (24 Mei).

Liezel Pieters deel vir die Afrikaans is Lekker-konserte in Dubai en Europa die verhoog met Steve Hofmeyr en Snotkop.

“Wanneer Afrikaanse kunstenaars in die buiteland optree, gaan dit oor soveel meer as net ’n aand se vermaak,” sê Sue-Ann de Wet, hoof van Diaspora by AfriForum Wêreldwyd. “Dit skep ruimtes waar families, vriende en selfs jongmense wat dalk nie daagliks Afrikaans praat nie, weer op ’n spontane manier met die taal en kultuur kan identifiseer. Vir kinders en tieners wat oorsee grootword, help hierdie ervarings om trots te ontwikkel in waar hulle vandaan kom en om te sien dat Afrikaans steeds modern, relevant en deel van hul wêreld is.”

SA Events neem jaarlikse die Afrikaans is Lekker-konserte na verskillende plekke in die wêreld om Afrikaners in die buiteland die geleentheid te gee om na Afrikaanse musiek te luister, hul kultuur uit te leef en nuwe mense te ontmoet.

’n Volgende reeks konserte wag in Augustus op Afrikaners in Australië en Nieu-Seeland wanneer Bernice West, Elvis Blue en Appel daardie deel van die wêreld aan die brand gaan sing.

Die Afrikaans is Lekker-toerdatums vir Australië en Nieu-Seeland is soos volg:

Christchurch – 14 Augustus

Auckland – 15 Augustus

Melbourne – 16 Augustus

Sydney – 21 Augustus

Brisbane – 22 Augustus

Perth – 23 Augustus

Volgens Arno Nel, eienaar van SA Events en organiseerder van die Afrikaans is Lekker-konserte, is hierdie toere ’n bymekaarkoms vir ou vriende en gemeenskappe. “Dit is ’n plek om nuwe vriende te maak, lekker saam te kuier en jou taal en kultuur uit te leef. Om in jou nuwe land gelukkig te wees beteken nie dat jy jou mense en kultuur versaak nie. Hierdie optredes bring iets van ‘huis’ nader aan gehore in die buiteland – dit maak die verlange sagter,” sê hy.

“Musiek het ’n unieke vermoë om mense oor kontinente heen met mekaar te verbind. Afrikaans is Lekker gaan nie net oor kunstenaars op ’n verhoog nie; dit gaan oor die emosie van saam sing, saam lag en daardie bekende gevoel van samehorigheid saam te dra – maak nie saak waar in die wêreld jy jou bevind nie,” sluit De Wet af.

Kaartjies is beskikbaar by www.southafricanevents.co.za.

Deel op

Nuutste artikels