Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Heléne Schoonwinkel wat in Australië woon.
Hallo Heléne, dit is baie lekker om met jou te gesels!
Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om in Australië te gaan woon?
My man Johan en ek het in Pretoria grootgeword en later in Vanderbijlpark en Richardsbaai gewoon, waar ons ons kinders grootgemaak het. Richardsbaai voel vandag steeds vir hulle soos “huis”.
In 2006 het ons begin dink aan emigrasie, hoofsaaklik vir beter werksgeleenthede en ’n veiliger toekoms vir ons kinders. Teen 2007 het die geleentheid onverwags opgeduik en op 21 April 2007 het ons Suid-Afrika verlaat. Twee dae later het ons in Brisbane geland en daardie aand in Mackay aangekom waar ons nuwe hoofstuk begin het.
Vertel ons meer van jou gesin.
Johan en ek word albei vanjaar 60. Ons het twee kinders en twee kleinseuns wat groot vreugde in ons lewe bring.
Ons seun, Arno (33), werk op ’n reddingshelikopterspan in Queensland waar hy saam met sy vrou en hul vyfjarige seuntjie woon. Ons dogter, Elmé (31), woon ook in die Mackay-omgewing saam met haar lewensmaat en hul baba.
Johan en ek woon tans in Casino, ’n klein plattelandse dorp in New South Wales, waar ons albei vir die plaaslike regering werk. Ons het sowat tien jaar gelede hierheen verhuis vir werk, wat beteken het dat ons kinders in Mackay agtergebly het. Buiten emigrasie, was dit seker een van die moeilikste besluite wat ons nog moes neem.
Vertel ons meer oor julle werk en die lewe daar.
Ek bestuur die plaaslike Stadsraad se bates op hul bateregister, GIS- en kaartstelsels, terwyl Johan as water- en rioolingenieur werk. Ons werk volgens ’n “9-day fortnight”, wat beteken ons kry elke tweede week ’n langnaweek.
Omdat ons later in ons lewe geïmmigreer het, weet ons ons sal waarskynlik later aftree. In Australië is die aftreeouderdom tans 67.
Die lewe hier is nie noodwendig rustiger nie. Mense jaag steeds en stres steeds, al het Aussies oor die algemeen ’n meer ontspanne ingesteldheid.
Het julle maklik nuwe vriende gemaak?
Mackay was vir ons ’n wonderlike plek om te vestig. Die tropiese klimaat het baie aan Richardsbaai herinner en dit het die aanpassing makliker gemaak. Ons het vinnig ingeskakel, goeie vriende gemaak en deel geword van ’n groot Suid-Afrikaanse gemeenskap en kerk.
Casino is egter anders. Dit is ’n kleiner, hegte gemeenskap waar dit moeiliker is om werklik in te skakel, veral sonder skoolgaande kinders. Ons het goeie werkvriendskappe, maar baie van ons sosiale lewe bly steeds in Mackay waar ons kinders, kleinkinders en goeie vriende is.
Wat was die grootste aanpassing vir jou?
Die afstand van familie was moeilik, maar die grootste aanpassing was dat ons nie meer sommer net in die kar kon klim en vir ’n naweek gaan kuier nie.
Wat my egter die meeste onkant gevang het, was die Australiese Engels. Hulle sluk woorde in, kort alles af en praat ongelooflik vinnig. Sharon word “Shaz” en Warren word “Wazza”. Toe ek in kliëntediens begin werk het, was ek baie senuweeagtig, maar met tyd groei jou selfvertroue. Voor jy jou kan kry, begin jy self saam afkort – al klink jy nooit heeltemal Aussie nie!
Watter lesse het julle as gesin geleer?
Immigrasie is nie altyd maanskyn en rose nie. Maak nie saak waar jy woon nie – ’n plek word uiteindelik weer net die plek waar jy werk, eet, slaap en elke dag van voor af begin.
Ons geloof het ons deur moeilike tye gedra. Ons gesin is baie heg en ons waardes bly vir ons belangrik. Al praat ons kinders vandag meestal Engels, bly hulle trots Suid-Afrikaans en wil hulle steeds hul kultuur en wortels aan hul kinders oordra.
Wat beteken jou Afrikaanse wortels vir jou?
Ek het 40 jaar in Suid-Afrika gewoon en al is ek nou ook ’n Aussie, bly ek diep Suid-Afrikaans. Ek is trots op my aksent en hoop ek verloor dit nooit.
Ons kinders antwoord meestal in Engels wanneer ons Afrikaans praat, wat nogal interessante oomblikke veroorsaak wanneer mense net die helfte van die gesprek verstaan!
Wat is jou gunstelingherinnering van Suid-Afrika?
Daar is niks soos ’n Suid-Afrikaanse sonsondergang oor die bosveld of wildtuine nie. Nêrens anders kry jy dieselfde natuurskoon, diereryk en plantegroei nie. En dan is daar natuurlik ook die Kaap se berge.
As Suid-Afrika eers in jou bloed is, bly dit daar vir altyd.
Kry julle nog Suid-Afrikaanse produkte daar?
Ja, daar is Suid-Afrikaanse winkels in Brisbane en Mackay waar ons soms gunstelinge soos blatjang, Tennisbeskuitjies en beskuit koop. My man maak gelukkig sy eie biltong.
Ek het egter lankal geleer om aan te pas. As jy nie leer inpas nie, gaan emigrasie moeilik wees. Aanpassing is eenvoudig deel van die proses.
Wat sou jy jou emigrasiehoofstuk noem?
“Van uithou tot tuiskoms.”
Toe ons destyds die skeepsvraghouer toegemaak het, het ons besef: dit is nou alles wat ons het. Ons het gegroet, op die vliegtuig geklim en ’n nuwe lewe begin.
Vandag, 19 jaar later, besef ons hoe vinnig die tyd gevlieg het. Die Here het ons gedra, gevorm en sterker gemaak. Dit was nie maklik nie, maar dit was ook ’n ongelooflike voorreg om ons kinders hier groot te maak – in ’n land waar hulle meer geleenthede en groter veiligheid ervaar.
Ja, Australië het ook sy probleme, maar daar is steeds respek vir mense se lewens en ’n gevoel dat burgers waarde het. Op ’n dag besef jy: iewers langs die pad het Australië ook huis geword.
Wat is die grootste verandering in jouself sedert julle geëmigreer het?
Ek leef nie meer met die konstante vrees dat iemand my huis wil binnedring of my gaan beroof nie. Ek hoef nie meer bekommerd te wees oor wie my dophou by ’n parkeerterrein of kitsbank nie.
Hier is ook misdaad en mense wat swaarkry, maar dit is nie dieselfde as in Suid-Afrika nie. Dorpe en stede word versorg, paaie word herstel en munisipaliteite lewer werklik dienste.
Ek het weer geleer hoe dit voel om veilig te wees – om strand toe te stap, my plakkies by die trappies te los en te weet dit sal nog daar wees wanneer ek terugkom. Dit is ’n ongelooflike vryheid.
Watter raad het julle vir ander wat emigrasie oorweeg?
Wees voorbereid: emigrasie is duur en die lewe in Australië is nie goedkoop nie. Huispryse is hoog en mediese koste kan ook ’n groot aanpassing wees.
Moenie alles aanhoudend na rande terugwerk nie. Al is sekere goed duurder, is inkomste en koopkrag ook anders.
Doen deeglike navorsing, wees realisties oor die uitdagings en moenie dink emigrasie gaan al jou probleme oplos nie.
Die beste raad wat ek kan gee, is: gaan in met oop oë, goeie voorbereiding en geloof. Sonder geloof en aanpassing raak die pad swaar. Met dit, raak selfs die uithou draaglik.
Deel op
"*" indicates required fields
Nuutste artikels



























