Wortels én vlerke: ’n Christen-Kiwi-Afrikaner se verhaal

31/07/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Wortels én vlerke: ’n Christen-Kiwi-Afrikaner se verhaal

Deur Lijlanie Viljoen

Toe ons byna twee dekades gelede na Nieu-Seeland geëmigreer het, was my dogtertjie skaars een jaar oud en het sy pas begin Afrikaans (en Sesotho!) praat. Soos soveel kinders wat in ’n nuwe land grootword, moes sy vinnig Engels aanleer om met haar maatjies te kommunikeer. Skielik het die twee tale deurmekaar begin vloei, en ek het besef ek staan voor ’n keuse: Gaan ek haar voortdurend reghelp, of gaan ek haar die ruimte gee om albei tale natuurlik te ontwikkel?

Ek het die tweede pad gekies.

Wanneer sy iets gesê of gevra het, het ek dit eenvoudig eers in Afrikaans en dan in Engels herhaal. Sonder kritiek. Sonder frustrasie. Net met geduld. Vandag besef ek hoe waardevol daardie eenvoudige benadering was. Sy het nie net tweetalig geword nie; sy het ook ’n liefde vir Afrikaans behou.

Hardkoppige (of by terugblik – baie wyse) oumas wat geweier het om in Engels WhatsApp-boodskappe te stuur, het tot gevolg gehad dat my kleuterdogtertjie haarself leer Afrikaans tik het – tot groot vermaak van die grootouers in Suid-Afrika.

Ons het doelbewus Afrikaans deel van ons daaglikse lewe gemaak. Ons het Afrikaanse stories gelees, films gekyk, saam gesing en later het sy selfs Afrikaans as tweede taal op skool geneem. Ons het nooit probeer keer dat Engels deel van haar wêreld word nie. Inteendeel, ons was dankbaar dat sy kon aanpas en tuis voel in ons nuwe land. Maar ons het terselfdertyd seker gemaak dat sy weet waar haar wortels lê.

Vir my is taal baie meer as kommunikasie. Dit is herinneringe, familie, geloof, tradisies en identiteit. Wanneer ons Afrikaans praat, leef iets van ons geskiedenis voort. Dit is die taal waarin ons lag, bid, troos en onthou. Soos Sunette Bridges in haar onlangse lied ‟Afrika se kinders” sing: ‟Die taal waarin ons bid en droom, bly steeds Afrikaans. Die taal waarin ons liefhet, waarin ons hoop, waarop ons dans …”

As emigrante hoor ons soms dat ons ons land verraai het. Ek ervaar dit anders. Die meeste Suid-Afrikaners wat ek in die buiteland ontmoet het, dra steeds hulle kultuur, waardes en werksetiek met trots saam. Ons probeer goeie bure, toegewyde werknemers, betrokke gemeenskapslede en liefdevolle ouers wees. Ons bou waar ons geplant is, maar ons vergeet nie waar ons vandaan kom nie.

Ons besoeke aan Suid-Afrika bly daarom kosbaar. Daar is iets besonders aan die rooi Afrika-grond, ’n knetterende bosveldvuur, die asemrowende Kaap, en lang kuiers met familie en vriende. Dit herinner ons dat afstand nooit liefde uitwis nie.

Vandag is my dogter ’n jong vrou wat gemaklik tussen twee wêrelde leef. Sy is dankbaar om in Nieu-Seeland te woon en te werk, maar net so trots op haar Afrikaanse erfenis. Vir my is dit die grootste bewys dat integrasie en identiteit nie teenoor mekaar staan nie. ’n Mens hoef nie jou wortels af te sny om nuwe vlerke te kry nie.

Ek is met trots ’n Christen-Kiwi-Afrikaner – ’n persoon met dubbele burgerskap, van sowel Suid-Afrika as Nieu-Seeland. My hart behoort aan albei lande. Die een het my gevorm; die ander het my nuwe geleenthede gegee. En tussen die twee leef Afrikaans steeds – nie net as ’n taal nie, maar as ’n kosbare deel van wie ons is.

(En ja, natuurlik ondersteun ons die All Blacks – solank hulle net nie teen die Springbokke speel nie!)

Met ’n hart vol Kiwi-liefde – al klop dit nog steeds op Afrika se ritme.

Lijlanie Viljoen

.

Ons wil graag jóú storie hoor.

Vertel ons:
Waar woon jy?
Wat het emigrasie jou geleer?
Hoe hou jy jou Afrikaans, kultuur en geloof lewendig?
Watter raad sal jy vir ander in die buiteland gee?
Stuur jou verhaal vir ons. Saam vertel ons die stories wat ons mense wêreldwyd verbind en bemoedig

Deel op

Nuutste artikels