Uit en tuis: ’n e-pos uit Nieu-Seeland

14/08/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit Nieu-Seeland

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Ilze Dreyer wat in Nieu-Seeland woon.

Hallo Ilze, dit is heerlik om met jou te gesels! Vertel vir ons van waar in Suid-Afrika is julle en hoekom juis Nieu-Seeland?

Ek is oorspronklik van Vryheid en my man, Nico, kom van Ellisras. Voor ons geëmigreer het, het ons in Randburg gewoon.

Ons het Nieu-Seeland gekies hoofsaaklik vir die veiligheid, die kultuur wat naby aan Suid-Afrikaanse kultuur is en al die Suid-Afrikaners wat hier woon. Die weer in die Noordeiland is nie sleg nie, inteendeel die weer in Auckland laat ons baie dink aan die Wes-Kaap.

Die aanpassing in ’n nuwe wêreld

Wat was vir jou die vreemdste dinge om aan gewoond te raak, en wat was die grootste aanpassing?

Om aan gewoond te raak:

  • Jy sien bejaardes en kinders in die donker in die straat stap.
  • Jy ontvang weekliks of tweeweekliks salaris en betaal weekliks huur.
  • Brandstof word self ingegooi en betaal – sonder enige kassier.
  • Die strate en omgewing is baie skoon.
  • Hier is pragtige, netjiese parke om in te stap en te ontspan.
  • Kiwi’s leef ten volle in die lente en somer. Hulle geniet elke oomblik van ’n mooi sonskyndag en dit is so lekker om te sien en te beleef!
  • Meeste huise het nie mure/heinings tussen mekaar nie, en as daar is, is dit van hout.

Grootste aanpassing:

  • Jy moet leer om die Kiwi-kultuur te verstaan en daaraan gewoond te raak.
  • Dit is sleg vir jou kredietrekord om hier op krediet te koop, waar in Suid-Afrika dit die teenoorgestelde is (koop van huis en voertuig uitgesluit).   
  • Die geloofwaardigheid van Kiwi’s – hulle vertrou dat mense die regte ding sal doen.
  • Vensters en deure het nie diefwering nie.
  • Hoe effektief prosesse hier werk.
  • Die Kiwi’s vang nie gees nie (soos met rugby).

Hoe het julle julself gevestig in die gemeenskap – was dit maklik om julle voete te vind en nuwe vriende te maak?

Ons is nie baie sosiaal nie, so vir ons was dit nie te moeilik om aan te pas nie.

Dit is wel moeilik, in ons opinie, om vriende te maak – nie alle Suid-Afrikaners wil jou vriend wees nie.

Ons het by die kerk aangesluit en is deel van ’n klein groep (selgroep).

Is dit anders om inkopies te doen in Nieu-Seeland in vergelyking met Suid-Afrika?

Ja, dit is aansienlik anders. Jy moet aan ander produkte gewoond raak. Nie alle produkte wat in Suid-Afrika te koop is, is hier beskikbaar nie. Daar is so te sê geen plastieksakke beskikbaar by kruidenierswarewinkels nie – meeste het papier- en lapsakke. Jy vat jou eie sakke winkel toe. Groente en vrugte moet self gepak word en kom bitter min vooraf in pakkies. Groente en vrugte is baie duur en ons koop dit net wanneer dit in seisoen is. Jy doen self die werk by die kassiere, skandeer jou item en verpak, asook betaal.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika, dalk iets kleins wat ander dalk nie sou verwag nie?

  • Ons mis dit om ons voertuie by die karwas af te laai en dit later te gaan optel.
  • Die warm water van Sodwana en om jaarliks daar te gaan skubaduik.
  • Goedkoop wegneemetes asook om gereeld in ְ’n restaurant te eet. Hier is dit baie duur om te gaan uiteet.
  • Goedkoop vrugte
  • Ons geliefde bediende

Is daar Suid-Afrikaanse produkte of winkels naby julle beskikbaar? En professionele diensverskaffers wat Afrikaans praat?

Ja, Auckland het heelwat Suid-Afrikaanse winkels – jy kan selfs biltong en melktert koop! Daar is ook ’n internasionale rak in kruidenierswinkels met produkte soos Tennisbeskuitjies en Mrs Ball’s-blatjang.

Ons veearts, algemene praktisyn, haarkapper en finansiële adviseur is almal Afrikaans. Ons selgroep by die kerk is ook Afrikaans. Ons ken selfs ’n Afrikaanse prokureur en onderwyser.

As jy aan hierdie hoofstuk van emigrasie ’n titel moes gee, wat sou dit wees en hoekom?

Die ruil van Derdewêreldprobleme met dié van ’n Eerstewêreldland. Elke land het sy probleme. Baie mense dink hulle gaan hul probleme agterlaat, maar dis net ’n ander stel uitdagings wat wag.

Wat sou jy sê is die grootste verandering in jouself sedert jy geëmigreer het?

Ek het geleer om meer geduldig te wees. Mense is rustiger hier en laat hulle nie aanjaag nie. Ek moes gewoond raak daaraan dat veiligheid normaal is. Ek sukkel nog soms hiermee.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel – iets wat jy wens jy geweet het voor julle vertrek het, of raad vir ander wat oorweeg om dieselfde pad te stap?

  • Doen navorsing voor jy besluit om te emigreer. Moenie net na Instagram-foto’s kyk nie. Dit is ’n groot taak om hierdie huiswerk te doen. Vra die vrae. Daar is baie groepe op Facebook waar mense jou sal help en probeer stuur in die regte rigting.
  • Emigrasie is nie maanskyn en rose nie – dis fisies en emosioneel uitputtend.
  • Maak seker jy het die nodige fondse om te kan emigreer. Baie mense vat die eerste kans en kom oor. Die visums is duur asook om jouself gevestig te kry.
  • Stel ’n deeglike begroting op. Moenie jou teen die salarisbedrag vas staar nie. Verblyf is baie duur hier en die lewenskoste is vreeslik hoog. Meeste mense huur huise. Maak vrede daarmee dat jy heel moontlik nie die koop van ’n huis sal kan bekostig nie, veral as jy op ’n latere ouderdom emigreer.
  • As jy familievas is, gaan jy heelwaarskynlik sukkel om hier aan te pas.
  • Jou huwelik/verhouding met jou man/vrou moet sterk en gegrond wees.
  • Moenie binne die eerste twee jaar teruggaan Suid-Afrika toe nie – pas eers hier aan. Baie mense gaan kuier gou en pak dan gou daarna weer op om terug te gaan.
  • As jy dit kan bekostig, kry ’n goeie emigrasie-agent, veral met die reëls wat deesdae so gereeld verander word.
  • Onthou: Nieu-Seeland is nie Suid-Afrika nie. As jy dit aanvaar, pas jy makliker aan.
  • Meeste van jou vriende en selfs familie vergeet van jou sodra jy die nuus breek dat jy gaan emigreer. Hulle gaan aan met hulle lewe sonder jou. Dit is ’n swaar en bitter pil om te sluk.
  • As jy Nieu-Seeland toe kom met die hoop om baie geld te maak, is dit nie die land vir jou nie. Ja, jy verdien in dollars, maar onkoste is baie hoog.
  • Emigrasie voel soms soos ’n rouproses – jy neem afskeid van wat jy ken en stap in die onbekende in.

Deel jou storie met ons

Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.

Deel op

Nuutste artikels