Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat oorsee woon. Hierdie week kuier ons by Elaine Carstens, wat eers in Nieu-Seeland en nou in Australië woon.
Van Bloemfontein tot Brisbane
Ek het in Bloemfontein grootgeword, later saam met my man, Rudi, in Durban gewoon. In 2015 het ons besluit dis tyd vir ’n avontuur en Nieu-Seeland toe getrek – veiliger, nuwe geleenthede en net die regte tyd. Ons was gelukkig daar, maar ná Durban se son het die eindelose reën en koue ons behoorlik getoets. ’n Reënbaadjie het soos deel van ons uniform gevoel! Uiteindelik het ons besluit om Australië se warmer weer ’n kans te gee – al is dit nie noodwendig goedkoper nie. Dis alles deel van die avontuur.
Die emigrasieproses
Die eerste trek was ’n berg papierwerk. Ons worshond moes natuurlik ook deur al die vorms. Dit was stresvol, maar opwindend – ’n fluistering van “We’re going on an adventure!”. Al was dit hartseer om geliefdes te los, het Nieu-Seeland se pragtige natuur en die Suid-Afrikaanse gemeenskap dit makliker gemaak.
Australië in 2021 was ’n ander storie – ons het reeds Nieu-Seelandse burgerskap gehad, so die papierwerk was makliker, maar dit was midde-in Covid. Inperking, reëls wat oornag verander en ’n maand in Sydney voordat ons Queensland toe kon trek – dit het soms soos chaos gevoel. Tog was dit weer ’n nuwe hoofstuk met sy eie stories.
Nuwe vriende en gemeenskap
Ons eerste vriende het ons in ’n Pak’nSave ontmoet toe Rudi in Afrikaans met my gespot het. ’n Oom het gehoor, teruggepraat en sommer daardie week was ons by hulle vir Oukersaand. So het ’n klein netwerk begin groei. In Tauranga het ons ’n hegte vriendekring opgebou en my ouers en sibbe was ook in Nieu-Seeland – ’n seën.
Australië is anders. Mense is meer “cliquey” en ons woon ver van groot stede waar Suid-Afrikaanse geleenthede is. Dit vat langer om in te pas, maar gelukkig het familie ook later daarheen getrek, wat baie help.
Kos en kultuur
Ek het begin eksperimenteer met Suid-Afrikaanse disse soos bobotie, melktert en Peppermint Crisp-tert. Australië se koskultuur is interessant – Vegemite en die bekende “sausage sizzle” laat mens gou besef dit is nie boerewors nie! Dis snaaks om te sien hoe trots Aussies op hul kos is, terwyl ons steeds by biltong bly.
Wat ons mis van Suid-Afrika
Dis die klein goedjies wat die hardste trek: die reuk van braaihout, die soutsee van Hartenbos, dolfyne aan die kus. Die warmte van mense, hoe Afrikaans soos ’n lied klink, die Springbokke se terugkoms. Selfs die geel lyn in verkeer, ’n “hazard” as dankie, of die petroljoggie se grappie – dit alles maak Suid-Afrika meer as net ’n plek.
En ja, ek mis die dokters! In Suid-Afrika kon jy vinnig ’n afspraak kry; hier wag jy weke en dan nog ure in die wagkamer.
Hoe ons die verlange hanteer
Wanneer ons verlang, kombineer ons kos, taal, musiek en sport. Ons maak self Steers-burgers, sit Afrikaanse musiek aan en mis nooit ’n Bok-wedstryd nie. Dis dié klein ritueeltjies wat jou weer naby aan jou mense laat voel.
Die Australiese leefstyl
Daar is dinge wat mens laat kopkrap – kos wat saai kan wees, onpersoonlike restaurante, vuil openbare badkamers en selfs sport op Sondae. Maar daar is ook wonderlike goed: die buiteluglewe, pensioenvoordele, wilde papegaaie en kangaroes naby die huis en 4×4 op die strand. ’n Mengsel van frustrasie én bewondering wat Australië uniek maak.
Reisavonture
In Nieu-Seeland was alles naby – ons het saam met dolfyne geswem, geski, Hobbiton besoek en eindelose watervalle bewonder. Australië vra meer beplanning, maar hoogtepunte was Australia Zoo en Moreton Island. Ons het ook Bali en Londen besoek en maak graag lang “lay overs” in Dubai of Singapoer. Al is afstande groot, waardeer jy elke ervaring dubbel.

Lesse geleer
Ons het geleer om dinge te los wat nie saak maak nie, stadiger te leef en op onsself te vertrou. Ons is sterker as wat ons dink. Soms moet jy ’n kans vat, selfs al voel dit onseker. Suid-Afrika sal egter altyd huis bly – ons harte mik terug.
Afrikaans en kultuur
By die huis praat ons net Afrikaans. Dis vol humor en kleur en hou ons identiteit lewendig. Daar is woorde en sêgoed wat jy net nie in Engels kan vertaal nie – soos “Ons kuier ’n hond uit ’n bos uit” of “So bek moet jêm kry.” Ons wil hê die taal moet bly leef, want dit is deel van wie ons is.
Suid-Afrikaanse produkte en dienste
Ons is gelukkig om naby Suid-Afrikaanse winkels te bly – biltong, boerewors, beskuit, Bar-One en Zoo-koekies is daar. Steri Stumpies bly egter ’n legende! Met ander produkte eksperimenteer ons self – soms suksesvol, soms snaaks. Ons dokter verstaan genoeg Afrikaans om dit makliker te maak en dis vir ons ’n groot verligting.

As ek hierdie emigrasiehoofstuk moes benoem, sou dit wees: “Home is South Africa.” Want al leer ons nuwe dinge en bou ’n lewe elders, bly Suid-Afrika ons anker van herinneringe, taal, kos en kultuur.
My raad aan ander: wees realisties. Jy gaan foute maak, jy gaan soms wonder of dit die regte besluit was – en dis normaal. Lag saam met die snaakse oomblikke, huil saam met die hartseer, en bou jou eie stukkie Suid-Afrika waar jy ook al is. Dis die klein dinge – ’n braai, Afrikaanse musiek, ’n fliek – wat ’n nuwe land regtig tuis laat voel.
En onthou: Suid-Afrika is vol mooi dinge wat ons soms vanselfsprekend aanvaar. Jy besef dit eers ten volle wanneer jy ver is. Wees dankbaar vir elke klein oomblik – dis dit wat jou regtig ryk maak.
Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Auckland

























