Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Karlien van Heerden, wat saam met haar gesin in Greymouth, Nieu-Seeland woon.
Hallo, Karlien! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik en waarom het julle besluit om in Nieu-Seeland te gaan woon?
Ons is oorspronklik van Middelburg, Mpumalanga. Ons is nou al amper agt jaar hier in Nieu-Seeland. Ons het die skuif gemaak vir veiligheid en beter geleenthede, en sodat die kinders ’n goeie toekoms kan hê. Ons het ons tuiste hier in Greymouth op die Suideiland gevind.
Vertel ons meer van jou gesin.
Ons is ’n hegte gesin en ons beteken alles vir mekaar. My man, Billy, is ons rots – hy sorg ongelooflik goed vir ons en danksy sy harde werk as dieselwerktuigkundige geniet ons ’n baie goeie lewe hier in Nieu-Seeland. Hy werk op groot myne soos OceanaGold en Stockton, en het selfs al die unieke geleentheid gehad om in Antarktika te werk. Wanneer hy nie by die werk is nie, leef hy sy passie vir jag en visvang uit.
Ek is in die bevoorregte posisie dat ek nie hoef te werk sedert ons getroud is nie, wat my die vryheid gee om my gesin eerste te stel. Ek is egter ’n regte mense-mens en geniet dit vreeslik om gemeenskappe bymekaar te bring. Ek bedryf my eie biltongonderneming en doen ook vrywilligerswerk.
Hoe oud is jou drie dogters en hoe het hulle in die nuwe land aangepas?
Hulle is Karmi (16), Mienke (13) en Lianka (10). Hulle floreer hier! Wat vir my so spesiaal is, is dat hulle self gekies het om Afrikaans by die huis te bly praat. Hulle is baie sportief en betrokke by al die aktiwiteite wat Greymouth bied. Hulle vat die geleenthede wat hulle hier kry met albei hande vas, en ons is ongelooflik trots op hulle.
Vir ons as ouers is dit van onskatbare waarde dat hulle veilig in die straat kan rondloop en speel – en dan besef ’n mens net weer hoekom ons in die eerste plek gekom het.
Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak? Wat was die grootste aanpassing?
Die vreemdste was die slangwoorde soos “mufti day” en “togs”. En al eet ons nou al lekker saam aan die Kiwi sausage sizzle, verkies ons nog steeds ’n regte boereworsrol enige dag bo hom!
Ons het ook baie goed aangepas by die handelsmerke hier – die mayonnaise en tamatiesous proe lekker, en die sjokolade is sommer baie groter!
Die grootste aanpassing (en eintlik ’n skok) was die gebrek aan respek vir outoriteit by die meerderheid van die kinders hier. Aan die ander kant is die skoolstelsel baie ontspanne, waarmee ek saamstem. My kinders kry nie huiswerk nie, so ná skool is dit net sport en ontspan. Daar was nog nie ’n dag wat my kinders nie wou skool toe gaan nie.
Wat beteken jou Afrikanererfenis vir jou? Watter tradisies laat julle voortleef?
Ons is trots Afrikaans! Ons braai nog steeds een of twee keer ’n week en praat Afrikaans by die huis. Ons kos is ons ding, en dit is vir ons belangrik dat die kinders weet waar hulle vandaan kom.
Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Nieu-Seeland. Kom julle soms bymekaar?
Beslis! Omdat ek so lief is vir mense en om almal bymekaar te bring, hou ek elke drie tot vier maande ’n sokkie hier aan die Weskus. Ons Facebook-blad is Kaalvoet Sokkie West Coast. Ons braai, dans, trek tou en die kinders doen sakresies.
Ek is ook die voorsitter van die West Coast Multicultural Council, waar ek help om al die kulture hier bymekaar te bring.
Is daar enige Suid-Afrikaanse ondernemings naby wat julle ondersteun?
Daar is ander Suid-Afrikaanse ondernemings hier rond, maar ons doen ons eie ding met Biltong Hearty Snacks. Ek is heeltyd besig met die maak van biltong- en droëwors, en ek bak ook melkterte, koeksisters en Peppermint Crisp-tert. Ons verkoop boereworsrolle by die markte en dit verkoop altyd soos soetkoek.
Ons mis nie regtig Suid-Afrikaanse handelsmerke nie, want ons het goed aangepas en maak ons tradisionele kosse sommer self.
Julle woon al amper agt jaar in Nieu-Seeland. Enige lesse wat julle geleer het?
Inperking hier het my weer laat besef hoe kosbaar gesinstyd is. Omdat ek so lief is vir mense en almal wil saambring, het ek ook geleer dat ’n mens jou binnekring mooi moet kies. Nie almal wat dieselfde taal praat, is noodwendig jou pelle nie. Ek het geleer om my nie te steur aan afguns nie en eerder te fokus op die mense wat opreg saam met jou bly is oor jou geluk.
Die moeilikste deel van ver woon, is natuurlik wanneer dinge terug in Suid-Afrika gebeur. Beide Billy se ma en my pa is oorlede sedert ons hier is – en dit is daardie een oproep waarvoor elke immigrant bang is: die een wat jy nie kan keer of verander nie.
Watter interessanthede het jy ontdek van die land?
Dat daar om elke hoek en draai iets indrukwekkend is en dat ek dit móét afneem! Nieu-Seeland is beslis ’n ongelooflik mooi plek; dit voel soos ’n paradys.
Die weer aan die Weskus gee jou vier seisoene in een dag. As die son wel skyn, is ons besig om vis te vang of in die see te swem – Billy is mos mal oor sy visvang en jag. Ons ontdek ook die mooiste plekke, soos ons gunstelingmeer, Lake Kaniere, waar ons kamp, swem en paddle board. Ons het al twee keer met ’n kampeerwa die Suideiland verken en gaan dit vanjaar weer doen – “when in Rome”, sê hulle. Dit is regtig ’n absolute móét.
Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?
Nieu-Seeland is wonderlik, maar as jy hierheen trek, moet jy jou ingesteldheid verander. Dit is nie Suid-Afrika nie, en as jy alles heeltyd vergelyk, gaan jy baie ongelukkig wees. Omdat Billy baie wegwerk, was dit vir my belangrik om deel van die gemeenskap te word – dit help jou om vinniger in te skakel en maak jou meer streetwise.
Geluk is nie ’n bestemming nie, maar iets wat jy elke dag kies om te wees.
Ons het baie goed hier aangepas en is dankbaar vir die mense in ons lewe. Ons maak die mooiste herinneringe as gesin en voel regtig geseënd om ons beste lewe hier te kan leef.

Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
Lees ook: Ons storie: Alleen in Nieu-Seeland








































