Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Michelle van Heerden, wat tans in Kanada woon.
Hallo Michelle, dit is heerlik om met jou te gesels!
Van waar in Suid-Afrika is jy oorspronklik, en hoekom het julle besluit om na Kanada te emigreer?
Ek is oorspronklik van Louis Trichardt in Limpopo, en my man van Springbok in die Noord-Kaap. Ons het besluit om na Kanada te emigreer op soek na nuwe geleenthede, stabiliteit en ’n ander toekoms vir ons kinders. Dit was nie ’n maklike besluit nie, maar ons het gevoel dit is die regte stap vir ons gesin.
Vertel ons meer van jou gesin.
Ek en my man is al 16 jaar getroud en ons het twee kinders – ’n dogter van 15 en ’n seun van 12. Ons is ’n hegte gesin en probeer altyd nuwe avonture saam aanpak. Emigrasie het ons selfs nader aan mekaar gebring.

Vertel ons watse werk julle doen en hoe die werkkultuur in Kanada verskil van dié in Suid-Afrika.
Ek werk in finansies, maar is tans nog in die onderhoudproses. Ek is onlangs genooi vir ’n derde onderhoud by dieselfde maatskappy. My man is ’n ketelmaker. Die werkkultuur in Kanada is oor die algemeen baie gestruktureerd en professioneel, met ’n sterk fokus op werk-lewe-balans.
Dit was onlangs Family Day in Kanada en hulle neem dit baie ernstig op. As ’n winkel of onderneming oop is wanneer dit nie toegelaat word nie, kan die boete so hoog wees soos ’n maand se omset. Slegs sekere winkels mag oop wees. Daar is baie duidelike prosesse en beleide. In Suid-Afrika sou ek sê die werkkultuur is in baie opsigte soortgelyk, maar hier kan jy nie sommer in jou eie taal praat nie. Tog is die mense ongelooflik vriendelik en tegemoetkomend.
Hoe het jy die emigrasieproses na Kanada ervaar?
Die proses was lank en soms emosioneel uitputtend. Daar is baie papierwerk, wagtye en onsekerheid. Maar dit het ons baie geduld en deursettingsvermoë geleer. Wanneer jy uiteindelik hier aankom, voel dit soos ’n groot oorwinning. Met moeite en selfvertroue – soos my meisiekind altyd sê – het ons dit gemaak!
Was dit moeilik om aan te pas of het julle maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?
Dit is nog te vroeg om te sê, want ons is steeds besig om aan te pas. Ons het nog nie diep wortels geskiet nie, maar ons het al ’n netwerk van mense ontmoet – mede-Suid-Afrikaners – en dit maak ’n groot verskil. Ons probeer geduldig wees met onsself en onthou dat vyf weke nie genoeg tyd is om ’n nuwe lewe volledig te vestig nie.
Hoe verskil die leefwyse en lewenskoste van dié in Suid-Afrika?
Die lewenskoste is beslis hoër, veral wat behuising en kos betref. Maar salarisse en infrastruktuur is ook anders gestruktureer. Die leefwyse voel rustiger in terme van veiligheid en openbare dienste, maar mense leef baie volgens skedules. Winter speel ook ’n groot rol in jou daaglikse lewe!

Wat was vir julle die vreemdste om aan gewoond te raak? Wat was die grootste aanpassing vir jou?
Om aan die “verkeerde” kant van die pad te ry! Die eerste paar keer wat ons Uber gery het of saam met vriende gery het, was die senuwees erg. Die verkeersirkels werk ook antikloksgewys.
Vir my persoonlik was die skole die grootste aanpassing. Dit is heeltemal anders as Suid-Afrikaanse skole. Ons kinders is baie gelukkig, maar ouers is nie so betrokke by skoolaktiwiteite en werk soos in Suid-Afrika nie.
Watter lesse het julle as gesin geleer sedert julle verhuis het – oor julleself, oor aanpassing of oor julle nuwe omgewing?
Ons het geleer hoe veerkragtig ons regtig is. Ons het geleer om op mekaar staat te maak en om buigsaam te wees. Emigrasie dwing jou om uit jou gemaksone te beweeg en jouself weer te ontdek.
Wat beteken jou Afrikaanse wortels vir jou?
My Afrikaanse wortels beteken baie vir my. Dit is my taal, my kultuur en ’n groot deel van my identiteit. Ons praat steeds Afrikaans by die huis om ons kinders bewus te hou van waar ons vandaan kom.
Is daar Suid-Afrikaanse winkels of produkte naby julle beskikbaar? Het julle al professionele diensverskaffers gevind wat Afrikaans kan praat – soos dokters, prokureurs of selfs onderwysers?
Daar is ’n paar Suid-Afrikaanse winkels en produkte beskikbaar, maar mens moet soms kreatief raak! Ons waardeer dit elke keer as ons iets soos biltong of Ouma-beskuit kan kry. Afrikaanssprekende professionele mense is nie altyd maklik om te vind nie, maar daar is beslis gemeenskappe en netwerke waar mens kan aansluit. Kanadese kos is ook regtig lekker!

Wat sou jy julle emigrasiehoofstuk noem?
In die tussenruimte
Wat sou julle sê is die grootste verandering in julself sedert julle geëmigreer het?
Ons is meer kwesbaar, maar ook meer vasberade. Ons leer om weer van voor af te begin – en om trots te wees op elke klein stap vorentoe.
Raad vir ander
Verwag dat die eerste paar maande emosioneel sal wees. Jy kan opgewonde én hartseer op dieselfde tyd voel – en dit is normaal. Gee jouself tyd. Vier elke oorwinning. En onthou: dit is net die begin van ’n baie groter storie.
Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.



















