Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Janene Magson wat saam met haar man in Australië woon.
Hallo Janene, dit is heerlik om met jou te gesels!
Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik, en hoekom het julle besluit om juis na Australië te emigreer?
Ek het grootgeword in die Wes-Transvaal (Noordwes), en my familie woon steeds in die Lichtenburg-, Zeerust- en Mareetsane-omgewing. My man is van Pretoria en het sy hele lewe daar gewoon. In 2008 het ons na Nieu-Seeland verhuis, Australië was nooit deel van die plan nie. In 2022 het ons dogter egter na Brisbane getrek. Toe ons haar in 2023 besoek, het my man kort ná landing gesê: “Ons trek.” Ses maande later het ek werk gekry, ons huis in Nieu-Seeland verkoop en ons hier gevestig, saam met ons drie katte.
Vertel ons meer van jou gesin.
Ons is vier – ek, my man, ’n seun en ’n dogter. Ons seun (31) woon nog in Nieu-Seeland, maar is onlangs hier in Brisbane getroud met ’n Filippynse meisie. Ons hoop hulle trek binnekort ook oor. Ons dogter (29) werk en bly in Brisbane. Ons het drie katte uit Nieu-Seeland saamgebring, maar een, Didi, is helaas in Februarie oorlede.
Hoe het julle julself in die gemeenskap gevestig?
Ons was drie gesinne wat saam van Suid-Afrika na Nieu-Seeland verhuis het, wat die aanpassing baie makliker gemaak het. Toe ons Australië toe trek, het vriende van ons op dieselfde tyd oorgekom. Ons het ook reeds kennisse hier gehad en is deel van ’n kampgroep, Camping with an Accent, en ook ons Instagram-blad waar ons ons kamplewe deel.
Hoe vergelyk die verblyfopsies met dié in Suid-Afrika?
Ons het ons huis in Nieu-Seeland verkoop en hier in Brisbane weer gekoop. Dit klink dalk duur, maar relatief tot die salarisse is dit nie buitensporig nie – veral omdat ons met Nieu-Seelandse dollar oorgekom het, nie met rande nie.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?
Ons was 17 jaar laas in Suid-Afrika. Op hierdie stadium mis ons niks behalwe familie en ons hond nie. Hy was my man se polisiehond en het later van ouderdom gesterf. Ek mis ook die reuk van grasdakke en teerpale in wildtuine.
Kry julle kans om te reis?
In Nieu-Seeland het ons albei eilande deurkruis. Australië is baie groter, so ons reis en kamp tans net binne ’n radius van sowat twee uur van ons huis af – ten minste een keer per maand.
Praat julle nog Afrikaans met mekaar?
Beslis. Ons praat Afrikaans by die huis en selfs by die werk. My kollega en ek het gister twee ure lank net Afrikaans gepraat! Die kinders mag nie met ons Engels praat nie, tensy hulle lewensmaats daar is. Ons vriendekring is ook Afrikaans, en ons hou vas aan ons tradisies. Ons eet en gebruik steeds Suid-Afrikaanse produkte soos mieliepap, ProNutro, vetkoek, Koo-tamatiesous, Oros en natuurlik beskuit – van Ouma tot Tennis- en grondboontjiebotterbeskuit. En braai is vir my man ’n moet – ons braai elke naweek en Donderdae kom ons dogter van die stad af om saam te braai.
Wat was die grootste verandering in jouself sedert julle verhuis het?
Ek het geleer om op te hou om pryse te vergelyk, dit maak mens mal. Dinge lyk duur, maar as jy in Australiese dollar verdien, is dit redelik.
Het jy raad vir mense wat oorweeg om te emigreer?
As jy dit kan bekostig, begin eerder nuut. Dit spaar baie moeite en geld. Bring net jou eie goed oor as dit sin maak. Kwaliteit bly belangrik – “buy quality once and cheap twice or more” is waar. Suid-Afrikaanse produkte is steeds van uitstekende gehalte. Ons het met hierdie tweede emigrasie ons meubels van Nieu-Seeland af oorgebring, en dit het ons gehelp om makliker te vestig. Al kamp jy die eerste ruk in jou huis, maak dit die aanpassing soveel makliker – veral vir kinders.
Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Australië
Deel op
"*" indicates required fields
Nuutste artikels


























